SINNELOSE VREES – LAAT JULLE HART NIE ONTSTELD WORD NIE, GLO IN GOD, GLO OOK IN MY

SINNELOSE VREES – LAAT JULLE HART NIE ONTSTELD WORD NIE; GLO IN GOD, GLO OOK IN MY

Sakkie Parsons

Ek wil net aan die begin van hierdie skrywe aan jou noem, dat as dit lyk of ek kwaad is, dit is nie so nie maar ek raak net ‘n bietjie ontsteld as mense dinge verkondig wat mense, soos die persoon wat hierdie skrywe aan my gestuur het, wat werklik probeer om ons Here in gees en waarheid te dien, met drek te verwar.

Ek het ‘n skrywe van iemand af ontvang, waar die volgende onder andere in voorkom.  Ek het net om die persoon se privaatheid te beskerm, hier en daar ‘n verandering aangebring maar ek wys die veranderings uit deur dit uit te lig.

“Ons as familie was ontnugterde deur die DVD.  Ons kon nie glo hoeveel van die dinge daar bestaan nie en hoe God voel wanneer ons die goed in ons huise inbring.  My aandag is weereens gevestig op die Skrif wat sê:
Jy mag geen afgode voor my aangesig HE nie, en jy hoef hulle nie noodwendig te aanbid nie, hy moet hulle net hê.
Ek kon nie glo hoeveel Spiderman en Badman klere my kinders het nie.
Selfs gesien dat op een van Jannie se onderbroekies wat in die Spiderman
pakkie was staan WARNING – I WILL NOT LISTEN.  Om nie eens te praat van
die storieboekies op hulle rakke nie.  Ek moet nou nog na hulle speelgoed kyk.
Graag wil ek ook jou opinie oor hierdie saak hê.  Ek het die inligting van die DVD met van  my vriende en kennisse gedeel.  Van hulle dink ek is van die pad af.”

Ek het ook ‘n ander skrywe ontvang wat weer gedeel het met ‘n advertensie oor die 2010 sokker Wêreldbeker.
Ek wil begin deur te sê, wat die advertensie oor die sokker wêreld beker aanbetref, het ek natuurlik nie die advertensie gesien nie maar ek het dat my vrou vir my die advertensie verduidelik.
In die advertensie dra iemand die gees van Afrika in ‘n kalbassie van Kaïro tot in die Kaap.
Die probleem vir die persoon met die advertensie, is skynbaar die gees van Afrika wat in die kalbassie sou wees.

Jy weet, satan is slinks maar as ek die Woord bestudeer, is hy nou nie juis een van die slimstes wat ek al van gehoor het nie.
As hy werklik baie slim gewees het, sou hy byvoorbeeld nie so ‘n fatale ding gedoen het, om te probeer om die Hemel oor te neem nie.
Ook sou hy nie so ‘n nuttelose ding gedoen het, as om te probeer om God in die vlees in die woestyn te laat sondig het nie.
Daarom gebruik hy maar altyd dieselfde ou “tricks” om God se kinders te vang.
Dit blyk hy het ook nie eintlik nuwe ‘tricks’ nodig nie want, so lyk dit vir my, hy kom elke keer met sy ou ‘tricks’ weg. 
In dié geval sinnelose vrees.

Terug by die advertensie.
‘n Persoon het vir iemand wat pos van my ontvang ‘n skrywe gestuur, waarin die volgende onder andere voorkom:
“Ek is so ontsteld, want die gees van Afrika, myns insiens, bring net armoede, oorlog, moord, verkragting en korrupsie.”

Dit is vir my amper ondenkbaar, dat ‘n kind van God ontsteld kan wees oor ‘n nuttelose kalbassie, wat op die ergste, met bedompige lug gevul kan wees maar kyk nou hoe word die persoon deur satan verblind en mislei.

Die persoon skryf byvoorbeeld:
“die gees van Afrika, myns insiens, bring net armoede, oorlog, moord, verkragting en korrupsie.”

Van hoeveel vastelande op aarde weet jy, waar daar buiten dalk, en ek benadruk oorlog, nie al die gruwels wat die persoon noem, voorkom nie?

Kom ons trek die kring kleiner:
Hoeveel volke op aarde ken jy, waar daar buiten dalk vir oorlog, nie een van genoemde gruwels voorkom nie?
Kom ons trek die kring nog kleiner.
Hoeveel stede op aarde ken jy waar daar, buiten dalk vir oorlog, nie een van genoemde gruwels voorkom nie?
Kom ons trek die kring nog kleiner.
Hoeveel dorpe of sommer dorpies op aarde ken jy waar, buiten dalk vir oorlog, nie al of dan die meeste van bogenoemde gruwels voorkom nie en satan kry dit reg, dat hierdie persoon, daardie gees wat oor die hele teenswoordige wêreld voorkom, net aan Afrika toedig en ontsteld raak oor ‘n leë nuttelose kalbassie.
Nou het satan dit reggekry om ten minste een kind van God te ontstel.

Nou wil ek net iets sê oor die ander skrywe wat ek ontvang het.
Die persoon skryf onder andere:
“Jy mag geen afgode voor my aangesig HE nie, en jy hoef hulle nie noodwendig te aanbid nie, hy moet hulle net hê.”
Ek kon nie glo hoeveel Spiderman en Badman klere my kinders het nie.”

Mense gee allerlei kragte en magte, of wat ook al aan dinge soos, Spiderman, Badman, Kersfeesvader pakke en nog ‘n klomp ander ding.  Selfs my kersboom was al by geleentheid, my afgod genoem.

Net om jou te wys hoe vang satan ons soms met sinnelose, nuttelose vrees.
Die een persoon hier bo skryf.
“Selfs gesien dat op een van Jannie se onderbroekies wat in die Spiderman
pakkie was staan WARNING – I WILL NOT LISTEN.”

Ek weet nie of Jannie groot genoeg is om te lees nie.  As hy groot genoeg is om te lees, weet ek nie of hy groot genoeg is om Engels te kan lees nie.  As hy groot genoeg is om Engels te lees, is hy dalk al klaar te groot om die onderbroekie te dra.  Al kan hy nog die ou onderbroekie dra, hoeveel klein seuntjies ken jy wat die kleinskrif op ‘n onderbroekie se etiket gaan lees.
Die enigste persoon in daardie huishouding wat waarskynlik daardie etiket ooit sou gelees het was die ma van Jannie en ook maar net omdat iemand anders wat die Evangelie moes verkondig, genoeg oortollige tyd gehad het om “Wolf! Wolf!” te skreeu, toe daar nie eens ‘n dapper, of enige ander soort muis op die horison gewees het nie.
Hoekom dink ek nou aan daardie gesegde:
“Ledigheid is die duiwel se oorkussing” en ek praat nie van Jannie se ma nie maar ek wonder wat wil mense wat sulke bangmaakstories versprei eintlik bereik.  Wat hulle wel bereik, is om saam met satan mense se aandag af te trek van die ware Evangelie en waaroor dit eintlik gaan.
Ek noem hier, net een, wat vir my in hierdie geval ‘n ooglopende voorbeeld is.

Die satan sê waarskynlik by homself:
“Laat hulle by hulle kinders konsentreer op dinge soos, Spiderman, Badman, Kersfeesvaderpakke, kersbome en leë kalbassies, wat nie in hulle God se Woord genoem word nie.  Dan kom hulle nie agter hoe geniet hulle die egbreuk, prostitusie, geweld, korrupsie, leuentaal, moord, die lasterlike gebruik van hulle Here se Naam en al die ander gemors op hulle TV , wat in hulle God se Woord wel genoem word, waaraan hulle nie deel behoort te hê nie maar waarna hulle aand vir aand sit en kyk.  Met ander woorde, hoe hulle éintlik vir hulle kinders die bose voorbeeld stel nie.”

Die sinnetjie op die etiket, laat my ook dink.
Jare gelede het ‘n man deur die land getoer met ‘n masjien/platespeler, wat die destydse plate agterste voor kon speel en dan was daar op sommige plate, sogenaamde boodskappe, soortgelyk aan hierdie boodskap op die etiket wat vir my gestuur was.
Hoe absoluut nutteloos was die boodskap, as daar een op die plaat gewees het.  Want hoeveel mense kon ‘n plaat agterstevoor speel?
Ek dink daardie man het die enigste masjien/platespeler in die wêreld gehad wat dit kon doen.
Toe sê iemand, dat jou brein dit sonder dat jy dit weet doen, as jy na die plaat luister.
Al wat ek kan sê, is dat ek die meeste van die woorde van die plaat nie eens kon verstaan as die plaat normaal gespeel word nie, so my brein sou maar ‘n harde tyd gehad het, al het ek ‘n kontrepsie gehad wat die plaat agterstevoor kon speel.

Ten slotte nog net dit:
Hoe kyk ek ‘n kind van God, na ‘n vloek, afgod of enige iets in hierdie lyn?

GAL 4:7-9 
7  Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.
8  Maar destyds, toe julle God nie geken het nie, het julle dié gedien wat van nature geen gode is nie;
9  maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien?

Lees die volgende gedeelte, teen die agtergrond van waaroor ek aan jou skryf.

1KOR 8:4  Wat dan die eet van die offervleis aan die afgode betref, weet ons dat ‘n afgod niks in die wêreld is nie, (tensy jy, wat jouself aanbetref  iets van hom maak natuurlik) en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een.

1KOR 8:5-7 
5 Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is—soos daar baie gode en baie here is—
6  tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.
7  Die kennis is egter nie in almal nie; maar sommige, nog altyd bewus van die afgod, eet dit as ‘n afgodsoffer, en hulle gewete, wat swak is, word besoedel.

Ek dink so aan dinge soos, Spiderman, Badman, Kersfeesvader pakke, kersbome en leë kalbassies en ek onthou wat ons Here in Sy Woord vir ons laat skryf het:

HAB 2:18  Wat baat ‘n gesnede beeld dat sy maker dit reggekap het, ‘n gegote beeld, wat ‘n leuenleraar is, dat die maker op sy eie maaksel vertrou, deur stomme afgode te maak?
HAB 2:19  Wee hom wat vir ‘n stuk hout sê: Word wakker! vir ‘n dooie klip: Ontwaak! Kan hy ‘n mens leer? Kyk, hy is oorgetrek met goud en silwer, en daar is géén gees in sy binneste nie!

‘n Mens sou HAB 2:19 ook so kan verstaan, in elk geval dit is hoe ek dit in hierdie geval byvoorbeeld verstaan.
Dat, wee die persoon wat beweer dat enige beeld of voorwerp soos, Spiderman, Badman, Kersfeesvaderpakke, kersbome en leë kalbassies, ‘n gees of bonatuurlike krag van watter aard ook al het.
‘n Nuwer vertaling stel HAB 2:19 so:

HAB 2:19 Dit sal nog sleg gaan met julle wat vir ’n dooie beeld van hout of klip sê:
“Word wakker!” of “Staan op!”
Kan so ’n beeld miskien vir julle sê wat julle moet doen?
Al is hulle ook met goud en silwer oorgetrek, is daar tog nie werklik lewe in hulle nie.

Laat jou kinders speel terwyl jy al die tyd deur jou voorbeeld aanhoudend vir hulle die wáre boodskap preek.

As iets in hulle speelgoed vir jou verdag voorkom, bid ons Here se seën daaroor en ek sê vir jou, daar is nie ‘n mag of krag wat nie van ons Here af is nie, wat sterk genoeg is om die seën wat jy gevra het kan ignoreer nie.

Vir die mense wat so maklik deur DVD’s en sogenaamde bedienings, vrees versprei, deur geeste of kragte of so iets aan dinge te gee, wil ek maar net teen die agtergrond van HAB 2:18/19 sê:
Hou op om sinnelose vrees te versprei en verkondig die Evangelie.  

Ek wil ook vir die mense wat deur DVD’s en ander dinge vrees wil versprei omdat hulle, so lyk dit vir my, met die soort vrese rondloop, net herinner aan Jesus se Woorde aan Sy volgelinge, waarvan ek een is:
Ek gebruik hier ‘n nuwer en na my mening ‘n beter vertaling:

MAT 10:27-31
27 Wat Ek vir julle in die donker gesê het, en wat Ek vir julle in die oor gefluister het, moet julle van die huise se dakke af uitskree.
28 Moenie bang wees vir die mense wat wel julle liggaam kan doodmaak maar die siel nie kan skade aandoen nie. Julle moet liewer ontsag hê vir God. (nie vir al hierdie ander sinnelose gedagtes en mens gemaakte goeters wat vrees verkondig nie) Hy het die mag om ’n mens se liggaam en siel albei in die hel te vernietig.
29 Julle weet hoe min ’n mossie werd is. ’n Mens kan twee van hulle vir een geldstukkie koop. En tog kan nie een van hulle op die grond val as julle Vader dit nie toelaat nie.
30 Hy weet selfs presies hoeveel hare daar op julle kop is.
31 Moet dan nie bang wees nie, want julle is baie meer werd as ’n hele klomp mossies.

Met ons Here se Gees in my, dien ek ook net Hom en aanvaar ek ook geen ander gees  se gesag of mag oor my of enige iets wat ek besit nie.

JHN 14:1  Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.

Groete,
Sakkie