SO ‘N IETSIE OOR DIE PASTOOR

SO ‘N IETSIE OOR DIE PASTOOR

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my, kom ons noem die persoon Frances en vra of ek nie ‘n bietjie kan praat oor die pligte van ‘n pastoor nie.

Dan vertel Frances my, dat hulle ‘n klein gemeente is, minder as 50 mense en dat die pastoor baie werk in die gemeenskap doen, vir ekstra inkomste om ordentlik vir sy huis te sorg, so lyk dit vir my.

Voor ek verder gaan –
Is dit nie wonderlik, dat daar nog  herders is, wat saam met sy gesin, bereid is om ‘n herder vir so ‘n klein kuddetjie te gaan wees nie?

Terug by Frances se skrywe.
Frances vertel dan vir my, dat hulle die pastoor ‘n groot verhoging gegee het maar dat hy nog al hierdie ander dinge in die gemeenskap doen en nie by sy gemeentelede uitkom nie.

Ek dink met laasgenoemde, bedoel Frances, dat die pastoor nie gereeld die gemeente besoek nie en nou is van die gemeentelede daaroor ongelukkig.
Ek moet net hier noem, dat voordat ek hierdie dagstukkie geskryf het, ek vir Frances gevra het, hoe die pastoor se salaris vergelyk met die van Frances en die ander ouderlinge wat die pastoor ‘n “groot” verhoging gegee het maar na weke het ek nie ‘n antwoord ontvang nie.

Dit is dan hoe ek nog altyd in my eie lewe hierdie onderwerp gesien en in my eie lewe uitgelewe het:
Ek was by een gemeente 5 jaar jeugleier en die twee of drie keer wat die pastoor in my huis gewees het, was dit om iets in verband met die gemeente se sake te bespreek.
Ek het in my lewe onder ‘n hele paar pastore vir ons Here gewerk en vir hulle almal het ek van meet af laat verstaan, dat ek dankbaar vir elke huisbesoek sal wees maar dat ek nooit maar nooit sal aanstoot neem, as hulle nie by my uitkom nie.

Nou eers  in baie, baie kort hoe ek ‘n pastoor en sy pligte sien.
Eerstens onthou ek dat ‘n pastoor ‘n Herder is en as sulks toesig oor die gemeente, wat die kudde van ons Here is,  moet hou en persoonlik dink ek dat om by geestelike volwasse Christene te gaan sit en tee drink, werklik ‘n baie, baie klein deeltjie van hierdie toesig is.

1PET 5:2-3  As herders moet julle die kudde van God goed oppas;  hulle is aan julle toevertrou.  Hou gewillig toesig oor hulle, nie omdat julle gedwing word nie, maar omdat julle wil doen wat God wil hê;  nie om julleself finansieel te verryk nie, maar omdat julle graag in God se diens staan. 3Moenie baasspeel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar stel die voorbeeld vir die kudde.

Ongelukkig na my mening is daar pastore, jy vind hulle gewoonlik die meeste by hierdie, wat ek sommer eenman kerke noem, wat nie werklik as herders nie maar soos diktators hulle pastorale voorreg uitoefen, wat sommer na my mening, boos is.

1PET 5:3  Moenie baasspeel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar stel die voorbeeld vir die kudde.

Dan, so glo ek, sal ‘n werklik goeie herder sorg dat hy baie goed vertroud met die Woord is en sy gemeente streng volgens die Woord lei en altyd met die Woord as beginpunt mense reghelp waar dit nodig is.

TIT 1:9  Hy moet ‘n sterk en standvastige geloof hê in die betroubare boodskap wat hy geleer is;  dan sal hy in staat wees om ander met die regte onderrig te bemoedig en dié wat dit teenstaan, te wys waar hulle verkeerd is.

Ek het gesê, dat ‘n pastoor ‘n herder is maar hy is ook net soos al die ander ouderlinge in die gemeente, net ‘n ouderling maar ‘n ouderling wat voorloop.
Hy het verseker nie, soos in sommige sogenaamde Christelike kerke amper
bonatuurlike magte, soos om sonde te vergewe en die Heilige Gees uit te deel, asof die Heilige Gees iets en nie God is nie.

Dit gesê, behoort ‘n ouderling wat die amp van pastoor in die gemeente het, ook met die nodige respek behandel te word.

1TIM 5:17 Ouderlinge wat hulle werk goed doen, moet ook goed betaal word, veral dié wat hard werk in prediking én lering. 

Onthou ook, dat ek skryf hierdie skrywe, al die tyd met Frances se e-pos aan my in die agterkop en met dit in gedagte net die volgende paar opmerkings:

Baie manne in die kerkraad, kyk na die pastoor se salaris en sê, dat dit goed vergelyk met hulle salarisse  maar dan vergeet hulle, dat om dit so te stel, die pastoor se salaris, sy vrou se dienste ook dek.  Want daar word deur die gemeente van haar verwag om sonder, betaling hierdie, daardie én die ander te doen, want sy is die pastoor se vrou en hulle betaal hom mos ‘n salaris.
Terwyl die manne in die raad wat nou dink, dat die pastoor se salaris nou goed met hulle sin vergelyk, se maatskappye nie van hulle eggenotes verwag om, hierdie, daardie en die ander sonder vergoeding in hulle maatskappy te doen nie.

Nog iets wat die manne wat so trots is op die verhoging wat hulle die pastoor gegee het kan onthou, is dat die pastoor anders as hulle nie ‘n 8 tot 5 kantoor ure het nie, maar dat hy lang ure werk en wanneer hy nie werk nie, hy, jy kan maar sê, in elk geval op bystand is.

Nou wil ek oor nog iets praat wat altyd vir my persoonlik in sommige gemeentelede wat hulle self uitgee as volwasse in die gees, se optrede moeilik is om te verstaan.  Dit het in Frances se skrywe aan my ook so tussen die lyne na vore gekom.

Waarom sou ‘n geestelike volwasse mens, wat nie siek is nie, wat nie ‘n geestelike probleem het nie en nie die pastoor wil sien oor een of ander saak wat die gemeente aanbetref nie, sleg voel, as die pastoor nie by hom in die afgelope maand of 2, selfs 3 kom kuier het nie?

Dit is nou die pastoor, wat self ‘n gesin het, lang ure werk en met baie probleme van baie van die kudde te doen het en dan het ek nog nie eens gepraat van die nuwe bekeerlinge en die nuwe gesinne in die gemeente wat regtig aandag nodig het nie.

Waarom sal ek kwaad, of om dit lig uit te druk, ongelukkig voel, as die pastoor nie vir my kom kuier nie?  Ek wat veronderstel is om geestelik volwasse te wees en self van my vrye tyd behoort te gebruik om ander gemeentelede, nuwe gemeentelede, swak gemeentelede, en siek gemeentelede te besoek.

Ek sou dink, dat die regte manier om na hierdie probleem te kyk is as volg:
Ek behoort nie te kla of ongelukkig te voel, as die pastoor nie gereeld by my kom kuier nie maar ek moet as ek hoor van ‘n suster of broer wat kla dat die pastoor maar min by haar of hom uit kom, ‘n punt daarvan te maak om vir die persoon te gaan kuier en haar of hom dan geestelik versterk.

As die pastoor dan uiteindelik eendag by my ook uitkom, hoe heerlik!  Maak ek dit sommer ‘n heerlike kuier, omdat ek weet hy lang ure werk en satan dit nie vir hom ooit gaan maklik maak nie en hy dalk nie weer gou by my gaan uitkom nie.

Ten slotte nog dit –
As jy ‘n ware godsman as pastoor het, dank God elke dag.  Want soos ons nader na die einde toe beweeg, word hulle ook al hoe minder.
Waardeer hom en buiten vir liefde, toon aan hom die nodige respek.

Die Ou Vertaling stel dit so:

1TIM 5:17  Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer.

Want as ek hoor wat deesdae van sommige kansels af verkondig word, wonder ek ook al hoe meer oor ons Here se woorde –

LUK 18:8 … maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?
                 
Groete
Sakkie