SODAT JULLE OOK KAN WEES WAAR EK IS

SODAT JULLE OOK KAN WEES WAAR EK IS

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra my, wat hierop neergekom het:

“Waarom moet dit met my, kind van God, so bitterlik moeilik gaan?”

So met ‘n glimlag:

Ek gesels eendag met ‘n pastoor waar ek opgetree het, wat al self deur ‘n moeilike toestand of wat in sy lewe moes worstel en toe sê hy vir my:

“Sakkie, Christen wees is nie vir sissies nie.”

Ja, ek kyk so na jou en my eie omstandighede, en ek kom tot die gevolgtrekking dat inderdaad: “Christen wees is nie vir sissies nie.”

Maar dan – jy en ek is Jesus se soldate in Sy koninkryk, wat Hy, jy kan maar sê, met die hand uitgesoek het, en as jy in ‘n oorlog soldate uitsoek om iets spesiaal te doen, soek jy iemand wat die “punch” sal kan vat.

Na alles het Jesus dit tog vir ons, Sy volgelinge, van meet af gesê dat, om Hom te volg, nou nie maanskyn en rose gaan wees nie:

JOH 16:33 “Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin."

Onthou jy ook, dat Jesus by geleentheid gesê het:

MAT 10:38 “As jy weier om jou kruis op jou skouers te neem en My te volg, verdien jy nie om een van my mense te wees nie.”

In die tyd van Jesus, wanneer iemand jou ‘n kruis sien dra het, het hulle geweet dat daar nou nie ‘n maklike pad vir jou voorlê nie. So, as jy jou kruis opneem, met ander woorde, besluit om ‘n volgeling van Jesus te wees, weet jy dat op hierdie aarde, dinge nie vir jou maklik gaan wees nie. Want daar is ‘n satan en hy gaan dit vir jou en my so moeilik as moontlik maak om op die nou pad na die Hemel te bly.

Daar word vertel van ‘n groot evangelis wat eendag na ‘n diens, ‘n uitnodiging gegee het vir mense wat wou, om vir hom versoeke vir gebede neer te skryf en in ‘n houer te plaas by die deur, op hulle pad uit.

Toe hy die versoeke deurgaan om vir die mense te bid, was daar een wat as volg gelees het:

“Pastoor bid vir my, want dit gaan baie goed met my en my besigheid.”

Daar word ook die volgende verhaal vertel:

Terwyl ‘n boer en sy bywoner eendag staan en gesels, sê die baie ryk boer vir sy arm
bywoner:

“Piet, man, jy moet ‘n bietjie ondersoek in jou geestelike lewe doen. Ons albei gaan gereeld na dieselfde kerk toe, maar kyk hoe gaan dit met my en kyk hoe gaan dit met jou.  Duidelik is daar iets baie groot met een van ons se geestelike lewens verkeerd.”

Waarop Piet vir die boer, wat ook ‘n baie ywerige jagter is, as volg antwoord:

“Meneer, as u nou gaan jag en u het ‘n lisensie om twee koedoes te skiet en u soek al vir drie dae in die bloedige son, maar u kry niks nie. Dan kom u oor ‘n bult en sien, nie 70 meter van u af nie, staan twee koedoes bymekaar.

Dadelik lê u aan en skiet die een morsdood, maar u mis die ander een, omdat dié natuurlik aan die hardloop gegaan het.

Watter een gaan u verder jag?”

Waarop die boer toe antwoord: “Die een wat ek gemis het natuurlik.”

“Hoekom?” vra Piet, die bywoner, toe aan die boer.

Waarop die boer antwoord: “Omdat die een bok mos klaar dood is.”

Toe sê Piet die bywoner:

“Meneer, u het gesê dat daar iets baie groot met een van ons twee se lewens verkeerd
is en u is reg. Wat satan aanbetref, is u ‘n dooie bok.”

Die rede waarom ons die “hammering” met ‘n glimlag kan verdra en nog in ons liefdevolle Here glo en op Hom vertrou, is omdat ons iets het wat die mense in die wêreld nie het nie:

JOH 14:27 "Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie.”

Ek het nie altyd vreugde soos die wêreld vreugde verstaan in my omstandighede nie, maar ek het altyd vrede, my God se vrede, want ek weet my God is in beheer.

In my groot held Paulus se tyd, was daar op ‘n tyd ‘n klompie mense wie geloop en spog het met watse groot Christene hulle is, en hoe hulle allerlei opofferings ter wille van hulle geloof maak. Paulus noem hulle onder andere die groot meneer Christene.

Dan sê hy dat hy ook nou soos ‘n dwaas gaan praat en dan noem hy wat hy al moes deurmaak en ek deel dit nou weer met jou om te wys, hoe beter jou verhouding met ons Here, hoe feller die aanslae van satan:

2KOR 11:23-27  

23 “Is hulle diensknegte van Christus, ek nog meer – nou praat ek regtig asof ek heeltemal van my verstand af is! Wat harde werk betref, uitermate;
wat tronke betref, uitermate; wat katshoue betref, in die oortreffende trap; in doodsgevare dikwels.
24  Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van 39 houe gekry;
25  drie maal is ek met stokke geslaan, en een keer is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een van daardie kere het ek 'n dag
en 'n nag op die oop see oorleef.
26 Ek was dikwels op reis; in gevare van riviere; van rowers; van my volksgenote; van nie-Jode; gevare in die stad en in verlate gebiede; gevare
op see en gevare onder vals medegelowiges.
27 Ek weet van harde werk en swaarkry, van baie nagte se wakkerbly, van honger en dors; van dikwels sonder kos te moet klaarkom, van koue en sonder
klere wees.”

Maar omdat hy, soos ons, die Gees van ons Here en daarmee saam die vrede van ons Here in hom gehad het, kon hy ook skryf:

2KOR 4:6-9

6 “God het gesê: "Laat daar lig skyn uit die duisternis." So het Hy ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid
van God wat uit die gesig van Jesus Christus straal.
7 Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte (dit is ons sterflike liggame) – die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie.
8  Op elke manier word ons onder druk geplaas, maar ons is nie verpletter nie; ons is verward, maar nie wanhopig nie;
9  ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; platgeslaan, maar nie vernietig nie.”

Hoe heerlik om te weet:

JAK 1:2-4  

2 “My broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees.
3  “Julle weet mos: Wanneer 'n mens se geloof 'n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard.
4  Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle, julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie.”

As dinge my soms wil oorval, onthou ek dat ek ‘n kind van God is en Hy het laat skryf en ek het dit my leuse en oorlogskreet in die lewe gemaak:

ROM 8:28  “En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens Sy doel vir hulle lewe.”

Daarom stap ek die pad wat ek moet stap deur hierdie lewe en ek klim die bulte wat ek moet klim en ek klim die berge wat ek moet klim voor my, want ek weet met ‘n groot, heerlike sekerheid as ek aan die einde van my reis deur hierdie lewe op aarde kom, daar vir my ‘n wonderlike blyplek wag waar ek vir ewig volmaak, in ons Here se volmaaktheid gaan woon:

2KOR 5:1 “Ons weet dat wanneer ons aardse verblyf, wat net 'n tentwoning is, afgebreek word, ons 'n permanente blyplek by God het, 'n huis wat nie met hande
gebou is nie, maar wat vir altyd in die hemel bestaan.
2KOR 5:2 In hierdie tentwoning swoeg en kreun ons, want ons verlang daarna om ons hemelse woning te betrek.”

Ja! Hoe heerlik vir elke mens wat Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker, om met absolute sekerheid te weet, want ons Here sê dit:

JOH 14:1-3

1 "Moenie ontsteld wees nie. Hou net aan om op God te vertrou en hou ook aan om op My te vertrou.
2  In die huis van My Vader is daar baie kamers. As dit nie só was nie, sou Ek dit aan julle gesê het. Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te
maak.
3 En as Ek gegaan en vir julle plek ingerig het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

Groete,
Sakkie