SONDEBELYDENIS DEEL 1 VAN 3

SONDEBELYDENIS – DEEL 1 van 3

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Ek sien elke keer die verse in die Bybel dat as mens jou sondes bely dan sal jy vergewe word. Aan wie moet jy jou sondes bely? Sekerlik weet God watter sondes ons pleeg? Ek wonder maar net oor diegene wie seergemaak kan word as sekere sondes bely word aan hulle. Ek wil verseker nie weet as my vrou ontrou aan my was nie want dit sal my net seermaak as ek dit moet weet. Nog minder wil ek weet of 'n geliefde gesteel het van my of enige ander mens. Dit sal die verhouding skade aandoen want jy sal die persoon nie meer vertrou naby jou besittings nie. Ek het maar net gewonder oor wie presies aan bely moet word en hoop jy kan bietjie lig werp.“

Hier is dan hoe ek hierdie saak sien. Ek wil begin om dan ter inleiding, in hierdie eerste van drie gedagtes uit die Woord, eers vir jou te wys hoe ons Here, om dit so te stel, oor jou voel en hoe kosbaar jy vir Hom is. Jy, aan en oor wie ek nou gaan skryf.

Want onthou, ek kan net skryf oor hoe ek uit die Woord sien dat dit vir Jesus se volgelinge werk.

Om mee te begin, en hoe absoluut wonderlik heerlik om dit te weet – Elke mens wat Jesus Christus werklik in haar/sy hart aangeneem het, as Verlosser en Saligmaker en in hierdie verhoudingstoestand deur haar/sy lewe gaan tot in die graf, het hierdie versekering:
Al my sonde wat ek ooit gedoen het, nou nog doen, al wil ek dit nie nou meer doen nie, en al my sonde wat ek nog gaan doen, al wou ek nie werklik in my hart dit doen nie, het Jesus op Golgota op Hom geneem en het Hy met Sy lewe aan die kruis betaal, sodat ek vlekkeloos die Hemel kan ingaan:

JES 53:5  Hy is geslaan en gepynig ter wille van ons sondes. Hy is gestraf sodat ons in vrede kan leef. Hy is geslaan sodat ons gesond kan word.
JES 53:6  Almal van ons het weggedwaal soos ’n klomp skape.  Ons het ons eie pad gevolg.  En toe het die Here ons almal se skuld en sondes op hom laat neerkom.

Met hoeveel heerlike vrede van ons Here gaan ons nie deur die lewe nie! Hoe heerlik om te weet en dit selfs soms met trane van gelukkigheid in ons harte te kan uitjubel!

ROM 8:1 “Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem.
ROM 8:2 Die lewegewende Gees is so magtig dat Hy jou deur Christus Jesus bevry het van die greep van die sonde wat uitloop op die dood.”

Sommer sodat jy dit net gou weer moet lees, deel ek ROM 8:1 ook uit ‘n ouer vertaling met jou.

ROM 8:1  “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”

Kyk net hoe geweldig groot is God se liefde vir die mens –

Omdat God volmaak is, kon net ‘n volmaakte offer ons van die hel red en in die hele heelal, was daar nét Éen wat aan daardie vereiste kon voldoen en dit was Jesus. Toe stap Jesus Golgota toe met daardie oneindige liefde van God in Sy hart om vir ons geoffer te word.

Daarom is dit vir die ware kind van God net eenvoudig nie moontlik om soos die mense in die wêreld te lewe, of op te tree nie, gewoon omdat ons in werklikheid nie van hierdie wêreld is nie. Ons is nog steeds in hierdie wêreld, maar wat ons Here aanbetref, is ons verseker nie meer van hierdie wêreld nie.

Kyk wat sê ons Here van die ware kind van God, sover dit hierdie wêreld aanbetref waarin ons lewe:

JOH 17:14  Ek het u boodskap aan hulle oorgedra, maar die wêreld het hulle gehaat omdat hulle nie aan die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort het nie.

Wat is jou en my status in die oë van ons Here, terwyl ons nog in hierdie wêreld is, en terwyl, as ons Here vertoef om te kom, ons liggame ook maar een of ander tyd sonder lewe êrens gaan lê?

Wel, soos wat jy gesien het, sien ons Here ons al klaar nie meer as deel van hierdie wêreld met al sy boosheid nie en daarom sê Hy van Sy ware volgelinge:

JOH 5:24 "Dit verseker Ek julle, wie My woorde hoor en wie vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe.”

Hoe heerlik is dit nie, kind van God, om in die vredevolle wete van dit wat jy nou gelees het, elke dag op te staan en met jou lewe in hierdie wêreld voor te gaan. Daardie heerlike, vredevolle wete is, so glo ek, ook deel van Jesus se vrede in ons harte waarvan Hy praat wat Hy aan ons gegee het:

JOH 14:27  Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.

Jy het nou gesien, hoe lief ons Here jou en my het, en hoe Jesus reeds al ons sonde op Hom geneem het.

In my tweede skrywe oor hierdie onderwerp, deel ek dan met jou waarom ons Here dan steeds van ons verwag om ons sonde teenoor Hom te bely, want die Woord is vol daarvan dat ons, ons sonde teenoor Hom moet bely.

Groete,
Sakkie