SONDEBELYDENIS – DEEL 2 van 3

SONDEBELYDENIS – Deel 2 van 3

Sakkie Parsons

In my eerste skrywe in hierdie kort reeks van drie gedagtes uit die Woord, het ek begin antwoord, oor iemand wat as volg aan my geskryf het:

“Ek sien elke keer die verse in die Bybel dat as mens jou sondes bely dan sal jy vergewe word. Aan wie moet jy jou sondes bely? Sekerlik weet God watter sondes ons pleeg? Ek wonder maar net oor diegene wie seergemaak kan word as sekere sondes bely word aan hulle. Ek wil verseker nie weet as my vrou ontrou aan my was nie want dit sal my net seermaak as ek dit moet weet. Nog minder wil ek weet of 'n geliefde gesteel het van my of enige ander mens. Dit sal die verhouding skade aandoen want jy sal die persoon nie meer vertrou naby jou besittings nie. Ek het maar net gewonder oor wie presies aan bely moet word en hoop jy kan bietjie lig werp.“

In hierdie, die tweede in hierdie kort reeks,  deel ek dan met jou:

Hoekom, as ons Here Jesus reeds al ons skuld op Golgota betaal het, moet ek steeds my sonde, wat ek as mens doen, steeds elke keer, teenoor ons Here bely?

Deel van die persoon wat aan my geskryf het se vraag was dan: “Aan wie moet jy jou sondes bely? Sekerlik weet God watter sondes ons pleeg?”A

Wel, die eerste persoon aan wie ek my sonde volgens die Woord moet bely, is aan ons Here natuurlik en die rede daarvoor, so glo ek, is eerstens terwille van die verhouding tussen my en ons Here.

Ek sien dit so, en in my voorbeeld wat ek gebruik, wil ek vra dat jy gou aan ‘n soort-gelyke voorbeeld in jou eie familie opset sal probeer dink, want dan sal, hoe die verhouding tussen ons en ons Here is, makliker op die voorgrond kom staan in jou hart.

Ek het ‘n stel glase wat vir my kosbare sentimentele waarde het. Nou breek my seun, vir wie ek baie lief is, per ongeluk een van daardie glase, maar hy vertel nie vir my daarvan nie en gaan gooi dit stilletjies in die asblik, maar ek het vanuit die tuin deur die venster gesien hoe die glas breek.

Al het ek my seun baie lief, is daar nou tog ‘n hindernis tussen ons omdat ek weet hy is nie openlik met my nie. Maar, as hy nou na my kom en my vertel wat hy gedoen het, omdat dit hom hinder en hy om verskoning vra, gaan ek met heerlike deernis hom vergewe. En die band tussen ons word net nog sterker.

Nou kom hy egter nie om verskoning vra nie en wraggies, ‘n ruk later breek hy weer een van daardie glase, maar nou is dit nie eintlik vir hom so ‘n groot probleem nie, hy het mos, so dink hy, die eerste keer daarmee weggekom en weer het ek gesien wat hy doen.
Nou word daardie hindernis tussen ons ‘n versperring en omdat daar skynbaar niks gebeur wanneer hy iets verkeerd doen nie, doen hy in die toekoms al hoe makliker iets verkeerd, en die hindernis het met ‘n glimlaggende satan wat toekyk en aanmoedig, ‘n versperring geword wat gegroei het tot ‘n verskansing en gaan later, as my seun op daardie trant aanhou, groei tot wat vir hom ‘n onoorkombare muur gaan word.

Omdat ons Here weet waarheen so ‘n tipe lewe gaan lei, gesels, nee, Hy pleit aanhoudend deur Sy Woord en deur mense, by ons om die verkeerd in ons lewens aanhoudend teenoor Hom te bely – sodat die verhouding tussen Hom en ons nie verswak nie, want Hy weet van alles wat ons doen en Hy weet waarheen dit vir ons gaan lei indien ons aanhou om in daardie verkeerde rigting te beweeg, omdat ons met ons eie wil waarmee Hy ons geskape het, dit so verkies.

Want, as ons nie elke keer ons sonde teenoor Hom in opregtheid bely nie, kom daar ‘n tyd, vanweë ons menslike natuur, dat ons so ver van Hom af beweeg, dat ons nie meer Sy pleitende stem kan hoor nie – en dan volg die verskriklike tragedie dat ons Sy stem ook nie meer wíl hoor nie, omdat sonde nou die norm in ons lewe geword het.

Hoekom sê ek dit is ‘n verskriklike tragedie?

Want dan, ten spyte van dit wat jy in my eerste skrywe gelees het, is ek onherroeplik reeds aan hierdie kant van die graf op pad hel toe, omdat ek ons Here se groot goddelike liefde, as’t ware in Sy gesig teruggooi en dit my nie ‘n bloue duit skeel nie.

Want luister, al is daar mense wat verkondig: “Eenmaal gered, altyd gered.”:

HEB 6:4-6 “Intussen moet julle besef dat dit onmoontlik is om hulle wat een maal deur God verlig is, maar daarna hulle rug op God gedraai het, weer tot ware  inkeer te bring – hulle wat die wonderlikheid van God se geskenk ervaar het, wat die Heilige Gees ontvang het, wat die lieflikheid van God se Woord en die kragte van God se toekomstige wêreld beleef het. As hulle dan tog hulle rug op God draai, kan hulle nie weer tot inkeer gebring word nie, want wat hulleself betref, kruisig hulle die Seun van God opnuut, deurdat hulle Hom verwerp en hulle maak Hom openlik tot 'n bespotting.”

Nou is daar mense, gewoonlik dié wat verkondig dat eenmaal gered is altyd gered, wat sê dat hier nie van wáre bekeerde mense gepraat word nie. Vir hulle sê ek maar net, dat jy nie meer bekeerd kan wees as iemand wat die Heilige Gees ontvang het nie, en as die Woord sê dat jy nie weer tot inkeer gebring kan word nie, sê dit vir my dat daar wel ‘n tyd was toe jy tot inkeer gekom het:

HEB 6:4 “Intussen moet julle besef dat dit onmoontlik is om hulle wat een maal deur God verlig is, maar daarna hulle rug op God gedraai het, weer tot ware inkeer
      te bring – …

‘n Ouer vertaling stel hierdie gedeelte so:

HEB 6:4  “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het,
HEB 6:5  en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld,
HEB 6:6  en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.

Daarom dan ook stel Jesus dit baie duidelik dat deel van ons daaglikse gebed behoort te wees om ons sonde teenoor ons Here te bely.

Want as Jesus ons die Onse Vader gebed as voorbeeld voorhou, van hoe ons moet bid, maak Hy seker dat ons sal kennis neem dat ons ook moet bid:

MAT 6:12 “En vergeef ons, ons sondeskuld soos ons ook ons skuldenaars vergewe het.”

Hoe heerlik om die kommunikasie tussen my en my Here skoon en oop te hou, deur altyd my sonde teenoor Hom te bely en daarom ook die verhouding tussen Hom en my so heerlik skoon en intiem te hou.

As ek so my sonde wat ek gereeld doen, al wil ek dit nie doen nie, in opregtheid teenoor ons Here bely, sal dit ook meebring dat my verhouding en my optrede teenoor die mense om my, eerlik en opreg is. So sal my lewenswyse as kind van God ook teenoor my medemens spreek van integriteit en kan ek deur my lewe en nie net deur my woorde nie, vir ons Here ‘n lig wees:

1JOH1:7  “As ons optrede egter van die lig getuig, leef ons soos Hy wat in die lig is en het ons volledig deel aan mekaar, en die bloed van Jesus, sy Seun,
      maak ons skoon van elke sonde.

1JOH1:8 As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie.

1JOH1:9 As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alles wat verkeerd is.”

Groete,
Sakkie