SOOS DIT ‘N CHRISTEN BETAAM

SOOS DIT ‘N CHRISTEN BETAAM

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra:

“Hoe moet ek optree teenoor ‘n familielid vir wie ek baie lief is, maar wat sondig deur sy/haar optrede, byvoorbeeld as die persoon in my huis is, en nie my Christelike sienswyse in ag wil neem nie?”

Anders gestel:
“Wat moet my gesindheid wees teenoor iemand vir wie ek baie lief is, maar wat sondig en optree deur sy/haar leefwyse teen die Woord van die HERE?”

Hier is dan hoe ekself hierdie saak sien.
Ek wil oor hierdie saak drie dinge sê.

Enige sonde wat ons doen is in die eerste plek sonde teen ons Here.  Daarom het Dawid dan ook met reg, alhoewel sy groot misdaad teen ‘n mens was, teenoor die profeet van ons Here verklaar:

2 SAM 12:13  En Dawid sê vir Natan: Ek het gesondig teen die Here! ..

As ons egter ons sonde opreg teenoor Hom bely, vergewe God ons:

1JOH 1:9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Ek kan nie dink dat my sonde wat ek doen niemand seermaak nie en dit so probeer regverdig nie.  Om ‘n voorbeeld te noem, soos iemand wat na pornografie kyk en dink hy/sy kom niemand te na nie.  Of om te steel en te dink niemand sal dit eers agterkom nie. Sonde is verwerping of verdraaiing van GOD se reëls en voorskrifte en om in opstand te kom teen Sy Woord en Gesag – en dus sondig ons teen HOM in die eerste plek.
 
Ek moet HOM liefhê bo myself en dus voortdurend met Sy hulp my eie sondige natuur kruisig en Hom volg.
Hierby wil ek ook net noem dat niemand sonder sonde is nie – maar dat die wáre kind van God dadelik berou sal hê en Hom om vergifnis sal vra as hy/sy sonde gedoen het en ons Here vra vir totale verlossing daarvan en dan Sy vryspraak daarvoor met dankbaarheid te aanvaar.

1 KORINTIËRS 6:9-11
9-10 Besef julle dan nie dat mense wat ’n sondige lewe lei, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie?
Moenie julleself mislei bluf (mislei) nie.
Mense wat ’n onsedelike lewe lei, afgodsdienaars, egbrekers, manlike prostitute en die mans wat met hulle omgaan, diewe, gierigaards, drinkers, kwaadpraters, swendelaars – nie een van hierdie mense sal deel kry aan die koninkryk van God nie.
11 Daar was ’n tyd toe party van julle presies so was, maar nou is julle sonde afgewas en God het julle aan Homself toegewy. Julle is vrygespreekte mense op grond van wat die Here Jesus Christus en die Heilige Gees van God vir julle gedoen het.

HEB 4:13 En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.

Daar kom ook ‘n tyd soos ek die Woord verstaan, dat as ek nie wil luister nie, en bly volhard in die sonde, gaan ek deur my manier van lewe myself versmoor, of verdrink in die ekskrement van hierdie wêreld.

HEB 3:12-14
12 Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle 'n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie.
13 Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.
14 Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou;

Dit gesê, moet ek in die tweede plek onthou, dat een sonde by ons Here nie minder gruwelik of walglik is as ‘n ander sondige praktyk nie. 

ROM 1:18-32
18 Van sy hemelse woonplek af maak God sy straf bekend oor die mense wat goddeloosheid en ongeregtigheid bedryf en so die waarheid onderdruk.
19  In hulle harte het hulle immers ’n duidelike besef van God, want God het dit aan hulle bekendgemaak.
20 Want hulle kan sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en sy Goddelikheid, reeds van die skepping van die wêreld af duidelik uit sy handewerk waarneem. Daarom kan hulle hulleself nie verontskuldig nie.
21 Ja, hulle het ’n Godsbesef gehad, maar tog het hulle Hom nie as God geëer of aan Hom dankbaarheid betoon nie. Inteendeel, hulle het vir hulleself allerlei belaglike voorstellings oor ’n godheid begin maak en hulle verdwaasde harte het heeltemal toegeslaan.
22 Alhoewel hulle daarop aanspraak maak dat hulle danig slim is, het hulle in werklikheid heeltemal in dwaasheid verval – in so ’n mate
23 dat hulle die verering van die onsterflike God met afgode vervang het wat sterflike mense en voëls en diere en slange uitbeeld.
24 Om hierdie rede het God hulle aan hulle eie sondige hartstogte oorgegee, met die gevolg dat hulle onsedelikheid begin bedryf het deur oor en weer immorele praktyke met mekaar se liggame te beoefen.
25 Hulle het immers so ver gegaan om die ware kennis van God te verkwansel vir die leuen en God se handewerk te vereer en te dien in plaas van die Skepper self – dié God wat vir ewig geprys behoort te word. Amen!
26 Dit is daarom dat God hulle oorgegee het (God het hulle daaraan oorgegee, want dit was wat hulle verkies het) aan hulle eie skandelike drifte. Selfs die vroue het die natuurlike seksuele verkeer verruil vir wat teen die natuur is, naamlik dié met ander vroue.
27 Op dieselfde manier het die mans die natuurlike manier (uit hulle eie keuse) om seksueel te verkeer prysgegee en ’n brandende begeerte
na mekaar begin koester. Mans het skandelike dade met mekaar bedryf. Gevolglik moes hulle in hulle eie persoon die duur prys vir hulle perversiteit betaal.
28 Inderdaad, omdat hulle geweier het om aan God die erkenning te gee wat Hy verdien, het Hy hulle oorgegee aan hulle skewe ingesteldheid. Gevolglik doen hulle allerlei onbehoorlike dinge.
29 Hulle lewe word gekenmerk deur elke vorm van ongeregtigheid, boosheid, grypsug, kwaadwilligheid; hulle is vol jaloesie, moord, twisgierigheid, skelmstreke, slegte bedoelings en skinderpraatjies.
30 Hulle steek kwaad, haat God en is arrogant, hooghartig en verwaand; hulle is vindingryk om slegte dinge te bedink en ongehoorsaam aan hulle ouers;
31 jy kan nie met hulle redeneer nie en ook nie op hulle reken nie; hulle is liefdeloos en sonder ontferming vir ander mense.
32 Hulle is bewus van God se bepaling dat mense wat met sulke praktyke besig is, die dood verdien. Tog is hulle nie net self aktief daarmee besig nie; hulle spoor ook nog ander aan wat daarmee besig is.

Derdens:
Om terug te keer na die vraag:
“Wat moet my gesindheid wees teenoor iemand vir wie ek baie lief is wat verkies om in sonde te bly leef?”

Ek moet vol liefde vir die persoon wees, soos dit ‘n Christen betaam.
Onthou, dit is nie ‘n sonde om ‘n kleptomaan of ‘n geneigdheid tot verkragting of wreedheid te hê, of soos een van die voorbeelde wat jy uit die Woord hierbo gelees het, homoseksuele drange te hê nie en ek kon nog sommer baie ander voorbeelde genoem het.
Ek byvoorbeeld, het nie my gene of swakhede wat in my lewe is gekies nie.
Dit word egter sonde as ek my oorgee aan daardie drange en as die norm in my lewe uitleef.

Vol deernis moet ek die geliefde probeer help, soos dit ‘n Christen betaam.
Ek mag egter onder geen omstandighede selfs net die stank van die riool van hierdie wêreld se boosheid verdra nie, soos dit ‘n Christen betaam.

As voorbeeld, om my antwoord op die vraag aan my te gebruik, wil ek dit so stel:

As my kind ‘n verkeerde geneigdheid in hom of haar het, sal ek hom/haar met liefde soos al my ander kinders behandel – maar in my huis sal hy/sy nie toegelaat word om eers amper iets te doen wat direk teen ons HERE se Woord indruis nie – soos dit ‘n Christen betaam.
As ek dit so aan my geliefde verduidelik het en sy/hy wil my nie in ag neem nie, is die keuse vir my baie duidelik:

MAT 10:37  Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.
MAT 10:38  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.

As my kind byvoorbeeld iets steel mag ek hom/haar nie help deur die gesteelde goedere in my huis vir hom/haar te hou nie en as my geliefde dit nie wil verstaan en aanvaar, dat ek nie deel sal hê of wees van die verkeerd in sy/haar lewe nie, dan volg ek maar net die instruksie van ons Here in Sy Woord.

2KOR 6:14-18 
14 Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?
15  En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?
16  Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.
17  Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem;
18  en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.

Hoe sake ook al tussen my en my geliefde verloop of eindig, wat in sonde wil bly leef en ons HERE verwerp, moet ek deurentyd myself herinner en dan ook so optree, want dit is soos wat dit ‘n Christen betaam.

1KOR 16:13  Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk.
1KOR 16:14  Laat alles by julle in liefde geskied.

 

As iemand dalk nou sê dat hierdie ‘n swaar woord is, wil ek maar net wys wat Jesus
gesê het, net nadat Hy ons vertel het, dat as ons iemand, selfs vader, moeder, seun of
dogter bo Hom verkies, ons Hom nie waardig is nie.
Onthou jy nog wat jy gelees het?

MAT 10:38  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.

Ek het dit vantevore gesê en ek eindig hierdie skrywe af deur dit net weer te noem.

Glo my, as jy in Jesus se tyd in die straat af gestap het met ‘n kruis oor jou skouer, het jy en almal wat jou gesien het geweet, om dit baie lig uit te druk, dat daar vir jou ‘n moeilike tyd voorlê, wat gaan aanhou, totdat jy dood is.

Jesus het nooit gesê dat om Hom te volg gaan sonder probleme wees nie maar die liefdesverhouding tussen Hom en my saam met Sy gepaardgaande vrede wat Hy my gee, maak dit vir my moontlik om deur moeilike tye te gaan.

JHN 14:27  Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.

JOH 16:33  Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.

Nog meer ‘Gedagtes uit die Woord’ wat hierby aansluit en wat op die Webtuiste of per e-pos bestelling beskikbaar is:
 

“Mag ons willens en wetens sondig?”
“Om te Veroordeel of te Beoordeel – Deel 1,2,3”

Groete,
Sakkie