SOOS ELKE MENS BESTEM IS OM NET EEN KEER TE STERF EN DAARNA…

SOOS ELKE MENS BESTEM IS OM NET EEN KEER TE STERF EN DAARNA

Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra my: “Moet daar ‘n begrafnisdiens by iemand se begrafnis wees?”

Hier is hoe ek na hierdie saak kyk:

‘n Begrafnis van watter aard ook al, doen niks vir of teen die afgestorwene nie.

As jy by sy/haar begrafnis aankom, is hy/sy al lankal daar waar hulle die ewigheid gaan deurbring, òf in die hemel, òf in die hel.

In die hemel is hy/sy by Jesus en gaan op die oordeelsdag beoordeel word. Let wel, hy/sy gaan dan beoordeel en nie veroordeel word nie, want, wanneer jy as ‘n werklike volgeling van Jesus sterf, is daar vir jou geen veroordeling meer nie:

ROM 8:1Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem.”

JOH 5:24 “Dit verseker Ek julle, wie My woorde hoor en wie vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe.”

As jy uit hierdie lewe uittree en jy doen dit sonder Jesus, wel, dan stap jy in die helse tronk in en bly daar tot op die oordeelsdag waar jy dan jou ewige lewe vonnis aanhoor en dit is dat dit wat jy tot nou toe in die hel belewe het, vir ewig gaan voortduur.

Net soos iemand wat op heterdaad met ‘n misdaad betrap is, en toe in die tronk gaan sit en wag het vir sy verhoor om te hoor wat sy vonnis is.

‘n Begrafnis en alles wat daarmee gepaard gaan, buiten waar ons Here in die proses aanbid word, is uiteindelik net daar vir die agtergeblewenes se onthalwe. Hoofsaaklik terwille van troos, vrede en afskeid ensovoorts in hulle harte.

‘n Begrafnisdiens kan wel ‘n wonderlike geleentheid wees om mense na ons Here Jesus toe te lei en ons ewigheidsbestaan te verduidelik soos ek dit nou hier uiteensit.

Ek deel ten slotte met jou ‘n geval uit die Woord waar iemand wat gesterf het en nie ‘n begrafnis gehad het nie, (gewoon omdat bedelaars en armlastiges, om net ‘n paar tipes te noem, destyds slegs na wat vandag die asgate van die dorp genoem word, geneem is en daar vir die natuur gelos was om van die liggaam ontslae te raak) maar toe die bedelaar van wie jy nou gaan lees, sy oë aan die anderkant van die graf oopgemaak het, was hy in die hemel. In dieselfde gedeelte gaan jy van ‘n man lees wat wel ‘n begrafnis gehad het, maar dit het nie gekeer dat hy sy oë in die hel oopgemaak het nie:

LUK 16:19-24

19 “Jesus het gesê: “Daar was ‘n ryk man wat pragtig aangetrek het en sorgeloos in weelde geleef het.

20 Voor sy deur het ‘n siek bedelaar genaamd Lasarus gelê.

21 Terwyl Lasarus daar gelê en begeer het om van die oorskiet van die ryk man se tafel te kon kry, het die honde aan sy oop sere kom lek.

22 Uiteindelik is die bedelaar dood, en hy is deur die engele weggedra om by Abraham te wees. Die ryk man het ook gesterf en is begrawe.

23  Hy het sy oë in die doderyk oopgemaak en terwyl hy gefolter word, het hy Lasarus in die verte by Abraham gesien.

24  “Die ryk man het geroep: ‘Vader Abraham, ontferm u oor my! Stuur vir Lasarus hierheen om die punt van sy vinger in water te steek en my tong af

te koel, want ek ly verskriklik in hierdie vlamme!’”

Het jy gesien?

Lasarus het nie ‘n begrafnis gehad nie, maar die ryk man het een gehad.

So, volgens wat ek die Woord verstaan –

Nee, daar hoef nie ‘n begrafnis te wees met alles wat daarmee gepaard gaan nie maar daar moet verseker op ‘n wettige wyse sindelik, om dit so te stel, van die oorskot ontslae geraak word.

Onthou wié vertel ons van hierdie twee mense.

Jesus Christus, die enigste persoon wat ooit op hierdie aarde geloop het, wie presies weet wat aan die anderkant van die graf met ons gebeur.

Al die kanse wat jy en ek ooit gaan hê om in die Hemel te beland, kry ons net aan hierdie kant van die graf.  Net deur Jesus Christus aan te neem as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker, kan vir jou die deur oopmaak na die Vader en die ewige lewe:

 JOH 14:6 Daarop het Jesus gereageer:  “Ek is die pad en die waarheid en die lewe.  Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.”

HEB 9:27  “Soos elke mens bestem is om net een keer te sterf en daarna kom die oordeel,

HEB 9:28 net so is Christus ook net een keer geoffer om baie mense se sonde weg te neem. Hy sal weer kom, maar dan nie met die oog op die verlossing van sonde nie. Hierdie keer sal Hy verskyn om almal wat gretig na Sy koms uitsien, (dit is ons wat nog in hierdie lewe sal wees wanneer Hy kom) finaal te verlos.”

  

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

       

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.