STAAN JY NEUTRAAL TEENOOR JESUS?

STAAN JY NEUTRAAL TEENOOR JESUS?

Sakkie Parsons

In die geskiedenisverhale lees ons dikwels van uiters lojale en brawe soldate in diens van hulle koning of leier wat bereid was om vir hom te sterf.

Hier dink ek nou weer aan die voorbeeld van drie van Dawid se manskappe.

Ons lees in 2 SAM 23:13-16

13 Drie van die Dertigtal het eenkeer tydens die oestyd by Dawid by die Adullamgrot aangekom. Die Filistyne het in die Spooklaagte kamp opgeslaan.
14 Dawid was toe in die bergskuiling, terwyl ’n afdeling Filistyne die dorp Betlehem beset het.
15 Dawid het teenoor sy manskappe opgemerk: “Ag! As iemand my net ’n bietjie water kan bring uit die put in Betlehem se poort!”
16 Die drie helde het toe deur die Filistynse linie gebreek, die water uit die put opgetrek en dit vir Dawid gebring. Maar Dawid wou dit nie drink nie. Hy het dit as ’n offer voor die Here uitgegiet.

Dit is dié soort liefde en lojaliteit, net baie meer, wat ons vir Jesus ons Aanvoerder deur ons geveg in hierdie lewe teen satan behoort te hê.  Want dink net:
Hy het aan die kruis gaan hang vir jou en my.

Hy het daar gehang in die plek van jou en my, sodat jy en ek die liefdevolle genade van ons Here ontvang het om die keuse te mag maak tussen ‘n liefdesverhouding met Jesus en die ewige lewe saam met Hom in die hemel óf om die wêreld bo Hom te kies en so satan te kies of neutraal te staan teenoor Jesus en so in elk geval die ewige hel saam met die duiwel tegemoet te gaan.”

JHN 3:18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Ja!

JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

Hoe heerlik om hierdie versekering te hê:

JHN 5:24  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

Natuurlik, omdat ons Here jou en my na Sy beeld geskape het, het ons, soos Hy, ‘n wil van ons eie.

So, daar is ook ‘n ander opsie wat jy het, as jy al van Jesus gehoor het:
Jy kan ‘n liefdesverhouding met die god van hierdie wêreld kies en uiteindelik vir ewig in die hel, ‘n verskriklike helse dood sterf en tog nooit tot in aller ewigheid sterf nie.

JHN 3:36  Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.

Nou hoekom bly die toorn van God op my, as ek, nadat ek van Jesus gehoor het en nou van Hom weet en dan my rug op Hom draai, of Hom ignoreer, of neutraal staan, wat alles by God eintlik presies dieselfde is, soos ek jou sal wys?

Want my vriend/vriendin:

ROM 3:23  want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,

Maar hoe wonderlik, lees ons net in die volgende vers van Romeine 3:

ROM 3:24  en hulle (wie Hom aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker en Hom volg tot die einde toe) word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.

Ek het genoem, dat selfs om neutraal teenoor Jesus te staan, ‘n besluit teen Jesus is.  Lees wat sê Hyself aangaande hierdie stelling:

MAT 12:30  Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.

Met ander woorde.  Of ek dit nou wil weet of nie.
God het in Sy Woord vir my laat skryf – Of anders gestel:

Jesus, God wie mens geword het, sê vir elke mens aan wie die evangelie van Jesus al verkondig is – met ander woorde, by wie Jesus Sy evangelie laat uitkom het omdat Hy hulle ook deel van Sy heilige volk, soos die Woord dit stel wil hê:  “Kom, volg my.”

MAT 4:19 Daarop sê Hy vir hulle:  “Kom! Word my dissipels,..”

As jy wie hier lees nog nie op Sy stem wat na jou in die verlede geroep het geantwoord het nie, kom Hy weer vandag na jou in Sy groot liefde met hierdie goddelike waarborg:

JHN 5:24  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

By ‘n latere geleentheid bevestig Jesus hierdie waarborg weer toe Hy sê:

JHN 6:47  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe.

Ek sluit dan nou hierdie skrywe af met hierdie vraag en dit is Jesus se eie woorde en vandag vra Hy dit deur hierdie skrywe wat jy tot hier gelees het weer aan jou:

JHN 11:26  en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?

Daar is werklik GEEN ander manier om ‘n liefdesverhouding met ons Here te begin en van die hel gered te word nie.

HAN 4:12  Daar is geen redding by iemand anders nie.  Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om gered te word nie.(net Jesus Christus alleenlik)

JHN 10:9  Ek is die deur;  as iemand deur My ingaan, sal hy gered word…

Wil jy oorgaan uit die geestelike dood na die ewige lewe?

Wil jy seker maak dat jy vir ewig in die hiernamaals gaan lewe en nie vir ewig ‘n
verskriklike dood in die hel sterf en tog nooit sterf nie?

Wel die enigste manier om dit te doen is om in jou eie woorde, of in die voorbeeld wat ek nou met jou gaan deel vir Jesus iets soos die volgende in werklike opregtheid te sê:

“Jesus, ek hoor die klop aan die deur van my hart.
Ek besef nou, dat sonder U in my lewe is ek, ‘n sondige mens, verlore.
Jesus ek neem U aan as my Verlosser en Saligmaker en ek vertrou nou my lewe
aan U toe.”

OPB 3:20 “Kyk Ek staan by die deur en Ek klop. As jy my stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die feesete saam geniet.”

Nou soek jy, as ‘n saak van groot dringendheid, ‘n gemeente wat die hele Bybel as die Heilige Woord van ons Here aanvaar.
Besoek die gemeente op ‘n dag dat daar ‘n erediens aan ons Here is en maak na die diens ‘n afspraak met die herder van daardie gemeente vir verdere leiding.

Jy hoef  nie, om dit so te stel, dadelik ‘n super Christen te wees nie.  Hou net jou oë op Jesus nadat jy hom aangeneem het en die Heilige Gees sal jou van ‘n nuutgebore Christen opvoed, tot waar Hy jou in hierdie lewe wil hê.

Omring jou ook met mense, nie wie net sê dat hulle Christene is nie maar met Christenmense in wie jy Jesus kan sien.

Iemand vra:

“Hoe kan ek verseker weet dat ek nou ‘n kind van ons Here is, as ek regtig in opregtheid alles ter harte geneem het en daarvolgens gehandel het, wat jy geskryf het?”

Dit is heel eenvoudig en ons Here het dit om een voorbeeld te noem, heerlik in Sy Woord vir ons kort en kragtig saamgevat en jy het dit ook reeds gelees:

JOH 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

Groete,
Sakkie