SY ASEM TEEN JOU WANG

SY ASEM TEEN JOU WANG

Sakkie Parsons

Ek was met iemand in gesprek oor die stem van ons Here en om die stem van ons Here te hoor en toe vra die persoon my, of ek nie iets oor die hoor van ons Here se stem in ons lewe wil skryf nie.
Hier dan is wat in my hart opgekom het, toe ek daaroor gebid het:

Daar is ‘n paar wyses waarop ons Here met ons praat –

Ons Here praat byvoorbeeld met ons of deur ‘n hoorbare stem, of deur drome, gesigte, of ander mense.  Dan ook en ek wil sê (met die meeste mense), in ons harte/gewetes en verál deur Sy Woord, onder leiding van die Heilige Gees natuurlik.

Hier wil ek net iets sê oor laasgenoemde:
In die Ou Testament, het mense nie die Heilige Gees inwonend in hulle gehad nie en hulle het ook nie die hele Woord van ons Here tot hulle beskikking gehad nie en daarom het hulle soms, om dit so te stel, gesukkel om ons Here se stem te hoor.
Gideon byvoorbeeld, moes drie maal sekerheid van ons Here kry voordat hy geglo het, dat dit werklik ons Here gewees het wat met hom gedeel het.
Oor veral Gideon wil ek net die volgende noem, omdat hy so ‘n goeie voorbeeld is van wat ek bedoel  hoe geseënd ons, wie Christene is wat ons Here se Heilige Gees inwonend in ons het, saam met Sy hele Woord aan die mens.

2TIM 3:16 Die hele Skrif is deur God geïnsprireer en is nuttig om ons te leer wat waar is en om ons te laat besef wat verkeerd is in ons lewe.  Dit ruk ons reg en kweek ‘n regte leefstyl.
2TIM 3:17 Dit is God se manier om ons voor te berei, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê ons moet doen.

Kyk net hoe praat ons Here met Gideon en hoe duidelik sou dit vir jou en my wees, as ons Here vandag met ons so handel, soos wat Hy met Gideon gehandel het.  Ons, wie die Heilige Gees inwonend in ons het, sowel as ook die héle Woord van ons Here tot ons beskikking het:

RIG 6:19-21 
19 Gideon is terug huis toe. Hy het ’n bokkie gaargemaak en uit sestien kilogram meel ’n ongesuurde brood gebak. Hy het die vleis in ’n mandjie gepak en die sous in ’n pot gegooi. Hy het daarmee teruggekom na die Engel onder die eikeboom en dit daar neergesit.
20  God se Engel sê toe vir Gideon:  “Vat die vleis en die brood en kom sit dit op hierdie rots neer.  Gooi die sous daaroor uit.”Gideon het so gemaak.

21  Die Engel van die Here het toe met die punt van die stok in sy hand aan die vleis en die brood geraak. Vuur het uit die rots opgevlam en die vleis en die brood weggebrand. Die Engel van die Here het toe verdwyn.

Jy en ek sou tog sekerlik nie na daardie gebeure getwyfel het oor, of ons Here met ons gepraat het of nie maar Gideon het.
Onthou nou, wat het Gideon nou net belewe en jy kan selfs verder gaan lees maar dan kom ons by RIG 6:36 en ons lees:

RIG 6:36-40 
36 Gideon het vir God gesê: “As dit regtig so is soos U gesê het dat U die Israeliete deur my gaan bevry, wys dit tog vir my.
37  Ek sal vannag ’n stuk wol op die dorsvloer los. As daar dou op die wol kom, maar die grond rondom bly droog, sal ek weet dat U my wil gebruik om die Israeliete te bevry.”
38  Dit het so gebeur. Gideon het die volgende môre vroeg opgestaan. Hy het die wol uitgedruk en ’n hele bak vol water daaruit gewring.

Selfs toe was dit vir Gideon nie genoeg nie.  Want Gideon het nie die Heilige
Gees inwonend in hom gehad nie en hy het nie die héle Woord van ons Here
gehad om te raadpleeg nie.
Ons lees:

39 Toe sê hy vir God: “Moenie ongeduldig met my word nie. Kan ek nog net een keer vra. Laat die wol hierdie keer droog wees, terwyl die grond rondom vol dou is.”
40  God het dit daardie nag net so laat gebeur. Die wol was droog, maar die grond rondom was vol dou.

Iemand wil uitroep:
“Sjoe hoeveel ongeloof is dit nie!”
Maar weet jy, ek dink nie dit was soveel ongeloof nie. Gideon was net nie so wonderlik bemagtig deur die Heilige Gees en kennis van die Woord soos jy en ek nie en nou kom ek by dit wat ek eintlik met jou wil deel –

Die wonderlikste, om dit so te stel ding wat ‘n mens kan doen is om Jesus aan te neem as jou Verlosser en Saligmaker, want dan het jy die Heilige Gees inwonend in jou en is jy heerlik op pad Hemel toe, maar en nou gaan ek seker mense skok –

Om die Heilige Gees inwonend in jou te hê is nie genoeg om ons Here se stem altyd heerlik duidelik te hoor nie.
Jy en ek het ‘n wil van ons eie en die Heilige Gees kan net deur my werk en my ons Here se stem laat hoor, as ek die Heilige Gees beheer in my lewe gee en ek bestudeer die Woord van ons Here, wat Hy juis vir daardie rede tot ons beskikking gestel het.

Baie mense gaan te gronde, dit is hel toe, juis omdat hulle nie daagliks met ons Here gesels en Sy Woord bestudeer nie.

HOS 4:6  My volk word verwoes omdat hulle My nie ken nie…

Die woorde “ken My nie” beteken nie aan My toegewy is nie.

PS 119:105 U Woord is ‘n lamp vir my voete en ‘n lig op my pad.

Baie mense wat so lewe – deur nié die Heilige Gees geleentheid te gee om
beheer van hulle lewe te neem nie, draai later hulle rug op ons Here en om dit so
te stel, gooi dit wat Jesus op Golgota vir hulle gedoen het, weer terug in Sy
gesig.

HEB 6:4-6 Intussen moet julle besef dat dit onmoontlik is om hulle wat een maal deur God verlig is, maar daarna hulle rug op God gedraai het, weer tot inkeer te bring – hulle wat God se geskenk ervaar het, wat die Heilige Gees ontvang het, wat die lieflikheid van God se woord en die kragte van God se toekomstige wêreld beleef het. As hulle dan tog hulle rug op God draai, kan hulle nie weer tot inkeer gebring word nie, want wat hulleself betref, kruisig hulle die Seun van God opnuut, en hulle maak Hom openlik tot 'n bespotting.

Hoe meer jy en ek wat reeds Sy Heilige Gees inwonend in ons het, daagliks tyd met ons Here deurbring en Sy Woord bestudeer – hoe nader kom ons aan Hom en hoe meer verdiep ons verhouding met Hom, totdat jy later só naby ons Here kan lewe, so glo ek in elk geval, dat as Hy met jou praat, jy aste ware Sy Goddelike asem teen jou gesig sal kan voel.

Kom ek deel met jou iets uit iemand se lewe wat ek glo later so naby ons Here geleef het, dat hy later aste ware,so glo ek, as Hy met ons Here gedeel het, ons Here se asem teen sy wang kon voel en as jy nou dink jy het al so verkeerd gelewe, dat jy nooit so ‘n diep liefdesverhouding met ons Here sal kan hê nie, onthou dan net hierdie man was selfs betrokke by ‘n hele klompie moorde op Christene.
Tog word van my groot held Paulus die volgende getuig:

HAN 19:11 God het deur Paulus se optrede wonderbaarlike dinge gedoen.
HAN 19:12 Selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy vel geraak het, op siekes gesit is, het hulle siektes verdwyn. Selfs bose geeste het uit mense uitgegaan.

Jy sien –
As ons Here jou vergewe, dan kan jy maar weet jy is vergewe.

1JOH1:9 As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede.

Dan, as jy die Heilige Gees toélaat om in jou lewe te werk, kan jy maar weet, die Heilige Gees sal werk:

JOH 14:12 "Ek verseker julle, wie aanhou glo in My, sal ook die werke doen wat Ek doen; hy sal selfs nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe op pad is.

Ons Here het uiteindelik dat Paulus die grootste gedeelte van die Nuwe Testament skryf en ek dink, dat Paulus later aste ware ons Here se heerlike Goddelike asem teen sy wange kon voel, só na was hy aan ons Here, as ons Here met hom gedeel het.

Ek wil jou uitnooi om saam met my daarna te strewe, dat ons so ‘n wonderlike naby verhouding met ons Here sal hê, dat ons aste ware Sy wonderlike Goddelike asem teen ons wange sal voel wanneer Hy met ons deel.

Of jy en ek dit in hierdie lewe sal bereik weet ek nie maar laat jou uitkyk in hierdie saak saam met my wees, wat Paulus sin ook destyds gewees het:

FIL 3:12-15
12 Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie.  Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het!
13 Nee, liewe broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker;  ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê.
14 Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee omdat Christus Jesus dit vir my verdien het.
15 Almal van ons wat geestelik volwasse is, behoort hierdie doel te hê.

Groete
Sakkie