TOE BUK JESUS EN SKRYF OP DIE GROND

TOE BUK JESUS EN SKRYF OP DIE GROND.

Sakkie Parsons

Terwyl ek besig was om die volgende gedeelte uit die Woord lees, dink ek daaraan
hoe selfregverdig ons soms na die mense om ons kyk.

Ek onthou toe iets wat ek eendag gehoor het en ek wil nou met jou die gedagtes deel wat by my opgekom het.

Lees gou hier en dan wil ek jou so ‘n iets of twee wys wat my weer opnuut getref het:

JHN 8:4-11 
4 Hulle sê vir Hom:  “Leermeester, hierdie vrou is uitgevang terwyl sy besig was met ‘n daad van owerspel.
5  Moses het in die wet aan ons die opdrag gegee om sulke vroue te stenig, maar wat sê U daaroor?”
6  Dit het hulle net gesê om Hom te toets sodat hulle iets kon kry om Hom oor aan te kla.  Jesus het egter afgebuk en met Sy vinger op die grond geskryf.
7  Toe hulle aanhou om vrae te vra, het Jesus regop gestaan en vir hulle gesê:  “Laat die een onder julle wat sondeloos is, die eerste een wees wat ‘n klip na haar gooi.”
8  Daarna het Jesus weer gehurk en op die grond geskryf.
9  Nadat hulle dit gehoor het, het hulle een vir een begin weggaan, eerste die familiehoofde.  Jesus is alleen agtergelaat terwyl die vrou nog in die middel staan.
10  Toe Jesus weer orent kom, het Hy vir haar gesê:  “Dame, waar is hulle heen?  Het niemand jou veroordeel nie?”
11  Sy het geantwoord:  “Niemand nie, Meneer.”  Jesus sê toe vir haar:  “Ook Ek veroordeel jou nie.  Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Sommer met die intrapslag praat hulle nie die waarheid nie.
Kyk wat sê hulle vir Jesus:

JHN 8:5  en Moses het ons in die wet bevel gegee om sulke vroue te stenig…

Kom ons kyk gou, wat staan éíntlik in die gedeelte van die Woord wat hulle nou so kwistig en selfvoldaan kwoteer:

LEV 20:10  As ‘n man egbreuk pleeg met ‘n ander man se vrou, moet beide die man en sy vrou doodgemaak word.

Daar staan nie dat net die vrou doodgemaak moet word nie.
Daar staan dat die vrou én die man moet doodgemaak word.
Hoekom bring hulle net die vrou wat owerspel gepleeg het na Jesus toe?
Hoekom kwoteer hulle die Skrif verkeerdelik net uit ‘n man se oog uit?
En dan –
Waar is die man met wie sy owerspel gepleeg het?
Is hy nie dalk een van hulle vriende nie?
‘n Mens kan selfs wonder of hy nie dalk een van hulle was nie.
‘n Vrou kan tog nie met haarself owerspel pleeg nie.
Hulle sê:

JHN 8:4  Hulle sê vir Hom:  “Leermeester, hierdie vrou is uitgevang terwyl sy besig was met ‘n daad van owerspel.

Hulle praat ook na my mening die waarheid.
Die feit dat die vrou hulle nie tot leuenaars maak nie is vir my ‘n bewys maar die beste bewys vir my, is dat Jesus hulle ook nie as leuenaars uitwys nie
Hulle sê dat sy op heterdaad betrap was.
In daardie geval moes hulle die man ook betrap het.
So, hoekom staan die man nie daar langs haar nie?
Hoekom het hulle hom laat gaan?
Kyk nou wat doen Jesus:

JHN 8:6  En dit het hulle gesê om Hom te versoek, sodat hulle iets kon hê om Hom te beskuldig; maar Jesus het neergebuk en met die vinger op die grond geskrywe.

Op die oog af lyk dit of hulle nou vir Jesus in ‘n hoek het en Hy nie mooi weet hoe om daar uit te kom nie en nou vir tyd speel omdat ons lees:  “maar Jesus het neergebuk en met die vinger op die grond geskrywe”

Jy sien hulle plan het so lyk dit vir my, so gewerk –
Sê Jesus:
“Ja, stenig haar.”
Dan trek Hy ‘n streep deur sy evangelie van liefde en vergifnis.
Sê Hy egter:
“Nee, moet haar nie stenig nie.”
Dan gaan Hy direk teen die wet.
Was Jesus in ‘n hoek?
Nee! Natuurlik nie!
Al wat Hy hoef te gedoen het, was om die Woord reg te kwoteer en Hy sou hulle name toffie gemaak het.
Die mense sou hulle gesien het vir wat hulle was.  ‘n Klomp vals en skelm medepligtiges in die beskerming van ‘n man wat owerspel gepleeg het.

Ek het nie Skrif oor wat ek nou gaan sê nie maar Jesus wat nooit maar nooit iets gedoen het sommer om iets te doen nie, buk en Hy skryf in die grond.

Om ook mooi te verstaan wat ek nou gaan sê, is dit belangrik dat ons moet onthou, dat baie min gewone mense in Jesus se tyd kon lees en skryf maar die geleerdes kon gewoonlik almal lees en skryf.

Sê nou net een van die mans wat daar gestaan het se naam was Benjamin en sê nou net een van die prostitute van daardie tyd se naam was Sara.
Sê nou net een van die dinge van ‘n hele paar wat Jesus daar geskryf het was: ”Benjamin gisteraand Sara.”
In my gedagtes sien ek hoe word Benjamin doodsbleek en hoe sê hy by homself:
“Ek weet nie hoe Hy weet nie maar laat ek hier wegkom voordat Hy dit vir die hele wêreld vertel.”
Toe Staan Jesus op.

JHN 8:7  Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi.

Jy sien, daar het nog ‘n paar ouens ook daar gestaan en vir hulle het die sinlose name en woorde in die sand niks beteken nie maar toe buk Jesus, terwyl hulle aanhou en Hy skryf weer.

Sê nou net een van die grootmonde wat daar gestaan het, se naam was Jeremia en sê nou net hy het geld uit die tempel se skatkis laat verdwyn.
Sê nou net een van die dinge wat Jesus die tweede keer op die grond geskryf het was iets soos:
“Jeremia, die skatkis.”
In my gedagtes sien ek hoe Jeremia sy kop vasgryp en sê:
“Ek weet nie hoe Hy dit weet nie maar laat ek ‘n breek maak voordat Hy dit vir almal vertel en hulle dalk vir my stenig.”

Ons sal nooit in hierdie lewe weet presies wat daar tussen hierdie mense en Jesus gebeur het nie maar een ding is gewis en seker –

Daar het iets tussen Jesus en hierdie mense, wat gedetermineerd was om Jesus vas te vra sodat hulle Hom kon aankla, gebeur – en wat gebeur het, het hierdie mense só vinnig laat verdwyn, dat toe Jesus oorent kom was hulle skoonveld.

Die les hier in vir my is dit:

Jesus weet álles van my en van jou en Hy kan as Hy wil dit vir die hele wêreld vertel – maar Hy kom gereeld, soos vandag en Hy skryf deur Sy Heilige Gees in jou en in my hart wat verkeerd is en wat Hy graag wil hê ons moet verander en weet jy wat so heerlik wonderlik is?

As ek die verkeerde in my lewe bely, en berou het en vir Hom in opregtheid vergifnis vra, dan buk Hy af en Hy vee die grond gelyk en nie eens die engele in die Hemel kan sien wat daar geskryf was nie en ek is vir altyd skoon van daardie verkeerd in my lewe.

Die enigste manier hoe ek weer daarvan vuil kan word, is as ek dit weer gaan doen.

Daarom sê hy vir my en vir jou, soos vir daardie vrou:

JHN 8:10  Toe Jesus weer orent kom, het Hy vir haar gesê:  “Dame, waar is hulle heen?  Het niemand jou veroordeel nie?”
JHN 8:11  Sy het geantwoord:  “Niemand nie, Meneer.”  Jesus sê toe vir haar:  “Ook Ek veroordeel jou nie.  Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”

Vir my is dit so wonderlik om te weet:

1JHN 1:7  Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.

Groete,
Sakkie