TWEE MANIERE WAAROP JY KAN WYS DAT JY VIR JESUS LIEF IS

TWEE MANIERE WAAROP JY KAN WYS DAT JY VIR JESUS LIEF IS.

Sakkie Parsons

Ons Here het iets op my hart gelê wat ek graag met jou wil deel. Dink gou ‘n bietjie terug, toe jy die eerste keer werklik verlief geraak het en nie net verlief was nie, maar werklik lief was vir daardie persoon.

Kan jy onthou, toe die persoon ook gewys het dat sy/hy ook werklik lief vir jou is, hoe jy net nie genoeg van die persoon kon kry nie? Wat meer is, jy kon ook nie genoeg van die persoon gepraat het nie en al jou vriende/vriendinne moes amper tot vervelens toe hoor van julle wonderlike verhouding.

My vrou het ‘n gesegde wat sy altyd gebruik as sy dink ek praat groot of nonsens.
Dan sê sy vir my: “Talk is cheap but money buys the whisky.”

Ek dink dieselfde gesegde kan op baie van ons Christene van toepassing gemaak word. Ek hoor so baie mense sê, dit is nou as jy hulle vra of hulle ons Here lief het:
“Ja, ek is lief vir die Here” maar as jy hulle nie gevra het nie, sou jy in baie gevalle nie eens geweet het dat hulle Hom ken nie, of selfs van Hom geweet het nie.

Weet jy, ons Here wil ook van ons kant af hoor en sien, dat ons lief is vir Hom. Veral omdat ons soms so optree dat dit werklik nie lyk of ons lief is vir Hom nie. Soms, deur ons optrede, lyk dit selfs of ons niks vir ons Here voel nie. Kom ek deel gou met jou so ‘n klassieke geval. Onthou jy? Jesus het vir Petrus gewaarsku dat hy Jesus gaan verraai en ten spyte van die vooraf waarskuwing, verraai hy toe tog vir Jesus:

MAT 26:73  ”Maar ‘n bietjie later kom die wat daar staan, en sê vir Petrus: Waarlik, jy is ook een van hulle, want ook jou spraak maak jou bekend.
MAT 26:74  Toe begin hy homself te verwens en te sweer: Ek ken die man nie.”

Toe, onthou jy, wat na die opstanding op die strand gebeur het:

JHN 21:15-17 
15 “Toe hulle dan klaar was met die môre-ete, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Laat my lammers wei.
16  Hy vra hom weer die tweede maal: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Pas my skape op.
17  Hy vra hom die derde maal: Simon, seun van Jona, het jy My lief? Petrus het bedroef geword, omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief? En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet. Jesus sê vir hom: Laat my skape wei.”

Het jy die twee maniere gesien hoe ons Here wou dat Petrus vir Hom toon dat hy Hom lief het? Petrus moes dit fisies bely, of dan openlik, dat mense hom kon hoor getuig van sy liefdesverhouding met Jesus. So belangrik was dit vir Jesus, dat Hy Petrus drie keer gevra het om sy liefde openlik te bely.

JHN 21:15  “… Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. …

JHN 21:16  Hy vra hom weer die tweede maal: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. …

JHN 21:17  Hy vra hom die derde maal: Simon, seun van Jona, het jy My lief? Petrus het bedroef geword, omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief? En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet. …”

Het jy ook die tweede manier gesien waarop Jesus vir Petrus en vir ons, deur Sy
gesprek met Petrus, wys hoe ons, ons liefde aan Hom kan en moet toon:

JHN 21:15  “… Hy sê vir hom: Laat my lammers wei.

JHN 21:16   Hy sê vir hom: Pas my skape op.

JHN 21:17  … Jesus sê vir hom: Laat my skape wei.”

Jy sien, nie net moet ek my liefde vir ons Here openlik en baie duidelik aan die wêreld
om my bely nie – Ek moet daaraan werk dat my liefde vir my naaste my sal dwing dat ek net eenvoudig hulle moet probeer help om Jesus aan te neem as hulle Verlosser enSaligmaker:

JHN 15:12  “Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het.”

ROM 13:8-10 
8 “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.
9  Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
10  Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die
vervulling van die wet.”

Ek wil jou aanmoedig. Kom jy en ek word veral daders en ook praters van die Woord.  Want onthou jy wat Jesus by geleentheid gesê het:

MRK 8:38  “Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele.”

Groete,
Sakkie