IN U BOEK IS HULLE ALMAL OPGESKRYWE: DAE DAT ALLES BEPAAL WAS – DEEL 1

IN U BOEK IS HULLE ALMAL OPGESKRYWE:  DAE DAT ALLES BEPAAL WAS – DEEL 1

Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra my die volgende vraag:

Is dit waar dat God reeds besluit het hoe lank ons gaan lewe en ons in elk geval niks daaraan kan doen van hoe lank ons gaan lewe nie?

Dan is my antwoord, soos ek die Woord verstaan:

Daar is waarheid in soos die vraag aan my gestel is, maar daar is ook ‘n groot onwaarheid in soos wat die vraag aan my gestel is.

Laat ek verduidelik:

Verseker het ons Here, toe Hy my geskape het, besluit dat soveel is die jare wat Hy my op hierdie aarde in hierdie liggaam gaan plaas, om te kom doen wat en hoe Hy in gedagte gehad het dat ek dit hier moet kom doen, maar Hy het my na Sy beeld geskape en omdat ek na Sy beeld geskape is, het ek soos Hy, ‘n wil van my eie en ons Here respekteer daardie wil. Anders gestel, Hy, in Sy groot alwysheid wat ek nie kan verstaan nie, laat my toe om my eie wil, in hoe ek wil lewe op my reis deur hierdie wêreld, uit te lewe.

Ek gaan nou maar weer my ou geykte voorbeeld gebruik, om te verduidelik wat ek bedoel.

Ons Here wil byvoorbeeld hê dat die hele wêreld se mense gered moet word, daarom het Hy Sy Seun as volmaakte offer gestuur.

Die Woord stel dit so:

JHN 3:16  God het die mensewêreld (dit is elke mens op aarde) só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen (dit is elke mens wat dit doen) wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
JHN 3:17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense (dit is enige mens) te veroordeel nie, maar sodat die mense (dit is alle mense, sou hulle wou) deur Hom gered kan word.

Dan, terwyl Jesus op pad na Golgota is om presies daardie grootse volmaakte offer vir die “mensdom” te bring, sê Hy self in Sy alwetendheid dat nie die hele “mensdom” nie, maar inteendeel, ‘n baie klein gedeelte van die “mensdom” van daardie volmaakte, goddelike offer, gebruik gaan maak:

MAT 7:13 “Gaan die koninkryk deur die nou poort binne.  Want wyd is die poort, en breed is die pad wat na ondergang lei, en daar is massas mense wat daar ingaan.

MAT 7:14 Hoe bitterlik nou is die poort, en hoe smal is die pad na die lewe nie!  Min is die mense wat dit kry!”

Terug by die vraag aan my –

Verseker het ons Here ‘n presiese datum vir my intrede in hierdie wêreld bepaal en verseker het ons Here ‘n presiese datum, om dit so te stel, tot op die sekonde bepaal wanneer ek hierdie liggaam gaan verlaat, maar kan ek, deur my wil te gebruik om te lewe en te doen wat ek wil, soos ek wil, daardie eind-datum verseker verander.

Wat dit aanbetref, werk dit, soos ek die Woord verstaan, so:

Ons Here het die eind-datum bepaal, maar ek, deur my manier van lewe, verander daardie datum tot ‘x’ datum toe.

Ons Here het natuurlik ook reeds geweet toe Hy my geskape het, dat ek, deur my wil uit te leef soos wat ek dit uitleef, Sy datum gaan verander en Hy het natuurlik ook, om dit so te stel, tot op die sekonde geweet wat daardie nuwe datum is.

Of ek daardie datum verkort deur byvoorbeeld te rook en vroeër aan longkanker of ‘n ander verwante siekte, my lewe verkort; of ek deur verdowingsmiddels my lewe verkort; of ek deur ‘n ander tipe slegte lewenstyl my lewe verkort; of ek selfmoord pleeg; of iemand my vermoor  (in God se toelaatbare wil as ek Sy kind is), om maar net ‘n paar voorbeelde te noem – Waar satan die mens misbruik om God se bloudruk vir ons lewe te verkort, ons Here het vir ons ‘n begin en eind-datum en ‘n bloudruk in Sy hart gehad toe Hy ons geskape het en Hy het ook geweet tot waar ons of iemand anders die datum vir ons gaan verkort.

Met ander woorde, die mens, deur die wil waarmee God hom geskape het toe Hy die mens na Sy beeld geskape het, kan daardie wil gebruik om sy eie en selfs ‘n ander mens se datum, volgens wat ons Here vir daardie persoon uitgelê het, te verander.  Hier wil ek net noem dat die vyand ondergeskik is aan ons HERE se toelaatbare wil oor my as Sy kind.

Ek lees in die Woord van ons Here se bloudruk vir my lewe, byvoorbeeld die volgende:

PSM 139:15  “My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.
PSM 139:16  U oë het my ongevormde klomp gesien; en in U boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

PSM 139:17  Hoe kosbaar is dan vir my U gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!”

Verseker kan ek egter nie nou maar redeneer:

“Ek kan maar lewe soos ek wil, ons Here het tog klaar besluit hoe lank ek gaan lewe”, nie.

Wat jy verseker van kan seker wees indien jy met hierdie redenasie deur die lewe gaan en so lewe, is dat jy nie naby die datum gaan uitkom wat ons Here vir jou in Sy hart het nie.

Ek deel gou met jou ‘n staaltjie uit my skooldae:  Ons het ‘n onderwyser gehad met die van, Breytenbach. Eendag in ‘n fisiologie klas, dit was in die destydse standerd ses, vertel meneer Breytenbach vir ons hoe sleg rook vir jou is.

Hy het natuurlik geweet dat baie van ons skelm gerook het, ek ook.

Een van die ouens, kom ons noem hom Willie, steek toe sy hand op.

Toe meneer Breytenbach vir hom vra wat hy wil sê, sê Willie: “Meneer, my oupa het Magaliesberg tabak gerook en hy het 85 jaar oud geword.”

Ek wil net noem, destyds was Magaliesberg tabak onder ons seuns die sterkste tabak wat jy kon kry.

Toe antwoord meneer Breytenbach hom:

“Willie, dink net hoe oud jou oupa sou geword het as hy nie Magaliesberg gerook het nie.”

Ons wat Jesus Christus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker, is op pad Hemel toe, maar dit beteken verseker nie dat ons nou maar net ‘n mooi lewe kan leef nie, want ons is mos nou op ons pad Hemel toe,en net so vir die wis en die onwis, gaan ons ook so nou en dan darem kerk toe ook.

Soos wat ek ons Here se doel vir ‘n kind van God hier op aarde verstaan, is dit beslis nie soos wat ons Here dit vir ons in Sy bloudruk vir ons lewe, geskryf het nie. Juis nou moet ek vir myself skatte in die Hemel bymekaar maak, waar mot en roes dit nie kan verwoes nie.

Daaroor deel ek met jou meer in die volgende gedagtes uit die Woord in hierdie kort reeks van 3.

Vir nou sluit ek af met ‘n beskrywing uit die Woord van die soort lewe en ook godsdienstigheid wat nooit in jou en my lewe gevind mag word nie, gewoon omdat dit nooit deel van ons Here se plan vir ons lewe sal wees nie. ‘n Lewe en godsdienstigheid, wat juis nou in hierdie dae wat ons lewe, hoogty vier:

2TIM 3:2-4
2 “Want mense sal net hulleself en hulle geld liefhê. Hulle sal grootpraterig en arrogant wees, met God spot, ongehoorsaam aan hulle ouers en ondankbaar
      wees. Hulle sal niks as heilig beskou nie.
3 Hulle sal liefdeloos en onvergewensgesind wees; hulle sal ander mense belaster en geen selfbeheersing hê nie; hulle sal wreed wees en geen belangstelling
      hê in wat goed is nie.
4 Hulle sal hulle vriende verraai, roekeloos wees, hooghartig, en hulle sal plesier liewer hê as vir God.”

Het jy dalk iets in iemand wat jy ken se lewe herken in dit wat jy nou gelees het? Dalk is die iemand nog jyself?

Luister dan wat sê my groot held Paulus oor, en ek dink dit geld vandag vir die grootste persentasie mense wat die etiket van Christen op hulleself geplak het:

2TIM 3:5 “Hulle sal optree asof hulle godsdienstig is, maar dit ontken wat aan die Christelike godsdiens sy krag gee. Jy moet wegbly van sulke mense af.”

Hoe wens ek dat die mense wat godsdiens-Christene en nie Jesus-Christene is nie, hierdie, – maar veral die tweede en nog meer, die derde gedeelte van hierdie kort reeks kon lees.

Groete,
Sakkie