IN U BOEK IS HULLE ALMAL OPGESKRYWE: DAE DAT ALLES BEPAAL WAS – DEEL 2

IN U BOEK IS HULLE ALMAL OPGESKRYWE:  DAE DAT ALLES BEPAAL WAS… – DEEL 2 VAN 3

Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra my die volgende vraag:

Is dit waar, dat God reeds besluit het hoe lank ons gaan lewe en ons in elk geval niks daaraan kan doen van hoe lank ons gaan lewe nie?

Ek het toe in my eerste skrywe daarop gewys dat die Woord vir my vertel dat ons Here ‘n presiese datum vir my uittrede uit hierdie liggaam van my bepaal het.

Verder het ek daarop gewys dat die mens, omdat ons na die beeld van ons Here geskape is, ons, deur ons eie wil uit te leef, daardie datum, met satan se hulp, soms verander en dat ons Here, voordat Hy ons geskape het, presies geweet het tot waar en watter veranderings ons aan Sy grootse plan vir ons lewe, gaan maak.

Ek het verder ook gesê dat ons nou nié maar kan redeneer: ‘Ons kan nou maar lewe soos ons wil, want ons einde is tog deur ons Here bepaal’, nie.

Nou wil ek verder sê dat, veral ‘n Christen, kan nou nié byvoorbeeld redeneer nie: ‘Ek het Jesus aangeneem as Verlosser en Saligmaker, ek kan nou maar net aangaan met my lewe, ek is op my pad Hemel toe’.

Soos ek ons Here se doel vir die kind van God hier op aarde verstaan, is dit beslis nie soos wat ons Here dit vir ons in Sy bloudruk vir ons lewe geskryf het nie. Juis nou moet ek die geleentheid onder andere gebruik om vir my skatte in die Hemel bymekaar te maak, waar mot en roes dit nie kan verwoes nie.

MAT 6:20 “Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie.”

Ek sal egter nooit by daardie punt uitkom waar ek deur my lewe, dade en woorde, skatte in die Hemel kan bymekaar maak as ek nie ons Here toelaat om my volledig Christen te maak nie.

Wanneer is ek volledig Christen?

Wel, soos ek die Woord verstaan, is ek eers volledig Christen wanneer Jesus se Liefdeswet in my lewe gestalte gekry het.

Waarvan praat ek?

MAT 22:36-40
36 “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”
37 Jesus se antwoord was:  ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’
38  Dit is die eerste en belangrikste opdrag.
39 Die tweede, ewe belangrike opdrag is:  ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40 Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee hoof gebooie.”

Jesus sluit Sy antwoord aan die man af deur te sê:

MAT 22:40  “Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee hoof gebooie.”

My groot held Paulus verduidelik hierdie laaste woorde in Jesus se antwoord aan die man as volg:

ROM 13:9 “Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgesom
      in hierdie een groot opdrag: "Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself."
ROM 13:10 Die liefde doen niemand kwaad aan nie. Daarom voldoen die liefde aan al God se vereistes.”

In my volgende skrywe in hierdie kort reeks verduidelik ek hoe ek my wil wat ons Here my gegee het omdat ek na Sy beeld geskape is, kan gebruik om skatte in die hemel bymekaar te maak. Hoe is dit moontlik om skatte in die Hemel bymekaar te maak?  Die Woord sê dan self:

1TIM 6:7 “Ons het immers niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons kan ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie.”

Vir nou laat ek jou met hierdie wonderlike wyse raad van Jesus ons Here:  Wil jy weet hoe moet jy jou wil in jou lewe uitlewe teenoor die mense wat jou pad langs kom, om in die wil van ons Here se plan vir jou lewe te bly?

Hoe heerlik eenvoudig is dit nie, maar – hoe verder ek weg van ons Here se plan vir my lewe leef, hoe moeiliker is dit – en vir ‘n “godsdiens-Christen”, is dit heeltemal onmoontlik om so teenoor almal te lewe.

Wat bedoel ek met ‘n “godsdiens-Christen?”

Wel ek sê altyd dat jy twee soorte Christene kry:

Die Jesus-Christen – hulle wat werklik die eie Ek kruisig en in die weë van ons Here Jesus probeer leef.

Godsdiens-Christene is daardie sogenaamde Christene wat so vol van godsdiens en haat, veragting en ander slegte gevoelens teenoor ander mense in hulle harte leef, dat daar net nie plek vir Jesus ook in hulle harte is nie.

Soos ek gesê het, vir nou laat ek jou met hierdie wonderlike wyse raad van Jesus ons Here:

Wil jy weet hoe moet jy jou wil in jou lewe uitleef teenoor die mense wat jou pad langs kom, om in die wil van ons Here se plan vir jou lewe te bly?

Kyk net hoe heerlik eenvoudig is dit nie, maar vir baie mense is dit bykans onmoontlik en vir godsdiens-Christene is dit heeltemal onmoontlik om so in ons Here se plan vir hulle lewens, te leef:

MAT 7:12 “Doen vir ander (dit is alle ander mense) alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen.  Dit is die kern van alles wat die wet en die profete van julle vra.”

(Deel 3 vervolg)

Groete,
Sakkie