IN U BOEK IS HULLE ALMAL OPGESKRYWE: DAE DAT ALLES BEPAAL WAS – DEEL 3

IN U BOEK IS HULLE ALMAL OPGESKRYWE: DAE DAT ALLES BEPAAL WAS – DEEL 3

Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra my die volgende vraag:

Is dit waar dat God reeds besluit het hoe lank ons gaan lewe en ons in elk geval niks daaraan kan doen van hoe lank ons gaan lewe nie?

Ek het toe in my eerste skrywe daarop gewys dat die Woord my vertel dat ons Here ‘n presiese bloudruk en datum vir my uittrede uit hierdie liggaam van my bepaal het.
Ek het toe ook daarop gewys dat die mens, omdat ons na die beeld van ons Here geskape is, deur ons eie wil uit te lewe, aan daardie datum kan verander en dat ons Here, voordat Hy ons geskape het, ook presies geweet het tot waar en watter veranderings ons aan Sy grootse plan vir ons lewe gaan maak.

Ek het toe ook gesê dat ons nie nou maar kan redeneer dat ons nou maar kan lewe soos ons wil nie, want ons einde is tog deur ons Here bepaal.

In my tweede skrywe in hierdie reeks, het ek gewys dat hoe meer ons Here se Liefdeswet in jou lewe gestalte kry, hoe meer lewe jy jou lewe met die wil waarmee Hy jou geskape het volgens die plan wat Hy vir jou in Sy hart daar gestel het :

MAT 22:37 … Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’
MAT 22:38  Dit is die eerste en belangrikste opdrag.
MAT 22:39  Die tweede, ewe belangrike opdrag is:  ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

Ek het toe ook vir jou gewys dat daar ‘n eenvoudige riglyn is wat jy kan volg om sodoende in die plan van ons Here vir jou lewe, te leef naamlik:

MAT 7:12 “Doen vir ander (dit is alle ander mense) alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen.  Dit is die kern van alles wat die wet en die profete van julle vra.”

In hierdie skrywe wil ek nou vir jou wys hoe jy skatte in die Hemel bymekaar kan maak, omdat jy jou wil waarmee God jou geskape het, gebruik om in Sy weë te leef.
Nou wil ek my egter eers haas om te sê dat ek niks kan doen om die ewigheid in die Hemel te kan verdien nie. Die feit dat ek gered is, is alles genade, louter genade

EFE 2:4 “Maar God se onverdiende liefde is oorvloedig.  Die liefde waarmee Hy ons liefhet, is so groot
EFE 2:5 dat toe ons verkeerde lewe ons geestelike dood veroorsaak het, Hy ons saam met Christus lewend gemaak  het.  Dis dus God se onverdiende goedheid wat maak
dat julle gered is!”

Ek neem besluite deur my eie wil te gebruik, dié wil waarmee God my geskape het omdat Hy my na Sy beeld geskape het, en of ek, om dit so te stel, Sy liefdevolle, reddende genade wat Hy na my uithou, neem en myne te maak, of nie – en as ek dit geneem het en myne gemaak het, kan ek ook deur hierdie selfde wil van my besluit om Sy liefdevolle, reddende genade weer later in Sy gesig terug te gooi.

Totdat ek uit hierdie liggaam uittree, leef ek as ek, en nie as ‘n marionet nie.

Nou goed.

Ek het in my vorige skrywes in hierdie reeks genoem van “godsdienstige Christene” en “Jesus Christene.”

Daar is vandag mense of dan “godsdiens Christene” wat vol godsdiens, haat, veragting en allerlei ander slegte gevoelens rondloop en dit ook in hulle soort Christelike godsdiens in verweef, maar weet jy, met daardie soort godsdiens sal ek nie skatte in die Hemel, waar mot en roes dit nie kan verwoes nie, kan bymekaar maak soos Jesus sê ons moet doen nie.

Laat ek eers verduidelik hoe dit werk dat ek skatte in die Hemel kan bymekaar maak.

Ek het jou reeds in my vorige skrywe gewys dat ek niks in hierdie wêreld ingebring het nie en dat ek niks uit hierdie wêreld saam met my kan neem nie.

Die enigste skatte wat ek eendag in die Hemel gaan vind, wat ek hier op aarde bymekaar gemaak het, soos ek die Woord verstaan, is die mense wat ek daar in die Hemel gaan sien  wat ek deur my lewe, dade, en/of woorde, gehelp het om by Jesus uit te kom en wat toe Jesus Christus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker.

Ek gaan egter nie met my haat, veragting en verkeerde gevoelens godsdiens iemand help om in die Hemel te kom nie.

Ek kan net dalk met daardie soort godsdiens, nog mense saam met my hel toe neem, deur hulle te leer om ook in daardie valse evangelie te glo waar jy mag haat en verag en op ander mense neerkyk net omdat ons Here hulle geskape het soos wat Hy hulle geskape het.

Want in Jesus se Evangelie is daar nie plek om mense te haat, te verag, of verkeerde gevoelens teen ‘n mens te koester nie. Nie eens teen my vyande nie:

MAT 5:43 “Julle het gehoor dat gesê is: ‘Jy moet jou eie mense liefhê, maar jy hoef nie jou vyand lief te hê nie.’”

Dit is hoe dit werk in die Mosaïese wet en in die “godsdiens Christene” se evangelie, maar nie in Jesus se Evangelie nie. In Jesus se Evangelie en vir Sy volgelinge werk dit so:

MAT 5:44-48
44 “Maar Ek sê vir julle, julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg.
45 Só sal julle optree soos ware kinders van julle hemelse Vader.  Hy laat immers Sy son opgaan oor slegtes en goeies.  En Hy laat Sy reën val op dié wat reg doen, maar ook op dié wat verkeerd doen.
46  As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter beloning is daar dan vir julle?  Selfs korrupte tollenaars doen presies dieselfde.
47  En as julle net julle eie mense groet, wat besonders doen julle dan?  Doen die heidene nie ook maar dieselfde nie?
48 Wees julle dan volkome in julle liefde, soos julle hemelse Vader volkome in Sý liefde is.  Hy het mos álle mense lief.”

Terug by my wil wat ek in my lewe gebruik om aan God se plan vir my te verander, selfs tot vir hoe lank ek sal lewe.

Of – hoe ek, deur my wil in my lewe uit te leef, dit op so ‘n wyse doen dat ek ons Here toelaat om reg te laat geskied aan Sy plan in my lewe.

Want glo my –

Die wyse waarop ek leef, deur die besluite wat ek neem en dit dan so uitleef, gaan verseker bepaal waar ek die ewigheid gaan deurbring en as ek Hemel toe gaan, watter soort ontvangs ek daar gaan hê.

Daarom moet ek wel deeglik kennis neem van Jesus se woorde as Hy sê:

MAT 6:20  “Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie.”

Jy sien, die Woord sê verder in hierdie verband die volgende:

1 KOR 3:11 “Want niemand kan 'n ander fondament lê as die een wat alreeds gelê is nie – Jesus Christus.
1 KOR 3:12 As enigiemand op daardie fondament bou, (hoe ek vir Jesus lewe) kan hy goud gebruik of silwer of edelstene of hout of hooi of stoppels. ( Die gehalte of kwaliteit lewe wat ek vir Jesus lewe).

Daar kom egter ‘n dag wanneer ek voor Jesus sal staan om my beloning van Hom te ontvang en dan sal Hyself vir my wys wat my lewe vir Hom beteken het.
Sommige mense se lewens sal Hy uitwys dat dit ‘n lewe van kwaliteit vir Hom was, wat beloon moet word.

Dit is die goud-, silwer- en edelgesteente-lewens wat die toets van ons Here sal deurstaan.

Sommige mense egter, wie Jesus werklik aangeneem het as Verlosser en Saligmaker, se lewens sal van so ‘n aard gewees het dat Jesus hulle nie sal beloon nie, alhoewel hulle tog gered is, met ander woorde, die hel sal vryspring.

Hulle is die mense wat die hout-, hooi- of stoppels-lewe vir ons Here geleef het, en wat ons Here se toets nie sal deurstaan nie.

Een ding staan egter soos ‘n paal bo water:

Die lewe wat ek, wie myself ‘n Christen noem, hier op aarde leef, gaan ook bepaal watse soort ontvangs ek aan die anderkant van die graf van Jesus gaan ontvang:

1 KOR 3:13 “Daar kom egter 'n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak. Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou.
1 KOR 3:14 Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word. (Dit is die Christene met die goud of silwer of edelstene lewens.)

1 KOR 3:15 Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, (Dit is die Christene met die hout of hooi of stoppels lewens) sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word. Hulle sal egter wees soos mense wat op die laaste oomblik uit 'n brand gered word.”

Ons, Jesus se volgelinge, is hier met ‘n doel.

Ons is hier om ons Here te verheerlik deur die wyse hoe ons leef en ons is hier om te help bou aan Sy koninkryk, deur byvoorbeeld deur ons lewe, dade en woorde, ‘n getuie vir Hom te wees en so siele na Jesus te lei.

Natuurlik kan sommige van ons net deur ons lewe iets vir ons Here doen.

Ander kan weer net deur hulle lewe en dade iets vir ons Here beteken.

Ander kan sommer deur hulle lewe, woorde en dade iets vir ons Here beteken, maar ‘n wáre kind van ons Here kan nooit, maar nooit, passief wees nie.

So, uiteindelik, soos ek die Woord verstaan, sal my wil, en hoe ek my wil op hierdie aarde gaan uitleef, bepaal watter loon ek van ons Here gaan ontvang, en of ek hoegenaamd loon van ons Here gaan ontvang:

OPB 22:11 "Wie (sy wil uitoefen en) aanhou om kwaad te doen, moet nog meer kwaad doen (want dit is soos sy lewe sal wees) en wie (sy wil uitoefen en) vuil is, moet vuil bly, (want dit is soos sy lewe sal wees) maar wie (sy wil uitoefen en) reg optree, moet voortgaan om reg te doen, (want dit is soos sy lewe sal wees) en wie (sy wil uitoefen en) aan God toegewy is, moet ook verder aan God toegewy bly, (want dit is soos sy lewe sal wees) ."

Ons, wat ons wil na die beste van ons vermoë gebruik om in die weë van ons Here te leef, kan met groot opgewondenheid uitsien na daardie dag wanneer Hy my uit my liggaam die ewigheid laat intree, of, met groot opgewondenheid kan ek uitsien na daardie dag wanneer Hy ons almal wat dan nog in hierdie lewe is, kom haal.

Want wat die geval ook al gaan wees, ons gaan Hom ontmoet en vir ewig by Hom wees en Sy loon vir ons waarmee Hy ons gaan beloon, volgens ons lewe hier op aarde, gaan by Hom wees:

OPB 22:12  “Jesus sê: "Kyk, Ek kom gou! My loon kom saam met My om almal te beloon volgens wat hulle gedoen het.
OPB 22:13 Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde."

Ek het ook ‘n ander gedagte uit die Woord geskryf, waarin jy dalk sou belang stel, wat aansluit by dit wat jy nou gelees het naamlik:  Is eenmaal gered altyd gered?

Groete
Sakkie