U PLANNE VIR ONS KAN MET NIKS VERGELYK WORD NIE

U PLANNE VIR ONS KAN MET NIKS VERGELYK WORD NIE

‘n Persoonlike getuienis

Sakkie Parsons

Ek wil graag vandag met jou deel aangaande my gesprek eendag met ons HERE rakende my wonderlike vrou Cornelia wat nou by Jesus is, maar wat vir 7 jaar in ‘n Versorgingseenheid was.

Na ‘n beroerte ‘n paar jaar gelede en weens dementia wat ook al ver gevorderd was, kon sy nie eintlik meer met my kommunikeer of self beweeg nie.  Sy het egter altyd die vrede van ons HERE in haar hart gehad. 

Ek het altyd elke dag met my gidshond, Pedro, (jy kan ons foto’s op die webtuiste sien) alles saam ongeveer 10km heen en weer gestap om haar te gaan besoek – wat soms ‘n uitdaging was as mens die pad met omtrent 25 kruisings, sowel as vreemde honde wat uit hulle erwe kom en Pedro wil aanval, in ag neem. 

(Vir diegene wat nog nie weet nie, ek is fisies blind). 

Ek noem dit net dat jy kan sien watter wonderlike gidshond ons Here vir my in daardie grootste van alle beproewings in my lewe vir my gegee het, en hoe geseënd ek is.
Mense het destyds vir my gevra hoekom ek dit daagliks doen as sy nie meer kan kommunikeer nie, maar as haar man wat haar liefhet, sou, en het ek na die beste van my vermoë van my kant af haar versorg en sou ek dit doen totdat sy haar laaste tree uit hierdie lewe gee om vir ewig by ons HERE te wees.

Destyds toe sy nog geleef het, een middag nadat ek haar gegroet het en sy rustig was toe ek moes terugkeer huis toe, stap en gesels ek toe so met ons HERE.
Ek sê toe vir Hom:
“Here, ek weet alles werk vir ons ten goede, want dit is wat U van U kinders sê en daar is by my geen twyfel hieroor nie” :

ROM 8:28 En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Ek loop en praat toe met Hom oor haar omstandighede, toe wys ons Here my in Sy groot liefde die volgende:

Ek sê: Toe wys Hy my dit in Sy groot liefde – want onthou:

Hy is die Pottebakker ek is net een van die kruike wat Hy tot Sy verheerliking geskep het.  Hy het nie nodig om aan my te verduidelik hoekom Hy doen soos wat Hy doen nie.

Nou goed.

Jy ken mos die verhaal van Lasarus, sy suster Maria wat altyd by Jesus se voete gesit het en Lasarus se suster Martha – hulle drie met wie Jesus hierdie intieme liefdesverhouding gehad het.
Jy kan hierdie spesifieke verhaal oor Jesus en hulle in JOH 11 lees.

Wel, dit wat ons Here toe so mooi op Sy liefdevolle wyse onder my aandag gebring het terwyl ek so stap, is die volgende:

Ek het natuurlik geweet dat Jesus en hulle verhouding so intiem diep was, dat toe Lasarus siek geword het, hulle net vir Jesus die volgende boodskap kon stuur:

JOH 11:3  Die susters het toe iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, kyk, hy vir wie U lief is, is siek.”

Van Jesus se liefde vir hierdie familie getuig Sy Woord die volgende:

JOH 11:5  Jesus was lief vir Marta, haar suster en vir Lasarus.

Onthou ook destyds het, om dit so te stel, die gewone mense te voet gereis.
Met dit in gedagte sien ons die volgende:

Jesus Christus, God wat mens geword het, gaan rustig aan om te doen wat God Almagtig wil doen.  Al weet Hy dat, as die boodskappers by Hom kom, Lasarus al klaar in die graf is.
Want ons lees:

JOH 11:6  Toe Jesus gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy nog twee dae oorgebly op die plek waar Hy was.

Dan lees ons ‘n bietjie verder hierdie woorde van Jesus:

JOH 11:11 Hierdie dinge het Jesus gesê, en daarna bygevoeg: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.”

Dan, so met dat ons weet dat Jesus twee dae vertoef het waar Hy was, nadat Hy die boodskap gekry het, sowel as Sy woorde dat Lasarus slaap, lees ons hierdie woorde van Martha, as Jesus, menslik gesproke, tog uiteindelik opdaag:

JOH 11:39  Jesus sê toe: “Rol die klip weg.” Maar Marta, Lasarus se suster, sê vir Jesus: “Meneer, hy ruik seker reeds, want dit is die vierde dag.”

Toe!
Wat is die uiteinde van hierdie, uit ‘n menslike oogpunt, hartverskeurende tragedie?

JOH 11:41-44
41  Daarop het hulle die klip weggerol. Jesus het sy oë hemelwaarts gerig en gesê: “Vader, Ek is dankbaar teenoor U dat U na My geluister het.
42  Ek weet dat U altyd na My luister, tog het Ek dit gesê ter wille van die skare wat hier rondom ons staan, dat hulle kan glo dat U My gestuur het.”
43  Nadat Hy dit gesê het, het Hy met ’n kragtige stem uitgeroep: “Lasarus, kom uit!”
44  Die dooie het uitgekom, sy voete en hande nog toegedraai in doeke en sy gesig nog verbind met ’n kopdoek.
Jesus sê vir hulle: “Maak die doeke los en laat hom gaan.”

Dink net aan die geweldige trauma en hartseer wat Martha en Maria deur moes gaan, terwyl hulle sien hoe hulle broer agteruitgaan en Jesus (God wat mens geword het), het dit alles saam met hulle, Sy vriende vir wie Hy baie lief was, deurgegaan – al het hulle dit nie geweet nie maar anders as hulle, het Hý geweet wat die uiteinde van die gebeure gaan wees en wat was die uiteinde!

44  Die dooie het uitgekom, sy voete en hande nog toegedraai in doeke en sy gesig nog verbind met ’n kopdoek.

Ek glo en jy sal dit ook so in jou hart sien en saam met my stem:

As jy toe – nadat Lasarus uit daardie graf gestap het en al die grafdoeke lê daar eenkant saam gebondel op ‘n hoop – vir Martha of Maria sou vra:
“Noudat julle deur al hierdie ontsettende hartseer ondervinding is en met “hindsight” weet, hoe menslik gesproke, Jesus Sy tyd geneem het –
Sou julle weer hierdeur gaan, as julle vooraf ‘n keuse gehad het?”
Is ek seker hulle sou antwoord:
“Ja!  ‘n Duisend maal ja!”

“Nou het jy en ek ook ‘hindsight’ want ons het Lasarus se geval as voorbeeld en JESUS vra van ons om nou, in die beproewing of versoeking waar jy en ek op die oomblik is, ons pad saam met Jesus te stap.

Nou stap ek en jy hierdeur met die wete dat in Sy groot liefde en trou, Hy alles ten goede sal laat meewerk sodat Hy hierdeur verheerlik kan word.”

Sou ek nou werklik vir Hom sê; Nee dankie Here nie vir my nie?
Nee!  ‘n Duisend maal, Nee.

As iemand nou vir my byvoorbeeld sou vra, of ek, as ek my lewe oor kon hê, ek dit nie anders in my eie lewe sou wou hê wat alles in my lewe gebeur het waaroor ek geen beheer gehad het nie, sou ek sê: ‘Nee, ‘n duisend maal, Nee.’ 

Want eerstens: Dit wat gebeur het, het my Skepper toegelaat om te gebeur en dit is die beste wat met my kon gebeur en tweedens: ons Here het my gebruik en ek kon deur al die krisisse waardeer ek moes gaan, met baie mense ontmoet en heerlik getuig oor die grootheid van die wonderlike God wat ons dien.

Wat jy en ek deur die krisisse wat ons beleef moet doen is om in die geloof met vaste tred voort te beweeg en ons oë stip op Jesus te hou:

HEB 12:2  ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!
HEB 12:3  Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaar mense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie.

Ek het mos nou Lasarus as “hindsight!”
Nou roep ek uit terwyl ek in my mensheid soms kreun van die skrikwekkende hartseer pyn in my lewe:

HAB 3:17-19
17  Selfs al sal die vyebome nie bot nie en die wingerd sonder druiwe staan, al het die olyfoes misluk, en lewer die landerye niks op nie, al vergaan die kleinvee in die veld en is die beeskrale leeg;
18  tog, ten spyte van alles, sal ek my verbly in die Here!
Ek sal juig oor God
wat my verlos!
19  Die oppermagtige Here
is my krag!
Hy maak my voete
soos dié van ’n ribbok;
op hoë plekke
laat Hy my veilig loop.

Ja!
Kan ek dit uitroep, al loop die trane soms oor my wange:

PSM 18:7  In my angs het ek tot die Here geroep,
tot my God geroep om hulp.
In sy heiligdom het Hy geluister;
my hulpgeroep het Hy gehoor.

Ek weet nie altyd wanneer Hy my gaan antwoord nie.
Dit mag eers oor twee goddelike dae wees en my omstandighede mag al vir die mense om my ruik – maar uiteindelik, sal ook jou en my doodsdoeke/omstandighede, daar eenkant in ‘n bondel op ‘n hoop lê en sal ons tot Sy verheerliking staan vir almal om te sien wat die Here kan doen!

Ek weet natuurlik nie hoekom Lasarus nie net een dag in die graf moes bly nie, maar vier dae, en hoekom dit in die eerste plek so ver moes gaan nie en of hy ooit weer siek geword het en wat die omstandighede gewees het, toe hy uiteindelik gesterf het nie.

Net soos ek ook nie geweet het hoe lank ek destyds in my omstandighede met my vrou moes wees nie en dat dit toe 9 jaar geduur het nie en hoeveel beproewings ensovoorts vir my voorgelê het nie. 

Net soos ek ook nie in die verlede geweet het hoekom ek moes blind word en hoekom ek destyds moes melanoom kanker kry nie maar ek weet, dat ek in ‘n sondige wêreld lewe en dat daar ‘n satan is wat sy bes gaan doen om my, my geloof in my God te laat verloor en my so uiteindelik in die hel te laat beland.

Dus my vriend/vriendin –

Vir nou hou ek my oë vasgenael op ons Here en doen verder die beste met dit wat Hy my toelaat om die omstandighede mee te hanteer.  Want, prys die Naam van ons Here! – Ek is in goeie, nee, ek is in die heel béste hande!  Want ek is in die hande van Hom wat die heelal en ook vir my geskep het.

Ons glo mos in Jesus Christus, ons Verlosser en Saligmaker, daarom kan ons dit saam met Dawid nou al in oorwinning uitjubel:

PSM 40:6 Here my God,
U het baie wonders gedoen.
U planne vir ons kan met niks vergelyk word nie.
As ek van al U wonderdade wil vertel, is dit te veel om op te noem.

Groete,
Sakkie