VANUIT ‘N ANDER HOEK

VANUIT ‘N ANDER HOEK

Sakkie Parsons

Ek het eendag in ‘n e-pos so ‘n bietjie stoom af geblaas oor die Christene om my, wat partykeer so kla. 

Iemand het, jy kan maar sê, my op ‘n mooi manier toe aangevat oor dit wat ek gesê het.

As ek reg is het ek as ‘n voorbeeld genoem, hoe verkeerd dit is om as Christen van ‘n blou Maandag te praat.

Vir die Christen behoort elke dag die dag van die Here te wees.

Soos die liedjie se woorde gaan:

“This is the day that the Lord has made.

I will rejoice and be glad in it.”

Psm 118:24  Dit is die dag wat die HERE gemaak het; laat ons daaroor juig

en bly wees.

Nou verduidelik ek maar weer uit ‘n ander hoek uit, hoe ek dit sien.

Dit is heeltemal normaal om partykeer hartseer, of sleg, of kwaad ens. te voel.  Ek moet egter sorg dra dat ek nie sondig nie.

EFE 4:26 As julle kwaad word, moet julle oppas dat julle nie daardeur sonde doen nie. Moenie die hele dag kwaad bly en vanaand so gaan slaap nie.

EFE 4:27 Moenie vir die duiwel daardie soort vatkans gee nie.

Wat vir my nie normaal is vir ‘n kind van God nie, is om te kla.

Ek sê weer dat ek van mening is dat ’n Christen wat kla, eintlik vir die wêreld vertel dat sy God, of droogmaak, of sommer ‘n slegte God is, wat nie goed na hom of haar kyk nie.

So, vanwaar ek staan en kyk, lyk ‘n Christen se kla baie na laster.

Ek mag kwaad word.  Jesus het ook.

Ek mag hartseer word.  Jesus het ook.

Ek mag daaroor praat.  Jesus het ook.

Ek mag daaroor huil. Jesus het ook.

MRK3:5 Terwyl Jesus dit sê, het Hy die mense om Hom aangekyk. Hy was kwaad, maar Hy was ook hartseer omdat hulle, hulle nie wou laat oortuig nie. Hy sê toe vir die man: “Steek uit jou hand!” En toe hy sy hand uitsteek, was dit normaal.

Ek sal egter ook ons Here se Naam in die situasie grootmaak, want ek weet verseker, dat niks met my kan gebeur, as dit nie in Sy plan vir my inpas nie.

Dit wat met my gebeur verstaan ek nie altyd nie en baie keer hou ek in my mensheid ook nie daarvan nie maar ek sê altyd vir my vrou en kinders en my vriende en kennisse:

Daar is twee verse in die Bybel wat ek as’t ware my leuse in die lewe gemaak het:

Ek staan op Romeine 8 vers 28.

ROM 8:28 En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Kyk net wat staan hier verder vanaf vers 31

ROM 8:31 Wat sal ons dan van al hierdie wonderlik dinge sê?  As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees?

ROM 8:32 As God werklikwaar nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal aan die dood oorgegee het, is daar tog geen manier waarop Hy nie ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk nie.

God mag dit dalk nie doen soos wat ek wil hê dat Hy dit moet doen nie.  God mag dit dalk ook nie doen wánneer ek wil hê dat Hy dit moet doen nie maar doen sal Hy dit  verseker doen.

Ek staan met my een voet op Rom 8 vers 28 en ek staan met my ander voet op Fil 4 vers 4.

FIL4:4 Wees altyd bly omdat julle Christene is.  Ek sê dit weer:  “Wees bly!”

Paulus verduidelik ons op ‘n baie mooi manier wat ons lewensuitkyk moet wees as die aanslae van die lewe dreig om ons te verswelg.

2 KOR 4:8 Op elke manier word ons onder druk geplaas, maar ons is nie verpletter nie;  ons is verward, maar nie wanhopig nie;

Ek het hierdie heerlike wete wanneer dinge gebeur waarvan ek nie hou nie.

Alles in hierdie lewe gaan tot ‘n einde kom en dan wag die kroon van die ewige lewe vir my.

MAT 5:10 Gelukkig is dié wat vervolg word ter wille van wat voor God reg is, want hulle het deel aan Sy koninkryk.

Ek sluit maar weer af met ‘n gesegde wat ek al deel van my e-pos bediening gemaak het.

As ons sê dat ons Christene is:

“Let us talk the talk, of the walk that we walk.”

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.