VERDRAAIING VAN DIE WOORD OOR DIE DOOP EN DIE DOOP AS ONDERDOMPELING

VERDRAAIING VAN DIE WOORD OOR DIE DOOP EN DIE DOOP AS ONDERDOMPELING

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vertel my, dat toe sy besluit het om haar groot te laat doop, sy taamlik teenkanting, ook in haar familie moes hanteer.

Toe sy vir een van haar familie vra waar dit in die Woord staan, dat babas gedoop moet word, toe kwoteer die persoon aan haar die volgende Skrif wat ek jou nou met jou gaan deel om te wys hoe mense in die geval van die doop ook ons Here se kosbare Woord kan verdraai om hulle soort evangelie van Jesus te verkondig.

Onthou nou –

Ek verkondig nie, dat iemand wat nie groot gedoop is, of glad nie gedoop is nie, hel toe sal gaan nie.

Wat ek wel verseker verkondig is, dat hoe nader jy aan die Woord leef, hoe beter is jou verhouding met Jesus Christus en die uiteindelike bepaling feit wat gaan bepaal waar jy of ek die ewigheid gaan deurbring, is of ons aan die anderkant van die graf gaan arriveer saam met Jesus wie se Heilige Gees reeds aan die kant van die graf in ons woon, of nié in ons woon nie.

Want of Jesus se Heilige Gees in my woon, hang natuurlik af, of ek Hom in alle opregtheid in my hart/lewe ingenooi het en Hom so aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker.

Terug by die dame wat aan my geskryf het.

Die bewys volgens die persoon wat vir die dame wat haar groot wou doop (en dit, hoe wonderlik, toe ook gedoen het), voorgehou het om te wys, dat babas gedoop moet word, is Matteus 19:14 – en ek deel dit met jou en dan wys ek jou ook hoe die Woord daar verdraai was.

Ons lees:

MAT 19:14  Maar Jesus sê: Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.

Kom ons lees nou weer daardie gedeelte maar nie net die een vers nie.  Ons lees nou die gedeelte daarvoor en die gedeelte daarna en dan wys ek vir jou hoe ons duidelik kan sien wat Jesus hier vir ons sê:

Ons lees:

MAT 19:13  Toe bring hulle kindertjies na Hom, dat Hy hulle die hande sou oplê en bid; (hulle wou nie die kinders laat doop nie maar dat Jesus hulle hande sal oplê en vir hulle sal bid) en die dissipels het hulle bestraf.

Dan lees ons:

MAT 19:14  Maar Jesus sê: Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; (ons mag nooit mense verhinder om hulle klein kindertjies na Jesus te bring, sodat daar in die naam van Jesus oor hulle gebid en hulle deur handoplegging geseën kan word nie) want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.

Toe demonstreer Jesus presies waarom Hy gesê het, hoekom ons nie mense moet verhinder om hulle klein kindertjies na Jesus gebring moet word, dat hulle in Sy naam hande op gelê moet word en daar dan vir hulle gebid moet word nie:

Onthou as jy dit lees, dat Jesus het nooit maar nooit iets gedoen, sommer net om iets te doen om mense se grille en giere te plesier nie:

MAT 19:15  En Hy (dit is Jesus) het hulle die hande opgelê en daarvandaan vertrek.

Jesus het hulle beslis nie gedoop nie. 

Gewoon omdat die klein kindertjies nog nie in opregtheid en kennis en insig so ‘n lewensbelangrike, dit is ‘n ewige lewensbelangrike besluit kon neem nie – maar Hy het deur dit wat Hy wel gedoen het, vir ons gewys wat ons oor ons klein kindertjies behoort te doen – en jy as ware gelowige, kan dit self ook doen, maar dit moet in ware opregte geloof in die naam van Jesus Christus gedoen word.

Ek gaan in die toekoms, van tyd tot tyd, as ons Here wil en ons lewe nog meer sulke verdraaiings uit ons Here se kosbare heilige woord met jou deel.

Vir nou nog net dit:

Ek het ook toe ek my bekeer het, besef, dat ek my groot moet laat doop, omdat dit ék is wat die besluit moet neem.  Niemand mag volgens die Woord dit namens my doen nie.

Jy kan die volgende ook op die proef stel as jy wil.

Baie Christene kan nie vir jou sê wanneer hulle hulle harte aan ons Here gegee het nie – gewoon omdat hulle dit nog nooit regtig gedoen het nie.

Dit is so ‘n belangrike besluit.

Dit is ‘n léwensbelangrike besluit.

Dit is ‘n ewige-lewensbelangrike besluit.

Ek verduidelik dit gewoonlik so:

Geen mens vergeet die belangrikste besluit wat jy in jou lewe geneem het nie, dit is nou as dit wérklik die belangrikste besluit in jou lewe was.

Byvoorbeeld –

Ek was 37 jaar met my vrou getroud wie nou by Jesus is, en ek het nog nooit een oomblik gewonder of getwyfel of ek met haar getroud was nie – en dit was die tweede belangrikste besluit wat ek ooit gemaak het.

Die belangrikste een was toe ek vir Jesus volgens die Woord aangeneem het en ek op 25 April 1973, my in die naam van Jesus deur eenmalige onderdompeling laat doop het.

Indien jy nog nie vir Jesus Christus as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker aangeneem het en jou hart en lewe aan Hom gegee het nie, wil ek jou uitnooi om dit nou, direk nadat jy hier gelees het, spontaan met jou hele hart te doen. 

Want dit sal jou ewige eindbestemming bepaal – ‘n ewigheid saam met Jesus wat jou liefhet, in die Hemel, OF ‘n ewigheid saam met satan, in die Hel. 

Daarna volg jy Jesus se voorbeeld aan ons waar Hyself na die Jordaan rivier gegaan het om gedoop te word:

MAT 3:16 En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom.

17 En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.

HAN 2:38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

Groete,

Sakkie