VERGEWENSGESINDHEID

VERGEWENSGESINDHEID

Outeur:  Sakkie Parsons

Iets wat ons nogal partykeer ‘n groot probleem mee het, is vergewensgesindheid.

Ek wil met jou deel wat ons Here nou eendag vir my gewys het maar jy moet asseblief eers die volgende gedeelte lees.

MAT 18:21-35
21 Daarop kom vra Petrus Hom:  “Here hoeveel maal moet ek ‘n medegelowige vergewe wat iets verkeerds teen my gedoen het?  Selfs tot sewe maal toe?”
22 “Nee,” verseker Jesus hom, “nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe!
23 Om hierdie rede kan God se koningsheerskappy vergelyk word met ‘n koning wat besluit het om na te gaan wat sy amptenare hom skuld.
24 Skaars het die ondersoek begin of een word na hom toe gebring wat hom miljoene rande skuld.
25 Toe hy dit nie kon bybring nie, gee die koning opdrag dat hy, sy vrou en sy kinders en al sy besittings verkoop moet word om sy skuld te betaal.
26 Hy val toe voor die koning neer en smeek hom:  ‘Gee my kans, ek sal alles aan u terugbetaal.’
27 Daarop het die koning hom innig jammer gekry.  Hy het hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.
28 Toe die amptenaar daarvandaan weggaan, loop hy egter een van sy medeamptenare raak wat hom net ‘n paar rand geskuld het.  Hy gryp hom toe aan die keel en sê:  ‘Betaal jou skuld!’
29 Sy medeamptenaar val toe voor hom neer en smeek hom:  ‘Gee my kans, ek sal alles aan jou terugbetaal,’
30 Maar daarvan wou sy skuldeiser nie hoor nie.  Hy is daar weg en het hom in die tronk laat gooi, waar hy sou moes bly totdat hy al sy skuld afbetaal het.
31 Toe sy medeamptennare sien wat gebeur het, was hulle uitermate ontsteld.  Hulle het alles wat gebeur het toe aan die koning gaan vertel.
32 Daarop het die koning daardie man laat roep en vir hom gesê:  ‘Jou ellendige vent!  Toe jy my gesoebat het, het ek vir jou al jou skuld afgeskryf.
33 Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek vir jou jammer gekry het nie?’
34 Woedend het die koning hom toe oorgegee aan die folteraars om elke sent uit hom te pers totdat hy al sy skuld betaal het.
35 So sal my hemelse Vader ook met julle maak as julle weier om julle medegelowiges met julle hele hart te vergewe.”

Lees net gou weer hier:

MAT 18:21 Daarop kom vra Petrus Hom:  “Here hoeveel maal moet ek ‘n medegelowige vergewe wat iets verkeerds teen my gedoen het?  Selfs tot sewe maal toe?”

Nou kry hy soos my Pa sou gesê het:
“A mighty surprise.”
Want, as ek dit reg verstaan, sê Jesus dat ek dit aanhoudend moet doen.

MAT 18:22 Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe.

Dan, sodat Petrus en jy en ek nie onder ‘n misverstand sal verkeer, dat ons nou maar ‘n sommetjie kan maak en dan presies weet wanneer ons kan sê ons het nou genoeg vergewe, vertel Jesus ons ‘n verhaal.

In die verhaal skryf die koning ‘n man se skuld af en as jy iemand se skuld afskryf, dan meen dit vir alle praktiese doeleindes dat jy die koste sal dra, of dan uit jou eie sak sal betaal.
Dit is dan presies wat hierdie koning gedoen het.
Hy het die man se skuld afgeskryf, of dan self daarvoor goed gestaan. Dit uit sy eie sak vereffen.

Dit is presies, of dan amper presies wat Jesus gedoen het.
Ek het gesê, amper presies, want jy sien, Jesus het veel meer gedoen –

Hy het nie uit Sy eie sak vir ons sonde betaal nie, Hy het uit Sy eie liggaam ons skuld vereffen en Hy het niks, ja, letterlik níks terug gehou nie.

Op Golgota is Sy Liggaam verder verbrysel toe hulle Hom aan die kruis vasgespyker het.

Vir oulaas is Hy nog verneder, toe die Koning van die konings met Sy skaamte ontbloot gehang het, terwyl die laaste bietjie bloed wat nog kon loop uit Hom getap het en Hy daarmee saam Sy lewe vir jou en my gegee het.

Weet jy hoe het Jesus gelyk toe Hy Golgota toe gestap het?

Lees gou hier:

JES 53:1-7
1 Wie het ons boodskap geglo?  Aan wie het die HERE sy reddende mag openbaar?
2 My dienaar het gegroei soos ‘n loot wat uitspruit in die teenwoordigheid van die HERE, soos ‘n plant wat groei in droë grond  Hy was nie mooi of koninklik sodat Hy ons sou aantrek, of met ‘n voorkoms dat ons van Hom sou hou nie.
3  Hy was verag en verwerp deur mense, iemand wat leed en pyn geken het soos iemand vir wie mense die gesig wegedraai, ‘n man van smart en bekend met hartseer.  Hy was verag, maar ons het nie omgegee nie.
4  Tog was dit ons swakhede wat hy gedra het.  Hy het swaar gedra aan ons pyn.  Ons het al die tyd gedink hy ly omdat God hom straf.
5  Hy is geslaan en gepynig ter wille van ons sondes.  Hy is gestraf sodat ons in vrede kon leef.  Hy is geslaan sodat ons gesond kon word.
6 Almal van ons het weggedwaal soos ‘n klomp skape.  Ons het God se paaie verlaat om ons eie te volg.  En toe het die HERE ons almal se skuld en sondes op Hom laat neerkom.
7 Hy is geslaan en mishandel, maar hy het sy mond nie oopgemaak nie.  Hy is soos ‘n lam wat ter slagting gelei word.  Soos ‘n skaap stil is voor sy skeerders, so het ook Hý sy mond nie oopgemaak nie.

Nou nadat Hy dit alles vir jou en my gedoen het, kom die Koning en Hy sê, dat hy het al ons skuld afgeskryf en Hy verwag dat ons presies ook dit teenoor ons naaste sal doen.

MAT 6:14 As julle die mense vergewe wat teen julle oortree, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.
MAT 6:15 Maar as julle weier om die mense te vergewe, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.

EFE 4:32 Wees eerder vriendelik met mekaar.  Gee vir mekaar om.  Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het.

KOL 3:13 Verdra mekaar en as enigeen ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar.  Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het.
KOL 3:14 Die heel belangrikste wat julle moet aantrek, is die liefde.  Die liefde bind alles volmaak saam.

As ek nie doen wat ons Here in Sy Woord van my vra nie gaan die gewig van my onvergewensgesindheid so swaar word, dat dit my in die hel in gaan trek.

Kyk na daardie gevoelens in jou hart teenoor daardie ander persoon en moet nie dat jou gevoelens teenoor daardie persoon jou dalk uit die hemel hou nie, want daar staan ook geskryf:

DEU 30:19 Vandag gee ek aan jou die keuse tussen lewe en dood, tussen seën en vloek.  Ek roep die hemel en die aarde as getuies vir die keuse wat jy maak.  Mag jy tog die lewe kies sodat jy en jou nageslag mag lewe!

Groete,
Sakkie