VERHEERLIK U SEUN SODAT DIE SEUN U KAN VERHEERLIK

“VERHEERLIK U SEUN SODAT DIE SEUN U KAN VERHEERLIK”

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra my, hoe ek die volgende gedeelte uit die Woord verstaan, maar lees eers gou die hele vers:

JOH 17:1 “Jesus het hierdie dinge gesê, en toe Sy oë hemelwaarts gerig en gesê: "Vader, die uur het aangebreek. Verheerlik U Seun sodat die Seun U kan verheerlik.”

Die gedeelte wat vir die persoon ‘n probleem is, is die volgende:

JOH 17:1  “… Verheerlik U Seun sodat die Seun U kan verheerlik.”

Die eerste wat ek altyd onthou, as ek lees wat Jesus gesê of gedoen het, is die volgende:

Jesus Christus was geheel en al volkome God Almagtig en Jesus was geheel en al volkome mens.
So geheel volkome mens was Jesus, om maar net een voorbeeld te noem, dat Sy Vader in die Hemel vir Sy, om dit so te stel, aangenome ouers moes sê om na Egipte te vlug, anders gaan die bose Herodes, wat ook maar net ‘n gewone mens was, Hom doodmaak.

MAT 2:13 “Ná die vertrek van die sterrekundiges verskyn daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef en sê:  “Staan op en vlug met die Kindjie en Sy ma na Egipte toe.  Bly daar tot ek vir jou sê om terug te kom, want Herodes gaan die Kindjie probeer doodmaak.”

Jesus was ook geheel volkome God Almagtig.

Gewoonlik, omdat ek probeer en gewoonlik nie baie suksesvol nie, om my gedagte uit die Woord nie te lank te maak nie, kwoteer ek net twee voorbeelde uit die Woord om te staaf wat ek sê, maar verdra my tog hierdie keer as ek sommer vir die groot heerlikheid daarvan meer as twee voorbeelde noem om aan te dui dat ek met reg, van jou en my Jesus kan praat as ons Gód, Verlosser en Saligmaker Jesus Christus. Ons lees:

JOH 1:1 Heel aan die begin het die Woord (Gód) reeds bestaan. Die Woord (Gód) was by God, en die Woord (Gód) was self God.

Dan lees ons net ‘n paar verse verder in dieselfde hoofstuk:

JOH 1:14 “En die Woord (Gód) het mens geword en by ons kom woon. Ons het Sy heerlikheid duidelik gesien, 'n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.”

By geleentheid sê Jesus:

JOH 10:30  “Ek en die Vader (Gód) is één."

Toe, omdat die Jode presies geweet het wat Jesus sê, en Hy, volgens hulle gelaster het, wil hulle optree presies soos die (wet) sê dat hulle moes doen as iemand godslasterlik praat:

LEV 24:16  “En wie die Naam van die HERE laster, moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom sekerlik stenig. Die vreemdeling net soos die kind van die land”

JOH 10:31-33
31 “Die Jode het weer klippe opgetel om Hom te stenig.
32 Jesus het hulle geantwoord: "Ek het julle soveel goeie werke gewys wat van die Vader af kom. Op grond van watter een van hulle wil julle My nou stenig?"
33 Die Jode het Hom geantwoord: "Dis nie oor die een of ander besondere daad dat ons jou wil stenig nie, maar oor laster. Jy wat 'n mens is, doen jouself voor as God."

Ek hou myself met moeite in, en ek kwoteer nog net twee voorbeelde uit die Woord dat Jesus ook God Almagtig is:

TIT 2:11-14 
11 “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn
12  en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe,
13  terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,
14  wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as Sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.”

Kyk net hoe begin Petrus sy tweede brief. Dié Petrus wie vir die laaste 3 plus jaar, dag vir dag saam met Jesus was, tot by Jesus se kruisiging en daarna weer tot en met Jesus se hemelvaart:

2PET 1:1  “Simeon Petrus, ‘n dienskneg en apostel van Jesus Christus, aan die wat net so ‘n kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus:”

Met hierdie waarheid wat ek jou nou gewys het as agtergrond, kom ons kyk nou na:

JOH 17:1  “…Verheerlik U Seun sodat die Seun U kan verheerlik.”

Jesus se lewe hier op aarde gaan, om dit so te stel, ‘n klimaks bereik as Hy aan die kruis hang en nou vra Jesus, wie ook volkome mens is, vir Sy vader dat Hy, Jesus, daar aan die kruis verheerlik sal word. Dat Sy Vader dit so sal beskik, dat al wat leef in die heelal, mense, engele en alle ander geeste, sal kennis neem van hierdie groot heerlikheid, dat Jesus, God wat mens geword het, die méns so lief gehad het, dat Hy aan die kruis gaan hang en die skande en wrede dood wat daarmee gepaard gaan verdra het, oor die vreugde vir Hom, wat Hy reeds kon sien, van die míljoene ménse wat as gevolg van Sy offer gered gaan word.

HEB 12:2  “… die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.”

Dat Hy dan sodoende ook God die Vader verheerlik, omdat al wat leef in die heelal, mense, engele en alle ander geeste, kennis sal neem van hoe lief God die Vader die méns gehad het.

Hoe lief het God die Vader die méns gehad?

JOH 3:16 "God het die mensdom só liefgehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
JOH 3:17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.”

Nou moet ek ook sê, dat natuurlik verstaan ek nie alles in die Woord volkome nie en dinge wat ek een manier verstaan, mag iemand anders dalk anders verstaan.

Vir nou sê ek, soos ek al vantevore gesê het, soos my groot held Paulus sê:

1KOR 13:12  “Nou sien ons dinge nog net vaagweg
soos in 'n dowwe spieël,
maar eendag sal alles vir ons
glashelder wees.
Nou verstaan ek net ten dele,
maar eendag sal ek ten volle
verstaan,
net soos God my nou ten volle
verstaan.”

Ja, vir nou, met ‘n heerlike groot rustigheid in my hart, onthou ek oor die dinge wat ek nie heeltemal verstaan nie, asook dit wat ek glad nie verstaan nie, dat ons liefdevolle Here aan ons sê, dat ons nie alles nou hoef te verstaan nie:

JES 55:8  “Want My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie My weë nie, spreek die HERE.”

Vir nou is dit vir my wonderlik, heerlik om Sy Evangelie met die mense te deel, sodat Hy verheerlik kan word in elke mens wat Hom aanneem as Verlosser en Saligmaker. Hoe heerlik om te onthou, terwyl ek Sy wonderlike Evangelie van redding met my medemens deel:

JOH 1:12 “Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in Sy  Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.”

Groete,
Sakkie