VERSLAWING KAN OORWIN WORD

VERSLAWING KAN OORWIN WORD

Sakkie Parsons

In hierdie skrywe antwoord ek ‘n dame, omdat ‘n dame aan my geskryf het maar alles wat ek hier skryf, geld net so goed vir ‘n man.

Iemand wat, soos wat ek dit verstaan, trouplanne gehad het, skryf aan my as volg:
“My hart is ongelooflik seer vanoggend want ek het die naweek uitgevind dat my vriend verslaaf is aan dwelms. Wat staan my nou te doen?
Ek weet nie mooi hoe om die situasie te hanteer nie.”

Ek deel met julle, my mense, hoe ek die persoon geantwoord het:

“Ek stuur jou iets wat ek oor dwelms geskryf het net hierna.
Vir nou net die volgende soos ek dit onder leiding van die Heilige Gees sien:”

Die eerste groot en baie skerp rooi lig wat jy nou duidelik van kennis moet neem, is die feit dat jy nou eers in julle verhouding uitvind van die dwelmprobleem.
Die persoon met wie jy wil trou, was oneerlik teenoor jou en julle is nog nie eens getroud nie!
Jy het nou te doen met ‘n geweldige probleem en die een feit wat nou soos ‘n paal bo water staan is, dat jy nou nie eens amper daaraan mag dink om in ‘n huwelik met hierdie persoon betrokke te raak nie.

Julle sal moet uitvind waar die naaste rehabilitasiesentrum is en hy sal so gou moontlik daar moet uitkom.
Dwelms is ‘n doodloopstraat, wat uiteindelik nog elkeen wat nie daarvan af kon of wou omdraai en daarvan ontslae geraak het nie, vernietig het.
Dit is ‘n groot tragedie maar daar is nog ‘n groter tragedie –
Dit laat ook almal wat intiem by die verslaafde betrokke is en wie nie kop hou nie, deel van die statistiek van daardie tragedie word.

Jy sê, dat hy God ken.
In so ‘n geval Is die rehabilitasie waardeur hy moet gaan nie iets wat nie met groot sukses deurgevoer kan word nie.
Dit hinder my, dat hy God ken maar jy nou eers moes uitvind van die dwelm probleem.
Ek moet hier ook net noem, dat daar ‘n groot persentasie mense is wat, soos jy dit stel, sê hulle ken God en baie van hulle sit selfs gereeld in die kerk maar eintlik wéét hulle net van God en om van ons Here te weet, maak jou nie ‘n kind van God nie.
Ek kan vol godsdiens wees en ter selfde tyd heeltemal sonder ‘n verhouding met ons Here in my lewe wees.
Om Jesus werklk te kien, moet jy in ‘n liefdesverhouding met Hom wees.

Wat is die sigbare bewyse, dat ek Jesus ken en ‘n liefdesverhouding met Hom het?

JOH 14:21  “Wie my opdragte onderhou en hulle gehoorsaam, dít is die persoon wat My liefhet. Wie My liefhet, hom sal my Vader ook liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en Myself aan hom bekendmaak.”

MAT 7:16-20 
16 Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ’n mens ’n boom aan sy vrugte kan       uitken. ’n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosse, of vye van dissels nie.
17  ’n Gesonde boom dra immers goeie vrugte en ’n siek boom slegte vrugte.
18  ’n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra nie en ’n siek boom nie goeie vrugte nie.
19  Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
20  “So sal julle hierdie mense aan hulle vrugte uitken.”

Vroom praatjies tel nie in God se koninkryk nie

MAT 7:21  “Nie almal wat vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie. Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was.

Ek was nog nooit aan dwelms verslaaf nie, maar (en ek weet dit is nie so erg as om aan dwelms verslaaf te wees nie) ek was aan rook verslaaf.
So, ek praat nie van hoorsê, as ek sê dat ons Here ‘n mens wil verlos en ook sál verlos van verslawing, as jy werklik wíl.

Want, hoe kyk ‘n kind van ons Here na hierdie soort ding?

Wel eerstens en onthou ek skryf in hierdie skrywe in hoofsaak aan Christene in Suid-Afrika.  Ek ken nie die wette van ander lande nie.
Ons moet die wette van die land, waar dit nie strydig met ons Here se wet is nie gehoorsaam en om dwelms in jou besit te hê sonder ‘n voorskrif, is teen die wet:

ROM 13:1-3 
1 Julle moet die owerheid gehoorsaam, want God het dit daar geplaas.  Geen owerheid bestaan buite God se toedoen nie.
2  Dit impliseer dat hulle wat weier om die owerheid te gehoorsaam, hulle teen die instelling van God verset. Dié wat dít doen, bring ’n oordeel oor hulleself.
3  Mense wat reg optree, hoef nie vir die owerhede bang te wees nie – die kwaaddoeners wel. As jy op goeie voet met die owerhede wil wees, handel dan volgens die wet en jy sal selfs van hulle lof ontvang!

Verder probeer ons na die beste van ons vermoë om die mense om ons nie aanstoot te gee nie:

2KOR 6:3  Ons gee niemand enige aanstoot nie, met die bedoeling dat ons bediening nie geblameer moet word nie.

By dit alles weet ons, dat ons nie aan onsself behoort nie.
Ons is duur, báie duur gekoop.

1KOR 6:19  Of verstaan julle nie dat julle liggame ’n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon en deur God aan julle gegee is nie? Julle behoort nie aan julleself nie,
1KOR 6:20  want julle is teen ’n duur prys gekoop. Daarom moet julle God met julle liggaam verheerlik.

Nou wil ek net weer iets baie, baie sterk op jou hart druk.
Ek weet nie of jy al iets gelees het waar ek dit genoem het nie, daarom noem ek dit maar weer al het ek dit al baie in van my antwoorde aan mense genoem.

Moet nooit jou hart aan iemand gee, as jy nie eers absoluut seker is, dat daardie persoon eers sy hart aan Jesus gegee het nie.

Daar mag gevalle wees waar ‘n Christen dit wel gedoen het en waar die huwelik uitgewerk het soos wat dit reg is in die oë van ons Here maar ek weet nie van so ‘n geval nie.
Al die gevalle waarvan ek weet, het dit, wetend of onwetend net op groot hartseer vir die Christen uitgeloop.
Ek sê wetend  of onwetend.  Want jy sien baie keer raak die Christen dan later, om aan te pas by die ongelowige, heeltemal los van Christus.
Dit, so glo ek is ook presies waarom ons Here vir ons laat skryf het:

2KOR 6:14-16 
14  Moenie saamspan met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter gemeenskap kan daar wees tussen lig en duisternis?
15  Watter ooreenkoms kan daar wees tussen Christus en Belial? Of watter gemeenskaplikheid kan daar wees tussen ’n gelowige en ’n ongelowige?
16  Watter ooreenkoms het die tempel van God met afgode? Ons is mos die tempel van die lewende God. …

Moet ook nie sê, dat jy hom ná julle huwelik na ons Here sal lei nie.
Daar is baie bedienings in die Woord van ons Here maar dit is nie een van die bedienings, dat ‘n Christen met iemand moet trou en die persoon so na ons Here moet lei nie.
Wat daar wel baie duidelik vir die Christen geskryf staan, wat byvoorbeeld die huwelik aanbetref, het ek reeds met jou gedeel maar ek gee dit net weer en nou in ‘n ouer vertaling:

2KOR 6:14-16 
14 Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?
15  En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?
16  Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, …

Ten slotte wil ek ook net die volgende aan alle dwelm- ens verslaafdes noem:

As ek Jesus Christus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker, maak dit
nie saak hóé sleg my omstandighede volgens myself of die maatstawwe van die
mense om my is nie.
Ons Here kyk na jou en my wie Jesus aangeneem het as ons Verlosser en
Saligmaker en Hy sien een van Sy kinders, ‘n broer of suster van Jesus Christus:

ROM 8:29  Want God het hulle (ons wie Jesus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker) reeds vooruit geken, en Hy het hulle (ons wie Jesus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker) aangewys om net soos sy Seun te word. Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste seun wees, omring deur baie broers en susters. (Dit is jy en ek).

Ek deel gou ‘n gedeelte uit die Woord om te wys dat jy van verslawing en wat ook al genees kan word:

1KOR 6:9-10
9  Besef julle dan nie dat mense wat ’n sondige lewe lei, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie. Mense wat ’n onsedelike lewe lei, afgodsdienaars, egbrekers, manlike prostitute en die mans wat met hulle omgaan,
10 diewe, gierigaards, drinkers, kwaadpraters, swendelaars – nie een van hierdie mense sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

Hulle van wie jy nou gelees het is op pad hel toe maar prys die Naam van ons Here, dan lees ons ook:

1KOR 6:11  Daar was ’n tyd toe party van julle presies so was, maar nou is julle sonde afgewas (want sommige van ons het opreg vergifnis en of verlossing gevra en dit ontvang) en God het julle aan Homself toegewy. Julle is vrygespreekte mense op grond van wat die Here Jesus Christus en die Heilige Gees van God vir julle gedoen
      het.

So, al is jy aan wat ook al verslaaf en al is jou omstandighede as gevolg daarvan
hóé sleg in jou eie of die oë van die mense.
Jy kán gehelp word en as jy op Jesus vertrou en gebruik maak van die
hulpmiddels wat Hy daar vir ons gestel het, kan en sál jy uit jou omstandighede kom –
Want so sê Jesus in Sy Woord vir ons:

MAT 11:28-30 
28 “Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik.
29  Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry.
30  Want my juk sal sag op julle skouers rus en my las is lig om te dra.”

MAT 12:20  ‘n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en ‘n lamppit wat rook, sal
Hy nie uitblus nie, totdat Hy die reg tot oorwinning uitbring.

As jy hierdie gedagte uit die Woord lees en jy ervaar dat dit vandag op jou
betrekking het, dan praat ons Here nou met jou in jou hart en die probleem in jou
lewe hoef nie noodwendig dwelms te wees nie.
Hy sê nou ook aan jou deur hierdie skrywe:

JES 1:18  “Kom nou, laat ons die saak uitpraat,” sê die Here. “Maak nie saak hoe diep die vlek van julle sonde is nie, Ek kan dit verwyder.  Ek kan julle so skoon maak soos sneeu wat pas geval het. Selfs al is die vlek so rooi soos purper, Ek kan julle wit maak soos wol.

Groete,
Sakkie
E-pos:   bediening@sakkieparsons.co.za
Webtuiste:   www.sakkieparsons.co.za
Sel:            083 457 6669
  
Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”
Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za
Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.
Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.