VLUG VAN HIERDIE DINGE WEG

VLUG VAN HIERDIE DINGE WEG

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my – maar voordat ek met jou deel wat die dame se vraag aan my was, net so ‘n bietjie inligting uit haar brief aan my:

Al die getalle wat ek noem is fiktiewe getalle, maar hulle is almal minder as die werklike getalle.

Sy en haar man was 20 jaar getroud, toe los hy haar vir ‘n meisie omtrent dieselfde ouderdom as hulle dogter.  Sy is nou al 7 jaar alleen, dit is hoe lank dit haar geneem het om oor hierdie tragedie in haar lewe te kom.
Sy begin nou voel dat sy weer ‘n maat sou wou hê, maar omdat sy ‘n belydende Christen is, wil sy nie met iets begin wat verkeerd is in die oë van ons Here nie.
Sy sou egter nie eensaam en alleen wil oud word nie.  So – mag sy weer trou?

Hier is hoe ek dan hierdie soort probleem sien:

Eers moet ons baie duidelik verstaan. Ons Here haat egskeiding:

MAL 2:16  “Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel, en dat ‘n mens sy kleed met geweldpleging bedek, sê die HERE van die leërskare. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou nie.”

Vir ons Here is egbreuk omtrent net so erg soos iemand wat moord pleeg en met sy bebloede klere van sy slagoffer en met die moordwapen in die hand verder deur die lewe gaan. Want

Hy is almagtig en sien alles altyd, om dit so te stel, in die teenswoordige tyd.
Volgens wat ek die Woord verstaan is daar naas sonde teen die Heilige Gees, nie ‘n groter euwel in die oë van ons Here as egskeiding nie.

Dit is ‘n geweldige groot tragedie in die Christendom, dat ons nie ‘n tree agteruit hoef te staan by die wêreld as dit by egskeiding kom nie.

Ons as Christene wat juis soos die stad op ‘n berg ook in die huwelik behoort uit te staan van hoe ‘n huwelik behoort te funksioneer.

MAT 5:14 “Julle is die lig wat die wêreld moet verlig.  ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie!”

Ek is van mening dat een van die grootste redes waarom so baie Christen huwelike misluk, is omdat ons die eerste beginsel van ‘n Christen se lewe en natuurlik ook sy huwelik, gewoonlik nie in ag neem nie, en as ons dit nog doen, is dit baie laag op ons prioriteitslys en word sommer maklik van die tafel gevee as dit bots met ons, kom ons noem dit maar, liefde of verliefdheid. En dit is:

MAT 6:33 “Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit, dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg.”

Met ander woorde, die meeste Christene sal heel laaste of daar rond, wonder of hulle lewensmaat darem ‘n Christen is, en as dit nie so is nie, wel, dit is dan maar net een van daardie dinge.

Terwyl die Woord ons ten strengste verbied om met iemand te trou wat nie ‘n Christen is nie:

2KOR 6:15 “Watter ooreenkoms kan daar wees tussen Christus en Belial? Of watter gemeenskaplikheid kan daar wees tussen 'n gelowige en 'n ongelowige?

2KOR 6:16 Watter ooreenkoms het die tempel van God met afgode? Ons is mos die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het:
"Ek sal onder hulle woon en rondbeweeg, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees."

Ek stel dit altyd so:

Moet nooit eens aan ‘n huwelik met iemand dink, as jy nie eers vasgestel het dat sy/hy ‘n belydende Christen is nie.

Anders gestel:

Moet nooit jou hart aan iemand gee as jy nie heeltemal seker is, dat daardie persoon reeds haar/sy hart aan Jesus gegee het nie.

Terug by die vraag wat aan my gestuur gewees het:

Ons Here haat sonde maar ons Here het die sondaar lief en as ek sê “die sondaar,” bedoel ek die hele mensdom se sondaars.

JOH 3:16 "God het die mensdom (dit is alle mense) só liefgehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
JOH 3:17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.”

Daarom, al het ons Here so ‘n afsku in egskeiding, het hy tog vanweë die mens vir wie Hy so ‘n geweldige groot liefde het, in die Ou Verbond, vir Israel om dit so te stel, toegewings gemaak as dit by die huwelik kom. Ons lees in die Woord:

MAT 19:3-9
3 “Daar het toe Fariseërs na Hom toe gekom in ‘n poging om Hom in ‘n strik te laat trap.  Hulle vra Hom toe:  “Mag ‘n man sommer oor enige onbenulligheid van sy vrou skei?”
4 Hy antwoord hulle: “Het julle nie in die Skrif gelees dat die Skepper die mens van die begin af man en vrou gemaak het nie?
5 En die Skrif sê verder:  ‘Daarom sal ‘n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg.  So sal hulle (soos ons Here hulle sien) tot een liggaam verenig word.’
6 Hulle is dus (wat ons Here aanbetref) nie meer twee nie, maar een liggaam.  Wat God so saamgevoeg het, mag ‘n mens nie uitmekaarskeur nie.
7 Hulle vra Hom: “Maar waarom het Moses dan gesê ‘n man kan sommer net vir sy vrou ‘n skeidokument gee en haar dan laat gaan?”
8 Hy sê vir hulle: “Moses het egskeiding toegelaat as ‘n toegewing aan die sondige hardheid van julle harte, maar dit was nie wat God oorspronklik bedoel het nie.
9 Dit verseker Ek julle, ‘n man wat van sy vrou skei oor enige ander rede as oor huweliksontrou en met iemand anders trou, pleeg (soos ons Here dit sien) self egbreuk.”

Sien jy wat sê Jesus, God wat mens geword het?

MAT 19:8 “ Hy sê vir hulle:  “Moses het egskeiding toegelaat as ‘n toegewing aan die sondige hardheid van julle harte, maar dit was nie wat God oorspronklik bedoel het nie.”

Ons het nou reeds gesien, dat ons Here die mensdom, ten spyte van sy sonde so liefgehad het dat Hy Sy Seun as offer vir ons na die wêreld gestuur het.

Met dit in gedagte is dit tog geheel en al ondenkbaar dat ons Here nou iemand sal straf vir die boosheid van iemand anders.

Daarom is ek oortuig in my hart dat ons Here genadig is onder sekere omstandighede waar dit by egskeiding in die Nuwe Verbond kom, net soos wat Hy uit Sy groot Goddelike liefde, in die Ou Verbond ‘n uitsondering gemaak het en ek dink die dame wat aan my geskryf het, is in die Christen se lewe so ‘n klassieke geval en kan ek amper in my hart hoor hoe ons Here van ‘n geval soos die dame sin aan haar sou sê:

MAT 19:8 “ Hy sê vir hulle:  … as ‘n toegewing aan die sondige hardheid van julle harte, maar dit was nie wat God oorspronklik bedoel het nie.”

Dit is vir my geheel ondenkbaar dat ons Here van haar sal verwag om nou eensaam en alleen deur die lewe te gaan, net omdat haar gewese man ‘n verkeerde keuse gemaak het.
Dit nadat Hyself ons as sosiale wesens geskape het wat nie alleen deur die lewe hoef te gaan nie:

GEN 2:18  “Daarna sê die Here God: “Dis nie goed dat die mens alleen is nie; Ek sal vir hom ‘n metgesel maak, sy gelyke wat hom kan help.”

So, ek wil vir Christene wie se huwelike op die rotse geloop het en dit werklik nie hulle skuld was nie en wie nou met skuldgevoelens rondloop en uit vrees dat hulle verkeerd in die oë van ons Here gaan handel, as hulle weer met ‘n verhouding begin, sê:

Moet nou nie verder skuldig voel nie.

Sorg dat jou lewe met ons Here reg is en gaan voort met jou lewe.

Dit is verseker nie die wil van ons Here dat jy nou gestraf moet word vir die sonde van iemand anders nie.

Hy sal nooit iemand wat uit ‘n gebroke huwelik kom, straf oor iets wat iemand anders verkeerd gedoen het nie.

Hy sê dan ook vir ons in Sy Woord en ek kwoteer uit die Nuwe Testament net twee gedeeltes van die baie wat ek uit die Woord kon gebruik het, om aan te toon dat ekself vir dit waarvoor ek verantwoordelik is, voor ons Here sal staan:

ROM 14:11  “Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.
ROM 14:12  So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.”

2KOR 5:10  “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.”

Dan is ekself ook in my eie hart oortuig dat as ‘n kind van ons Here in ‘n huwelik, fisies, emosioneel, seksueel, of verbaal mishandel/geteister word, en die persoon in die huwelik wat dit doen, nie verander nie, volgens dit wat ek in die Woord sien wat ons Here verafsku, die een wat so mishandel/geteister word, uit so ‘n huwelik behoort te stap, en ek deel met jou net een voorbeeld uit die Woord waaronder ek glo jy een of meer van die kenmerke van hierdie soort afskuwelikhede sal herken, wat ek nou genoem het:

ROM 1:28-30
28 “Inderdaad, omdat hulle geweier het om aan God die erkenning te gee wat Hy verdien, het Hy hulle oorgegee aan hulle skewe ingesteldheid. Gevolglik doen hulle allerlei onbehoorlike dinge.
29 Hulle lewe word gekenmerk deur elke vorm van ongeregtigheid, boosheid, grypsug, kwaadwilligheid; hulle is vol jaloesie, moord, twisgierigheid, skelmstreke, slegte bedoelings en skinderpraatjies.
30 Hulle steek kwaad, haat God en is arrogant, hooghartig en verwaand; hulle is vindingryk om slegte dinge te bedink en ongehoorsaam aan hulle ouers;”

As jy in so ‘n huwelik is waar die persoon wat hom/haar aan hierdie soort afskuwelikhede skuldig maak naamlik, fisies, emosioneel, seksueel, of verbale mishandeling, en nie wil verander nie, en jy bly in so ‘n huwelik, kan jou geestesgesondheid, in Engels “sanity” en/of selfs jou lewe, in wesenlike gevaar beland. Om woorde van my groot held Paulus te gebruik:
“Vlug van hierdie dinge weg.”

1TIM 6:11  “Maar jy, man (vrou) van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid.
1TIM 6:12  Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is …”

Ek sluit af deur net weer te herhaal wat ek reeds aan jou genoem het en ek wens dat jy werklik kan insien hoe uiters belangrik dit vir ‘n ware, om dit so te stel, goddelike huwelik is dat dit jou eerste prioriteit in ‘n verhouding sal wees.

Moet nooit jou hart aan iemand gee as jy nie heeltemal seker is dat daardie persoon werklik reeds haar/sy hart aan Jesus Christus gegee het nie.

Ek het ook twee ander gedagtes uit die Woord geskryf waarin jy belang mag stel en wat ek met graagte aan jou op aanvraag sal stuur.

Die name van die twee gedagtes uit die Woord is:
Oor saambly.
Asook:
Christelike erkende huwelik, of saambly.

Groete,
Sakkie