VOEL JY DALK DAT JY NIKS VIR JESUS KAN BETEKEN NIE?

VOEL JY DALK DAT JY NIKS VIR JESUS KAN BETEKEN NIE?

Sakkie Parsons

Daar is mense wat dink:

“Ek is nou wel ‘n Christen maar ek kan nie preek nie, ek kan nie sing nie, ek kan nie eintlik getuig nie en ek kan selfs nie in die openbaar bid nie.  Eintlik beteken ek min of niks vir die koninkryk en Evangelie van Christus nie.”

Ek wil nou vir jou sê, dat dit na my mening ‘n leuen uit die bose gedagtewêreld van satan is en as jy so redeneer, moet jy nou asseblief ophou om na satan se vieslike leuen te luister.

Die blote feit dat ons Here jou geskep het, is al klaar vir jou ‘n tasbare bewys dat Hy ‘n wonderlike plan met jou lewe het, want ons Here doen nooit iets sommer net om iets te doen nie.

Ook kan jy gerus in gedagte hou, dat al die planne wat ons Here maak, die heel beste planne is, wat daar kan wees.
So, Sy plan met jou, is die heel beste plan vir jou wat daar is.

Voor ek met jou uit die Woord deel, wat my op die gedagte gebring het om hieroor met jou te deel, vra ek dat jy net eers hier lees.

JES 44:24  So sê die HERE, jou Redder wat jou in die moederskoot gevorm     het:  “Ek is die HERE wat alles geskep het.  Ek alleen het die hemel oopgespan.  Ek alleen het die aarde gevorm.  Wie was saam my My?”

JER 1:5  “Ek ken jou nog voordat jy gevorm is in die skoot van jou moeder.  Voor jou geboorte al het Ek jou gekies en aangestel om namens My te praat met die nasies van die wêreld.”

Nou wil ek jou wys, wat ons Here my gegee het om met jou te deel:

HAN 16:27-34 
27 Die tronkbewaarder het wakker geword en die tronkdeure wawyd oop sien staan.  Hy het aanvaar die gevangenis het ontsnap, en sy swaard uitgetrek om homself dood te maak.
28  Maar Paulus het met ‘n harde stem geskreeu:  “Moenie jouself iets aandoen nie!  Ons is nog almal hier!”
29  Die bewaarder het toe ‘n lig gevra en die sel ingestorm.  Hy het
begin bewe en voor Paulus en Silas neergeval.
30  Hy het hulle toe buitetoe gevat en gevra:  “Menere, wat moet ek
doen om gered te word?”
31  Hulle het hom geantwoord:  “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en al die lede van jou huishouding.”
32  Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die
mense in sy huishouding verkondig.
33  Al was dit reeds baie laat in die nag, het hy Paulus en Silas se
wonde versorg.  Hy is toe daar en dan gedoop, en ook al sy mense.
34  Toe bring hy hulle in sy huis in en sit vir hulle ‘n ete voor.  Hy en
sy hele huishouding was baie bly omdat hulle nou in God geglo het.

Die rede waarom hierdie man wou selfmoord pleeg was, omdat hy geweet het, dat hy in elk geval doodgemaak gaan word, omdat sy gevangenis ontsnap het.
Nou sien hy egter so ‘n verstommende gesindheid by sy, jy kan maar sê vernaamste gevangenis, dat hy ook soos hulle wou wees.

  HAN 16:30  Hy het hulle toe buitetoe gevat en gevra: Menere, wat moet ek doen om gered te word?

Dit was egter nie net hy wat beïndruk gewees het met Paulus en Silas se gesindheid nie.
In die tronk was daar natuurlik ook ander gevangenis

HAN 16:25  Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing.  Die ander gevangenes het na hulle geluister.

As ek die helfte moet glo wat ek al gelees het oor gevangenisse van daardie
tyd, is die meeste moderne gevangenisse, ‘n piekniek. maar kyk wat gebeur
nou:

HAN 16:26  Skielik kom daar ‘n groot aardbewing sodat die fondamente van die tronk geskud het.  Al die tronkdeure het oopgevlieg en al die gevangenes se kettings het losgekom!

‘n Mens kan dit nog verstaan dat Paulus en Silas gebly het waar hulle was
maar daar staan die tronkdeure oop en al die gevangenis se boeie is los en
sekerlik was daar van hulle wat al lank onder daardie haglike omstandighede
is en almal bly net daar waar hulle was.

HAN 16:28  Maar Paulus het met ‘n harde stem geskreeu:  “Moenie jouself iets aandoen nie!  Ons is nog almal hier!”

Wat ‘n geweldige uitwerking het daardie twee kinders van ons Here se
gesindheid en lewens op die mense om hulle gehad.

Dit is dan nou wat ek jou wil wys –
Hulle was mense soos jy en ek.
Hulle het Jesus se inwonend Gees in hulle gehad, net soos jy en ek.
Jy sien –

Jy hoef nie te kan preek om mense na Jesus te bring nie. 

Daardie tronkbewaarder het nie Paulus hoor preek, voordat hy hom gevra het wat hy moes doen om ook soos Paulus te wees nie.  Hy het Paulus se lewe gesien.
As jy nie kan sing nie, wel jy hoef nie te kan sing nie.
As jy nie kan preek nie, wel jy hoef nie te kan preek nie en so kan ek aangaan
maar soos Paulus het jy en ek ‘n lewe.

Soos ek al by geleentheid gesê het, sê ek nou maar weer.
Die treffendste, doeltreffendste, beste preek wat jy kan preek, kyk maar net na dit wat ons gelees het, is jou lewe wat jy lewe.

So, wat ek altyd vir mense sê, wat vir my sê, dat hulle eintlik voel hulle beteken niks in die Koninkryk  nie, Is – preek jou preek of dan, lewe jou lewe.

Ek sluit af met ‘n paar gedeeltes uit die Woord, waarna jy kan kyk wanneer jy tyd het, om jou te help en te ondersteun in die verkondiging van die Evangelie
van Jesus deur jou lewe.

Want glo my, dit is baie makliker om in die kerk te sing en te getuig, as wat dit búíte die kerkgebou is, om deur jou lewe te sing en te getuig en só die
Evangelie van Jesus te verkondig.

MAT 5:15 “ ‘n Mens steek ook nie ‘n lamp op en maak dit dan onder ‘n emmer toe nie.  Allesbehalwe!  Jy sit dit bo-op ‘n lampstaander.  Dan maak dit lig vir almal in die huis.
MAT 5:16  Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ‘n helder lig sal laat uitstraal.  Dan sal die mense dit sien, en julle hemelse Vader daarvoor prys!”

ROM 14:8  As ons leef, leef ons mos vir die Here, en as ons sterf, sterf ons vir Hom.  Of ons dan lewe of sterwe, ons is volkome sy eiendom.

GAL 2:20  Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my.  Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God.  Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf.

GAL 5:24-26 
24 Christene is mense wat die hartstogte en die begeertes van hulle sondige geaardheid gekruisig het.
25  Ons lewe deur die Gees;  daarom moet die Gees ook ons leefstyl bepaal.
26  Ons moenie te veel van onsself dink, mekaar irriteer of op mekaar jaloers wees nie.

1KOR 10:31  Wat julle ook al eet of drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.
1KOR 10:32  Moenie die Jode aanstoot gee nie, ook nie vir die heidene of vir
die gemeente van God nie.  Dit is ook my beleid.

1PET 2:12-15 
12 Handhaaf ‘n voorbeeldige leefstyl onder die nie-Christene, selfs al kla hulle julle aan van wangedrag.  Hulle sal dan julle goeie gedrag sien en God die eer daarvoor gee wanneer Hy kom rekenskap vra.
13  Omdat die Here dit so wil hê, moet julle alle gesag aanvaar – die koning as staatshoof
14  én die amptenare wat die koning benoem het.  Die koning het ‘n
mandaat aan hulle gegee om dié wat kwaad doen, te straf, maar erkenning
te gee aan dié wat goeddoen.
15  Dit is God se wil dat julle goeie gedrag die mense wat uit
onkunde van julle kwaadpraat, sal stilmaak.

1PET 4:11  Het jy die gawe ontvang om te preek?  Dan moet jy só preek dat Gód verheerlik word deur dit wat Jesus Christus moontlik gemaak het.  Aan Hom behoort alle heerlikheid en krag tot in ewigheid!  Amen.

1PET 4:14  Beskou julleself gelukkig wanneer julle beledig word omdat julle Christene is.  Dit is ‘n bewys dat die Gees wat heerlikheid bewerk, die Gees van God, in julle bly.

MAT 5:11  Gelukkig is julle wanneer julle bespot en vervolg word en
allerhande leuens oor julle versprei word omdat julle my dissipels is.
MAT 5:12  Wees bly, ja, jubel daaroor, want God sal julle ryklik daarvoor
beloon.  Onthou, so het hulle die profete voor julle ook vervolg.

JHN 15:8  Dit is juis hierin dat my Vader verheerlik word, dat julle baie vrugte oplewer en my dissipels is.

‘n Pastoor kennis van my en ek, het eendag oor hierdie saak geredeneer, en hy maak toe die volgende stelling:
“Ek het tot die gevolgtrekking gekom, dat Christen wees, is nie vir sussies nie.”
Ek sekondeer daardie stelling met, dat ons mag swak wees maar ons is verseker nie sussies nie.

Daarom, soos die kinders in die Sondagskool sing, getuig ek ook:
“I’m in the Lords army.”

Hier is ‘n oorlogskreet wat ons Here op my hart gelê het, wat jy as Jesus se soldaat daagliks in jou hart kan uitroep as jy vir Hom moet uitstaan:

“As Jesus se dissipel is dit daagliks nou my strewe,
om Sy evangelie te verkondig, deur die lewe wat ek lewe.”

                 
Groete
Sakkie