VOLG ONS HERE BLINDELINGS

VOLG ONS HERE BLINDELINGS.

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra my, hoekom God dan niks doen aan al die verkeerd wat in die wêreld aan die gang is nie  en so tussen die lyne lees ek amper iets soos wanhoop oor die gemors waarin die wêreld is en dit lyk volgens die persoon of God eenvoudig niks doen nie.

Hier is in kort hoe ek na  hierdie soort probleem kyk:

My eerste beginsel as dit by hierdie soort ding kom is dat ek ons Here blindelings volg.
So met ‘n glimlag.
Dit doen ek sommer letterlik en figuurlik. (Ek is blind)

As ek aan hierdie soort ding in die lewe dink, is daar veral  die volgende gedeeltes uit die Woord wat ek in my hart oproep:
Ek is maar net ‘n mens, ‘n baie, baie klein deeltjie van die heelal wat deur ons almagtige alwetende God geskep is en ek persoonlik, sal nie eens daaraan dink om te begin om te probeer te verstaan hoe ons Here werk, of om Hom te bevraagteken nie, maar ek verstaan terdeë as ek lees:

JES 55:8  “My gedagtes is anders as julle s’n, en julle paaie is nie my paaie nie,”
sê die Here.
JES 55:9  “Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is wat Ek doen, hoër as wat julle doen, en my gedagtes hoër as julle gedagtes.

Nou sê ek nie dat iemand anders hel toe sal gaan as hulle ons Here vrae oor al die gemors in die wêreld vra nie.  Dit is ‘n saak tussen daardie persoon en ons Here maar in my eie lewe het ek van my bekering af alles wat met my en om my gebeur nog nooit by ons Here bevraagteken nie.

Toe my vrou byvoorbeeld met Alzheimer gediagnoseer was, het ek natuurlik baie gehuil want ek is lief vir haar maar ek het net altyd vir ons Here gesê:
“Here ek verstaan nie hoekom dit gebeur nie maar ek weet U is in beheer en dit is vir my goed genoeg.”
Toe ons Here ‘n wonderwerk gedoen en haar genees het, het ek ook nie vrae gevra nie maar ons Here se Naam groot gemaak.
Want vir my persoonlik, ‘n dissipel van ons Here, is dit gewoon net logies om so te lewe terwyl ek ook onthou:

ROM 9:20  O mensekind, sit jou hand op jou mond! Wie is jy om God te kritiseer! (of volgens my redenering te bevraagteken) Kan die produk van iemand se handewerk vir sy vervaardiger sê: “Hoekom het jy my juis só gemaak?”

Ek verstaan byvoorbeeld ook nie hoekom ek met ‘n oog probleem gebore was en toe later my sig verloor het en nou blind is nie.

Ek het ook nie verstaan hoekom ek in 1997 kanker gekry het nie.
Want, met my menslike verstandjie kyk ek soos my groot held Paulus en al wat ek sien is iets wat soms vir my wil-wil sin maak maar in geheel, omdat ek maar net ‘n mens is, bly dit grootliks ‘n raaisel en omdat God in beheer is – Prys Sy wonderlike Naam – is dit vir my persoonlik die heel beste so:

1KOR 13:12  Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ’n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder wees. Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan.

Vir nou kyk ek na myself en die dinge in my lewe en ek kyk rondom my na die dinge in die wêreld en ek het ons Here se vrede in my hart omdat ek weet:

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Natuurlik gebeur daar dinge wat my hartseer maak.
Natuurlik gebeur daar dinge wat my kwaad maak en so kan ek aan en aan gaan maar dan onthou ek ROM 8:28 en ek word heerlik rustig.
Want God is in beheer en daarom, kan ek ten spyte van wat ek sien en beleef altyd vir mense sê:
“God is in beheer en die saak loop mooi.”
Ja, omdat ek weet wat ek weet het ek hierdie gerustellende en koesterende vrede van ons Here in my hart:

JOH 14:27  “Ek laat vir julle vrede na; my vrede (Ek is ten volle in beheer) deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie.

Ek wil jou aanmoedig om as volg na die lewe te kyk en na die beste van jou vermoë so te lewe en dan sal jy verseker nie so vol bekommernis van hierdie wêreld wees nie –

Werk daaraan om met die liefdevolle hulp van ons Here in jou lewe vir beter te verander, dit wat jy kán verander en los dit wat jy nie kan verander nie in die hand van ons Here.  Jy kan tog niks daaraan doen deur daaroor te bekommer nie.
Lewe dan as kind van ons Here verder jou getuienis vir ons Here uit as volg:

HEB 12:1  … kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê,
HEB 12:2  ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!
HEB 12:3  Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie. 

Onthou: swaarkry is deel van God se opvoedingsprogram.

Paulus beskou hierdie lewe as ‘n leerskool en gebruik die woord ‘onderrig’ wanneer hy deur die moeilikste omstandighede gaan:

FIL 4:12  Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê;  in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig:  om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly." 

Mag dit vir jou ‘n geseënde dag wees.

Groete,
Sakkie