VOLHARD TOT DIE EINDE !

VOLHARD TOT DIE EINDE !

Sakkie Parsons

Iemand stuur aan my ‘n gedeelte pragtige kommentaar uit die Bybel in Praktyk en ek deel ‘n gedeelte uit daardie skrywe aan my met jou.
Die opskrif van dit wat aan my gestuur was is:

‘n Oproep tot die gelowiges om te volhard en so te ontvang wat God beloof het.

Die gedeelte wat ek hier met jou wil deel uit die Bybel in Praktyk (bl 1926), is die volgende:

“God gebruik dikwels swaarkry wat mense jou deur beledigings en vervolging aandoen om vir die wêreld te wys, asof in ‘n vertoonkas of op ‘n teaterverhoog, hoe Sy kind beproewings verwerk.  Al beleef die mense wat jou laat swaarkry dit self dalk as ‘n openbare bespotlikmaking, God is eintlik besig om met jou te skou.  Hierdie wete dat God met jou skou, jou gebruik as vertoonkas om die krag van die ware geloof uit te stal, gee jou die krag om te volhard!”

HEB 10:33-34
33 Party van julle was blootgestel aan openbare bespotting; ander weer het hulle vereenselwig met dié wat so behandel is.
34 Julle het saam gely met hulle wat in die gevangenis was en toe hulle julle van julle besittings beroof het, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ’n beter en permanente besitting het.

Dan lees ons verder in hierdie gedeelte uit die Bybel in Praktyk:

“Die skrywer wou sy lesers aanmoedig om die egtheid van hulle geloof deur hulle volharding in tye van uiterste swaarkry te bewys.  Hulle moes nie moedeloos raak en tou opgooi nie.  Geloof behels dat ‘n mens jou vertroue stel op dit wat Christus reeds vir jou gedoen het, maar dit behels ook dat jy jou hoop vestig op dit wat Hy nog in die toekoms vir jou gaan doen.”  

HEB 10:35-38
35 Moenie hierdie vertroue in God deur julle vingers laat glip nie. Dit hou vir julle ’n groot beloning in.
36 Wat julle nodig het, is om te volhard sodat julle kan voortgaan om God se wil te gehoorsaam. Dan sal julle ontvang wat God beloof het.
37 Nog net, soos die Skrif sê, “’n baie kort tydjie, en Hy wat op pad is, sal kom.  Hy sal nie talm nie.
38 Dié mense wat my wil doen, sal uit die geloof lewe.
Maar dié wie se moed hulle begewe – van hulle wil Ek niks weet nie.”

Tot so ver die gedeelte wat aan my gestuur was.
Kind van God, kyk dus in die gees na jouself – maar nie na hoe jy struikel nie, want ons almal struikel dikwels – maar kyk na jou geloof in Jesus Christus en jy sien pure skougehalte!

Nou deel ek met jou ten slotte nog ‘n paar gedeeltes uit die Woord om jou, kind van God, wat deur moeilike tye gaan, moed te gee, om te volhard tot die einde en onthou as jy dit lees, dit is God se woorde, nie ‘n mens se woorde wat jy lees nie.

1KOR 10:13  Onthou, die versoekings (beproewings) wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking (beproewing) te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking (beproewing) sal Hy vir ’n uitweg sorg sodat julle dit kan verduur.

JAK 1:2-4
2 My broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees.

3 Julle weet mos: Wanneer ’n mens se geloof ’n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard.

4 Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie.

1PET 1:6-9
6 Hieroor kan julle baie bly wees, al moet die baie beproewings julle vir ’n rukkie laat swaarkry.

Beproewings laat die egtheid van geloof blyk.
7 Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof duidelik te laat word. Julle geloof word getoets soos goud met vuur getoets en daardeur gesuiwer word; en onthou: Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud wat vergaan. As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer op die dag wanneer Jesus Christus aan die wêreld geopenbaar word.
8 Hóm het julle lief, al het julle Hom nooit gesien nie. Al sien julle Hom nou nie, vertrou julle op Hom; julle kan die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, (dit is nie ‘n wêreldse blydskap nie maar die blydskap oor die sekere wete in ons geloof in Jesus Christus wete wat vir ons wag) eintlik nie onder woorde bring nie.
9 Julle ervaar hierdie blydskap, want julle is reeds besig om julle finale verlossing, wat die doelwit van julle geloof is, te verkry.

ROM 8:18-21
18 Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie.
19 Die skepping smag na daardie dag wanneer God sy kinders openlik bekend sal stel.
20-21 Want teen sy wil is die ganse skepping in ’n sinnelose kringloop van aftakeling vasgevang as gevolg van God se straf op die eerste mense se ongehoorsaamheid. Die ganse skepping sien uit na die dag wanneer dit ook self van die slawediens aan hierdie verganklikheid bevry sal word en deel sal kry aan die heerlike vryheid van God se kinders.

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle
wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

JOH 16:33 Ek (Jesus) sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan
vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.”

Groete,
Sakkie