VREES AANGAANDE DIE ‘MERK VAN DIE DIER’

VREES AANGAANDE  ‘DIE MERK VAN DIE DIER’

Sakkie Parsons

Ek deel graag met jou wat in my hart opgekom het toe ek weer die soveelste keer ‘n valse bangmaak storie moes lees.

Ek word baie bekommerd en soms ook ontsteld, as ek luister hoe sommige kinders van God saam met die bose stroom hardloop en die vrees vir die ‘merk van die dier’ so voluit, eintlik moet ek skryf met alle mag ondersteun en versprei.
 

Ek weet ek het al hieroor geskryf maar ek het net gevoel, dat ek weer hieroor moet skryf  en die volgende onder my lesers se aandag bring.
So, net weer oor die volgende wat mens oor die ‘merk van die dier’ so maklik in hulle vrees miskyk:

As jy die merk van die dier, wat dit ook al mag wees gaan kry, gaan jy dit willens en wetens kry omdat jy dit wil hê.  Dit gaan nie op ‘n skelm wyse deel van jou raak nie.
Want daarom het jy mos die Heilige Gees van Jesus Christus wat jou van buite en van binne beskerm, as jy jou oë al die  tyd in jou lewe op Jesus hou natuurlik en luister na die Heilige Gees wat in jou woon en nie na ‘n klomp valse evangeliste luister, waarvan daar nou al baie is, maar waarvan daar nog geweldig meer gaan kom nie.
Lees hier wat ek jou in hierdie skrywe oor die ‘merk van die dier’ wil wys:

OPG 13:11-15
11Toe het ek ’n ander monster gesien wat uit die aarde opkom. Hy het twee horings gehad, net soos ’n lam, maar hy het gepraat soos ’n draak.
12 Hy tree met al sy gesag namens die eerste monster op. En hy oorreed (hy oorreed jou en jy laat jou ompraat en kry so die merk van die dier.  Hy druk dit nie in jou keel af of forseer dit op enige ander wyse op jou af nie) die aarde en al die bewoners daarvan om die eerste monster te aanbid, dit is dié een waarvan die dodelike wond gesond geword het.
13 Hy doen ook asemrowende wondertekens sodat hy voor die oë van die mense selfs vuur uit die hemel op die aarde laat neerkom.
14  En hy mislei die bewoners van die aarde (jy word nie geforseer nie. Jy word en laat toe, dat jy mislei en om die bos gelei word) deur die wondertekens wat hy toegelaat is om namens die monster te doen. Hy het ook die bewoners van die aarde (die wat hulle laat mislei het natuurlik) beveel om ’n standbeeld vir die monster op te rig; (met ander woorde, jy sal ook met die merk wat jy willens en wetens op jou laat sit het ‘n aanbidder van die monster wees) dit is die monster wat die litteken van die swaard dra en wat weer lewend geword het.

OPG 19:20-21
20 Maar die monster is gevange geneem en saam met hom ook die vals profeet wat die wondertekens ter ondersteuning van die monster gedoen het. Daarmee het hy die mense verlei wat die merkteken van die monster gedra en sy standbeeld aanbid het. (Al die mense wat hy verlei het om willens en wetens hom te dien, nie op ‘n wyse wat hulle nie van geweet het nie, of wou gehad het nie maar gekiés het om te hê) Dié twee is lewendig in die vuurpoel gegooi wat met swael brand.
21 Die oorblywende mense is toe om die lewe gebring met die swaard wat uitgegaan het uit die mond van Hom wat op die perd sit. Al die voëls het hulle dik gevreet aan hulle vleis.

OPB 20:4  Toe het ek trone gesien, en dié wat daarop sit, is die bevoegdheid gegee om te oordeel. Ek het ook die siele gesien van hulle wat onthoof is as gevolg van hulle getuienis aangaande Jesus en die boodskap van God. Dit is hulle wat nie voor die monster en sy standbeeld neergeval het in aanbidding nie, (hulle wie nie toegelaat het dat hulle verlei word nie) en nie die merkteken op hulle voorkop en op hulle hand ontvang het nie. Hulle het toe weer lewend geword en saam met Christus vir 1 000 jaar lank regeer.

Ek het genoem, dat jy en ek wie ons oë al die tyd op Jesus hou en luister wanneer Jesus se Heilige gees in ons vir ons die regte leiding gee, van buite en van binne deur Jesus se Heilige Gees beskerm word:

Van Buite:

GAL 3:26-27
26 Julle is almal God se kinders deurdat julle in Christus Jesus glo.
27 Almal wat deur die doop met Christus één geword het, se lewe word nou heeltemal deur Christus bepaal. (want ons is nou met Christus beklee)

‘n Ouer Vertaling stel dit so in GAL 3:27:

GAL 3:27  want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. (Ons is aste ware met Christus aangetrek)

Dit is nou wat my geloof in Christus wat my beskerming teen bose magte of bose kragte van buite af wat my wil verlei om die ‘merk van die dier ‘of wat ookal wat teen Jesus Christus is, te doen, aanbetref.

Om nou ‘n bietjie van my groot held Paulus se skryfstyl gebruik te maak:
Nou praat ek met julle soos ‘n dwaas…
Sê nou daardie bose mag of bose krag, sal tog by Jesus se beskerming van buite verbykom.
Net ‘n ongelowige sal so iets kan glo.
Wel dan my beskerming van binne:

GAL 2:20  Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf. (Sal Hy nou toelaat, as ek Hom in gees en in waarheid aanbid, dat ‘n mag of krag, my sal oorneem en ‘n merk of wat ook al op of in my sit, solank ek Hom, dit is Jesus toelaat om deur Sy heilige Gees in my te woon?

Jy kan so ‘n dwaasheid net glo, as jy nié in Jesus Christus, God wat mens geword het glo nie.

Dan – en so bars ek maar altyd die valse profete se “bubble,” as hulle met die ‘merk van die dier’ bangmaak drek na my kom.
Onthou nou, ek sê nie vir een oomblik, die ‘merk van die dier’ gaan nie kom nie.
Ek sê wel, dat soos ek die wegraping verstaan en prys ons Here se heilige Naam daarvoor!
Jy en ek gaan nie meer hier wees as die hel letterlik hier op die aarde losbars nie – maar een ding moet ons geen elisie oor hê nie:
As jy en ek nog lewe en met ander woorde nog hier is as die wegraping plaasgevind het, gaan dit vir jou en my letterlik hel op aarde wees.
Dit is nou, deur satan wat weet dat sy oordeel naby is, moeilik om ons oë net op Jesus te hou maar om ‘n ou gesegde te gebruik:
Hierdie moeilike tyd wat ons nou in lewe, soos ek die Woord verstaan, is ‘n vulletjie in vergelyking, met dit wat vir die mense voorlê ná die wegraping.

Ek sê as jy en ek nog in hierdie lewe is as die wegraping plaasvind gaan ons weg wees.  Ons gaan nie hier wees as die ‘merk van die dier’ sy verskyning maak nie.
Ons, wie wérklik en nie net met lippetaal nie, ons bekeer het en Jesus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker, gaan Jesus weggeneem het om altyd by Hom te wees:

Hier is dan na my mening wat die Woord vir ons in die verband sê:

1THS 5:9  God se bedoeling met ons is nie dat ons gestraf moet word nie, maar dat ons deur ons Here Jesus Christus verlos word!
1THS 5:10  Jesus het in ons belang gesterf sodat ons, of ons nog lewe of reeds dood is, saam met Hom mag lewe.

Dan kom ons Here na my mening en onderstreep wat jy nou gelees het, wat Paulus geskryf het en Hy sê:

OPG 3:10  Omdat jy vasgehou het aan die getuienis van hoe Ek volhard het, sal Ek jou ook bewaar gedurende die tyd van hewige toetsing wat vir die hele bewoonde wêreld voorlê – daardie tyd wanneer al die bewoners van die aarde deeglik getoets word.
OPG 3:11  Ek kom gou; hou vas wat jy het sodat niemand jou kroon wegneem nie

In Lukas 17 vanaf vers 20, praat Jesus oor die tyd voor Sy koms.  Omdat dit ‘n lang gedeelte is, gaan ek net uitlig wat ek dink hier relevant is maar gaan lees gerus die hele gedeelte self.
Hy begin deur onder andere te sê:

LUK 17:26  “Net soos dit gebeur het gedurende die tyd van Noag, só sal dit ook gaan gedurende die tyd voor my koms as die Seun van die Mens:
LUK 17:27  Hulle het geëet, gedrink, getrou en vroue in die huwelik uitgegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Die watervloed het gekom en hulle almal vernietig.

Het jy gesien wanneer die water hel op die aarde los gebars het?

Eers nádat Noag en die ander kinders van God in die ark gewees het en Jesus sê dat nét so sal dit ook wees voordat, om dit so te stel, die hel hier op aarde losbars.  Hy sal éérs Sy geliefdes kom haal.

LUK 17:27  Hulle het geëet, gedrink, getrou en vroue in die huwelik uitgegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Die watervloed het gekom en hulle almal vernietig.

Dan gaan Jesus voort en gee ons nog ‘n voorbeeld oor wat ons te wagte kan wees voor Sy wederkoms, en na my mening, om ons nog iets ánders te leer wat Sy wederkoms aanbetref:

LUK 17:28-32 
28 Dit het ook net so gebeur gedurende die dae van Lot: Hulle het geëet, gedrink, gesmous, geplant en gebou.
29  Op dieselfde dag dat Lot uit Sodom weggegaan het, het vuur en swael uit die hemel gereën en almal vernietig.
30  Dit sal net so gebeur op die dag wanneer Ek as die Seun van die Mens bekendgemaak word.
31  “Op daardie dag moet dié wat op die dakstoep sit terwyl hulle besittings nog in die huis is, nie afklim om dit saam te vat nie. Net so moet dié wat op die land is, nie terugdraai na die besittings agter hulle nie.
32  Onthou maar net wat met die vrou van Lot gebeur het.

Eerstens, het jy gesien wánneer het, wat die mense van Sodom aanbetref, die hel oor hulle los gebars?

LUK 17:29  Op dieselfde dag dat Lot uit Sodom weggegaan het, het vuur en swael uit die hemel gereën en almal vernietig

Na my mening sal, om dit so te stel, die hel eers op hierdie aarde losbars, as ek en jy weg, of dan uit hierdie Sodom en Gomorra is.

Tweedens, onthou jy dat die Engel vir hulle gesê het toe hulle vlug, dat hulle nié mag omkyk nie.  Onthou jy dat Lot se vrou toe omgekyk het en in ‘n soutpilaar verander het?

Nou kom Jesus en nadat Hy vir ons vertel het  hoe dit gaan wees, vertel Hy ons ‘n baie belangrike ding wat ons moet onthou.

LUK 17:32  Onthou maar net wat met die vrou van Lot gebeur het

Die OV stel dit so:

LUK 17:32  Dink aan die vrou van Lot!

Nou, veral in hierdie dae wat ons lewe –
Jy en ek moet nie links of regs kyk na valshede wat aan ons verkondig word, om ons vol vrees te probeer maak en ons die tyd wat nog oor is om siele vir Jesus te wen moet mors nie.
Ons moet nie ons tyd verkwis met dinge wat deur valse predikers verkondig word nie maar ons moet ons tyd en energie spandeer om eerstens gereed te wees as ons Here ons kom haal.

Dit is Jesus wat hier praat:

MAT 24:42  Wees dus waaksaam, want julle weet nie watter dag julle Here kom nie.

Ja, laat ons onthou en dit is weer ons Jesus wat hier praat:

MAT 26:41  Wees waaksaam en bid sodat julle nie in die versoeking kom nie. ’n
Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.”

Kom jy en ek spandeer liewer ons tyd om deur ons lewens, voorbeeld, dade en met ons mond die opdrag uit te voer wat Hy ons gegee het voor Hy na die hemel is om vir ons plek te gaan voorberei om dan op die regte tyd ons te kom haal om altyd by Hom te wees:

MAT 28:19-20 
19 Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Groete,
Sakkie