VREES RAKENDE DIE COVID-19 ENTSTOF – DEEL 1

VREES  RAKENDE  DIE COVID-19 ENTSTOF – DEEL 1

Laat ons nie vrees rondsaai nie

Sakkie Parsons

Ek deel graag met jou my siening oor allerlei dinge wat op die sosiale netwerke versprei word oor die inenting teen Covid-19 en al sy variante.

Almal wie nou  ‘n opmerking maak oor die selle wat van ‘n fetusse geneem word en hoe geweldig sommige Christene daarteen protesteer.

Voor ek die stelling maak wat ek gaan maak, wil ek net dat jy dinge in perspektief sien.
Wat is ‘n fetus?
As jy dit afsny tot op die been, so ver ek dit uit die Woord verstaan, is dit ‘n mens wat gelewe het se liggaam en in die geval, ‘n kind – en alle kinders wat sterf gaan Hemel toe:

MRK 10:14  Maar toe Jesus dit sien, het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.
MRK 10:15  Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.

Dit sommer net vir die interessantheid, sodat almal kan weet waar ‘n geaborteerde baba is.
Nou dan.
Ek het gesê, dat ‘n fetus is ‘n liggaam van ‘n mens wat gesterf het:

PSM 139:13-17 
13 Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.
14  Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed.
15  My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.
16  U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
17  Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!

Wanneer die mens sy liggaam verlaat het, is dit wat agter bly iets wat stof was en na stof gaan terugkeer, of ek verkies om dit nou ‘n fetus of ‘n liggaam te noem en of dit ‘n jonk of ou liggaam is nie, verander niks aan die feit  dat dit menslik gesproke iets nutteloos geword het, wat ‘n groot probleem vir almal in die omgewing gaan word as daar nie werk mee gemaak gaan word nie.

GEN 3:19  In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.

Of jy nou jou liggaam skenk vir navorsing.
Of jy nou jou liggaam laat begrawe.
Of jy nou jou liggaam laat veras.
Of jou liggaam deur wilde diere verskeur en opgevreet word.
Of jou liggaam nou in die see vergaan en daar deur visse opgevreet word.
Of jy van iemand weet wie ‘n aborsie gehad het en daar ‘n fetus/liggaam was.

Dit maak werklik nie saak wat van jou liggaam gaan word nie.  By daardie tyd is jy reeds by jou eindbestemming waar jy die ewigheid gaan deurbring:

2KOR 5:1  Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.

Nou wil ek ‘n beroep doen op almal wat so verskriklik aangaan oor selle wat van ‘n fetus geneem word om te help om so gou as moontlik ‘n entstof te kry wat ons of ons geliefdes kan red van ‘n moeilike manier om te sterf.
Universiteite gebruik liggame van fetusse af tot by volwasse liggame om navorsing te doen sodat die medici vir ons so gevorderd is soos wat dit vandag is.
Nou wil ek vra:
Laat ons tog nie huigelaars wees wat skynheilig geveinsd op sosiale netwerke gal braak nie.

Ek wil nou niemand laat skuldig voel nie maar dit is gewoon ‘n feit.
Die gevaarlikste plek in Suid-Afrika om vandag in te lewe, is die baarmoeder maar ek dink dit kan omtrent van alle lande in die wêreld gesê word waar aborsie op aanvraag beskikbaar is.
So, moet nie jou energie op ‘n dooie liggaam of dan in die geval, ‘n fetus spandeer nie.
As jy regtig iets omtrent aborsie voel en wil doen, raak liewer betrokke by organisasies wat dames wat wil ‘n aborsie wil ondergaan te help, deur byvoorbeeld finansieel te help om byvoorbeeld beraders ens te kan bekostig.
Onthou ook as jy weer vir ‘n operasie of so iets moet gaan dat mense se liggame, van fetusse af tot by jong tot ou liggame, gebruik was om die wonderlike tegnologie wat nou op jou gebruik gaan word gebruik was om daardie tegnologie te help om te wees wat dit vandag is.
Laat ons versigtig wees, dat ons ons nie self in die kategorie van mense bevind na wie Jesus gekyk het toe Hy die volgende gesê het nie:

MAT 23:23  Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.

Gaan kyk ‘n bietjie op die internet wat die getalle van geaborteerde  babas in die wêreld is en kyk of jy nie op die een of ander wyse daar kan help nie, voor daar ‘n dooie fetus, ek moes eintlik sê, voordat daar ‘n dooie menslike, eintlik baba liggaam is wat weggegooi gaan word of dalk vir die een of ander eksperiment gebruik gaan word.

Daar is egter nog iets wat ek moet noem as dit by ‘n geaborteerde fetus kom.
Eintlik hou ek nie so baie van die woord fetus nie.  Ek sou eerder van ‘n geaborteerde baba se liggaam praat maar ek praat van fetus, dan is ons almal, ook die huigelaar en geveinsdes wat so in die naam van Christus gal braak op dieselfde bladsy.
Ons leef in ‘n gebroke, ek praat graag van ‘n flenters wêreld en daarom moes ons Here ‘n bokkie doodmaak om vir Adam en Eva klere te maak.
Daarom moes die vroedvroue in Egipte lieg waarom hulle nie die seuntjies doodgemaak het nie.
Daarom betaal ons belasting terwyl sommige owerhede dit misbruik.
Ja, daarom het Jesus vir die mense gesê, om aan die keiser te betaal wat die keiser toekom:

MAT 22:19-21 
19 Geveinsdes, waarom versoek julle My? Wys My die belastingmunt. En hulle het vir Hom ‘n penning gebring.
20  En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit?
21  Hulle antwoord Hom: Die keiser s’n. Daarop sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.

As jy dink dat die keisers van daardie tyd goeie mense gewees het, doen jouself ‘n guns om die waarheid te weet en gaan lees ‘n bietjie van hoe wreed en boos die keisers van daardie tyd gewees het.
Ons weet byvoorbeeld hoeveel korrupsie in ons eie owerhede is maar as ‘n ware volgeling van Jesus Christus, doen ek nougeset wat die Woord in die verband sê, ook nou in die verskillende Covid vlakke wat hulle my plaas – want sê die Woord baie duidelik vir my:

ROM 13:1-10 
1 Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel,
2  sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.
3  Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang;
:4  want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf.
5  Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete.
6  Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is.
7  Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom.
8  Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.
:9  Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
10  Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.

Dit wat gedoen was wat die inenting aanbetref, as dit gedoen is, is nou gedoen.
Vir baie Christene gaan die keuse maklik wees, want hulle is nog jonk en as hulle kinders het, is hulle kinders ook nog jonk, so die besluit is nie so moeilik nie maar as jy nie meer jonk is nie of jy het ‘n ma en pa wat nie meer jonk is nie of iemand is of het wie ‘n diabeet, of oorgewig, of hoë bloeddruk het, of selfs as daar ‘n variant ontstaan wat spesifiek klein kindertjies aanval, dan lyk die prentjie ‘n bietjie anders.

Ek luister so na sommige mense wat op sosiale netwerk vir mense sê: “Ek het dit van die Here ontvang” en ek sien nog ‘n teken van die tye onder Christene wat baie mense mis kyk:

MAT 23:15  Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ‘n kind van die hel, twee maal erger as julle self.

Nou wil ek net ook iets noem oor die ‘merk van die dier’ wat glo ook in die inspuiting gaan wees, of al klaar volgens die valse prediking daar is.
Ek het al oor die merk van die dier geskryf en ek stuur dit op aanvraag met groot Jesusliefde aan jou.
Vir nou net in baie, baie kort die volgende oor die merk van die dier wat sogenaamd in die inenting is.
Ons lees:

OPG 13:16  En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vry mense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word;

Die wat die merk wil hê, gaan ‘n sigbare merk op hulle voorkop en op hulle regterhand hê.

Want ‘n merk na my mening, is presies wat dit is.  Dit is iets sigbaar wat op jou vel, of dan as jy wil, op jou liggaam is.
As iemand nou dink dat ek die woord, of begrip merk verkeerd verstaan, die Afrikaanse verklarende woordeboek, die HAT sê van ‘merk’ die volgende:
Merk: Teken, stempel.  Onderskeidingsteken op ’n voorwerp of verpakking om dit van ander te onderskei.  Oormerk of brandmerk as eieningsteken aan vee.

Nog iets van kardinale belang wat die vreesagtige verspreiers van hierdie bangmaak stories vergeet is dit –
Ons almal weet dat die Bybel en met ander woorde ook die boek Openbaring vir alle Christene geskryf is maar aan wie was die boek Openbaring in die eerste plek geskryf, of dan heel eerste gestuur?

OPG 1:3-6 
3 Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.
4  Johannes aan die sewe gemeentes in Asië: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is,
5  en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed
6  en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

OPG 1:11  Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien in ‘n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Éfese en Smirna en Pérgamus en Thiatíre en Sardis en Filadelfía en Laodicéa.

Jy sien – Openbaring is vir my en vir jou en vir die sewe gemeentes in Asië geskryf.
God sal nie vir my sê dat ek iets kan of mag doen wat vir my heeltemal onmoontlik is nie.  Hy sou dit ook nie aan die sewe gemeentes in Asië gedoen het nie.
God sê:

OPG 13:18  Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.

God sê dat dit vir die mense van vandag moontlik is om die getal van die dier te bepaal maar die brief is heel eerste aan die sewe gemeentes in Asië geskryf, so hulle kon ook die getal van die dier uitgewerk het en in hulle tyd was daar nie ‘n covid virus of inspuiting, of dan inenting daar teen wat kinders van God heerlik tot hulle voordeel kan gebruik, sonder om hulle geloof aan te tas nie.

Ek laat jou dan met die volgende woorde van my groot held Paulus, jy wie werklik ‘n ware volgeling van Jesus is en vir wie die bangmaak profete op hol wil jaag:

ROM 8:15-17 
15 Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!
16  Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;
17  en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

Kom jy en ek gebruik liewer ons energie op hierdie laat stadium in die geskiedenis van die mens om  net die Liefde Evangelie van Jesus Christus te verkondig  en siele na Jesus te bring.
Kom ons dink aan wat ons op die internet wil versprei en sê vir onsself voor ons daardie groen knoppie druk, soos my groot held Paulus by geleentheid gesê het:

1KOR 2:2  want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.

Groete,
Sakkie