VREES VIR DIE EINDTYD

VREES VIR DIE EINDTYD

Sakkie Parsons

Daar word weer deesdae baie oor die eindtyd en die wederkoms van Jesus gepraat.
Daar is egter iets wat vir my onverstaanbaar is en dit is, dat so baie Christene bang is vir die eindtyd.

Ek glo ons behoort nie bang te wees vir die eindtyd en wat gaan gebeur nie, inteendeel, ons behoort reikhalsend daarna uit te sien.

Verder glo ek ook dat ons dit nie eens gaan belewe nie, en ek weet daar is mense wat hier met my gaan verskil, maar dit is hoe ek glo, en ek is regtig nie bang vir die eindtyd en als wat dit gaan behels nie.

Die Woord sê dan ook:

ROM 8:14  Want almal wat hulle laat lei deur die Gees van God – hulle is God se kinders.
ROM 8:15  Die Gees wat julle ontvang het, is nie ‘n Gees wat weer van julle vreesbevange slawe maak nie.  Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God:  Abba – ons liewe Vader.  (Abba is die Aramese woord vir Vader)

Nog verder sê die Woord:

1JHN 4:15-18
15 Almal wat openlik erken dat Jesus die Seun van God is – God handhaaf ‘n hegte verhouding met hulle en hulle met God.
16  Ons leef uit die wete en is absoluut oortuig daarvan dat God ons liefhet.  God is die liefde self en almal wat uit dié liefde leef, leef in ‘n hegte verhouding met God en God met hulle.
17  Hiertoe is God se liefde ten volle in ons verwesenlik, dat ons vrymoedigheid kan hê op die oordeelsdag.  Want dan sal ons ook in hierdie wêreld wees soos Hý is.
18  Ware liefde het nie plek vir vrees nie;  volwasse liefde dryf die vrees uit omdat vrees nog met straf behep is, en wie aanhou vrees, het nog nie dié volwasse liefde bemeester nie.

As jy die volgende gedeelte lees, sal jy dalk beter verstaan hoekom ek glo, soos wat ek glo. In Lukas 21 vanaf vers 5 praat Jesus oor die tye wat kom, maar ek plaas hier net die gedeelte wat relevant is:

LUK 21:25-28 
25 “Daar sal wondertekens wees wat die son, maan en sterre betref.  En op die aarde sal daar onrus onder die nasies wees uit angs vir die gebulder van die see en sy golwe.
26  Mense word flou van vrees en die voorbodes van wat nog oor die bewoonde wêreld aan die kom is, want die kragte van die hemel sal geskud word.
27  En dan sal hulle die Seun van die Mens (dit is Jesus self) sien kom op ‘n wolk met krag en groot heerlikheid.
28  Wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan fier en regop en lig julle koppe op, want dan het julle verlossing naby gekom.”

Ek wil jou nou drie dinge wys uit die drie gedeeltes wat jy nou gelees het.

ROM 8:15 “…Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God:  Abba – ons liewe Vader. 

Hoekom moet jy vrees wat jou Vader gaan doen?

1JHN 4:17  Hiertoe is God se liefde ten volle in ons verwesenlik, dat ons vrymoedigheid kan hê op die oordeelsdag.  Want dan sal ons ook in hierdie wêreld wees soos Hý is.

As jy jou saak met ons Here reg gemaak het, en in Sy weë bly wandel, kan jy die
oordeelsdag met groot vrymoedigheid tegemoet gaan. Dit is nie wat ek sê nie, dit is wat Jesus sê:

LUK 21:28  Wanneer hierdie dinge begin gebeur, staan dan fier en regop en lig julle koppe op, want dan het julle verlossing naby gekom.”

As iemand vir my sou vra, hoe kan ek verseker weet dat ek nie die eindtyd en als wat
daarmee gepaard gaan hoef te vrees nie, sal ek vir hom of haar die volgende uit God se Woord aanhaal sonder enige ingewikkelde redenasies:

JHN 3:16  God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

ROM 10:9  Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.

JHN 3:17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom gered kan word.
JHN 3:18 Die persoon wat aanhou om in Hom te glo, word nie veroordeel nie.  Die een wat egter nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.”

Ek sluit af met ‘n stelling wat Paulus gemaak het:

2TIM 1:7  “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.”

Geniet hierdie dag en dink daaraan, toe jy vanoggend opgestaan het, hoe heerlik was dit – nog een slapie minder voor Jesus kom!

Groete,
Sakkie