WAAR DAAR LEWE IS, IS HOOP Deel 1

WAAR DAAR LEWE IS, IS HOOP – DEEL 1

Skrywer:  Sakkie Parsons

Ek deel met jou die volgende vraag wat iemand aan my gestuur het en ook my antwoord op die vraag asook in ‘n opvolg skrywe in hierdie verband, wil ek by iets anders uitkom wat ek met jou wil deel wat by my opgekom het toe ek met my antwoord op hierdie vraag besig was.

Ek het in ‘n skrywe die bewering gemaak dat die man aan die kruis wat na sy dood Hemel toe is, nie gedoop gewees was nie en tog in die Hemel beland het.
Iemand skryf toe aan my en vra my om uit die Woord te bewys dat die man nie gedoop was nie.

Hier is dan eers hoe ekself  uit die Woord sien dat die man nie gedoop was voor sy dood nie:

Volgens twee baie betroubare getuies naamlik Matteus en Markus het hy, toe hy reeds aan die kruis hang met Jesus gespot:

MAT 27:44  In hierdie selfde trant het selfs die kriminele (albei van hulle) wat saam met Hom gekruisig is, Hom beledig.

MRK 15:32 Hy is dan glo die Messias, die Koning van Israel. Laat hy nou afkom van die kruis! Dan sal ons sien en glo!” Selfs die kriminele (albei van hulle) wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.

Wat die veroordeelde misdadiger alles vir Jesus gesê het weet ons nie maar elke ware kind van God wat hier lees sal saam met my stem as ek sê, dat dit net nie moontlik is vir iemand wat werklik Jesus aangeneem het as sy Verlosser en Saligmaker en toe deur die doopbad is, dit eens amper sal oorweeg om hierdie Jesus, God wat mens geword het, te beledig nie en volgens die Woord het hierdie man eers vir Jesus beledig.
Die Woord sê van hierdie Jesus wat jy en ek aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker die volgende:

JOH 1:1-3 
1 Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.
Die Woord was by God,en die Woord was self God.
2  Hy was reeds in die begin by God.
3  Alles het deur Hom ontstaan,
en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.

JOH 1:14  En die Woord het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ’n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

Soos ek gesê het:
Elke wáre kind van God wat hier lees sal saam met my stem as ek sê dat dit net nie moontlik is vir iemand wat werklik haar/hom bekeer en laat doop het, en Jesus so  aangeneem het as haar/sy Verlosser en Saligmaker, dit eens amper sal oorweeg om Jesus te beledig nie.
Dit is net nie moontlik dat ek Jesus sal kan beledig met Jesus se Gees inwonend in my hart nie.
Die Woord sê dan ook:

1KOR12:3  Daarom wil ek nou hê julle moet weet dat iemand wat sê: “Vervloek is Jesus,” definitief nie onder die invloed van die Gees van God praat nie.  Aan die ander kant is dit net die Heilige Gees wat dit vir iemand moontlik maak om te verklaar: “Jesus is die Here.”

Hierdie man het soos wat jy self gelees het, Jesus beledig.
Ons weet nie wat hy kwytgeraak het nie maar daar het egter êrens tussen sy laaste belediging en LUK 23:40 iets tussen hom en Jesus gebeur en daarom lees ons: 

LUK 23:40-42 
40 Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy óók nie respek vir God nie, alhoewel jy dieselfde straf as hierdie man ondergaan!
41 Ons het dit terdeë verdien, want ons verdien die straf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.”
42 Hy het verder gesê: “Jesus, onthou my asseblief
wanneer U in u koninkryk kom.”

So, hoe weet ek hierdie misdadiger het hom tot Jesus bekeer en is toe sonder dat hy gedoop was Hemel toe?
Want en hoe absoluut wonderlik en groot is die liefde en genade van ons liefdevolle Here nie?
Ons lees:

LUK 23:43 Jesus se antwoord was: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.”

Jy kan nie saam met Jesus in die paradys wees, as jy Hom nie aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie.  Want sê Jesus self:

JOH 14:6  Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.

Dit dan hoe ekself  verstaan en glo dat die misdadiger sonder dat hy gedoop is Hemel toe is.

Onthou tog groot asseblief dat ek nie die doop afmaak as iets wat nou maar gedoen of nie gedoen hoef te word nie.
Ek sê net dat daar gevalle is  waar mense sonder dat hulle gedoop is, die ewigheid in is en in die Hemel beland het en dat daar nog baie mense voor Jesus se koms in die Hemel sal beland wat byvoorbeeld op hulle sterfbed hulle saak met ons Here gaan regmaak en in die Hemel gaan beland wat nie gedoop is nie.

In my opvolg skrywe volg deel ek met u oor wat ons kan doen vir ons geliefdes wie se saak nie met ons Here reg is nie en wat ook nie na ons en ons prediking teenoor hulle wil luister nie.

Groete,
Sakkie