WAAR DAAR LEWE IS, IS HOOP Deel 2

WAAR DAAR LEWE IS, IS HOOP – Deel 2.

Skrywer:  Sakkie Parsons

In my vorige skrywe het ek ‘n versoek begin verduidelik omtrent die man aan die Kruis vir wie Jesus gesê het:

LUK 23:43 Jesus se antwoord was: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.”

Laat ek net eers gou iets oor die Christelike doop sê.
Wat die doop aanbetref, gee Jesus self ons die volgende opdrag:

MAT 28:19  Gaan dan, maak al die nasies my dissipels,
en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. 
MAT 28:20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Kyk hoe verkondig en voer sy dissipels hierdie opdrag na ongeveer drie jaar se opleiding uit:

HAN 2:38  Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.

Ekself is klein gedoop. Ek het gekatkiseer en is aangeneem en voorgestel maar toe ek my bekeer het, het ek gevoel dat ek groot gedoop behoort te word. Want, volgens wat ek die Woord verstaan, is dit die wil van ons Here, dat iemand wat Hom aanneem as Verlosser en Saligmaker, daardie mens haar/hom moet laat doop en wil ons Here dat dit ‘n besluit moet wees wat ekself persoonlik moet neem, as ek daartoe in staat is en dat ek dit onbeskaamd sal deurvoer.

Dan ook – Al die mense wat Jesus na Hom geroep het in Sy wandel hier op aarde, het Hy in die openbaar na Hom geroep en hulle moes in die openbaar die stap neem om Hom te volg of nie. Verder sê Jesus van Sy volgelinge die volgende:

HAN 1:8  “maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.”

Het jy gesien?
Jesus sê nie dat ek dálk, of miskíén Sy getuie sal wees nie. Hy sê al Sy kinders sal Sy getuies wees.

Vir my was my doop op Woensdagaand 25 April 1973 die eerste stap van gehoorsaamheid en die begin van die uitlewing van my getuienis vir Hom.
Ja, vir my is die doop ‘n mededeling/verklaring/stelling in die openbaar aan alle mense en geeste en magte:

“In hierdie voorstelling van die begrafnis van my ou mens en die opstanding van die nuwe mens, getuig ek:
“Ek glo:
• Dat Jesus vir my sondes aan die kruis gesterf het.
• Ek glo dat Hy begrawe is.
• Ek glo dat Hy uit die dood opgestaan het.
• Ek het hierdie Jesus, God wat mens geword het, aangeneem as my Verlosser en Saligmaker. 
• Die ou Sakkie is nou dood. 
• Ek is nou ‘n nuwe bloedgewaste kind van God, ‘n dissipel van Jesus Christus.”

ROM 6:4  “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.

Nou terug by die oorspronklike vraag:

Ek het al by meer as een geleentheid briewe gekry waar byvoorbeeld ouers met my hulle bekommernis deel, dat hulle kinders nie ons Here wil dien nie en hulle is so bang dat hulle kinders of geliefdes sonder Jesus die ewigheid ingaan.

Ekself het ook geliefdes van wie ek weet dat hulle saak met ons Here nie reg is nie en dit lyk of my gepraat sake net vererger.
Nou is daar van hierdie geliefdes van my met wie ek nie eens meer oor ons Here gesels nie, want dit loop net uit op ongelukkigheid.

Weet jy?
Jesus het nie wonderwerke gedoen in sekere mense wat Hom goed geken het se lewens nie omdat hierdie mense hulle eie wil waarmee ons Here hulle geskape het uitgeoefen het om nie na Hom te luister nie.

MAT 13:57  Hulle was verontwaardig en wou niks van Hom weet nie.
Daarop het Jesus vir hulle gesê: “’n Profeet word oral gerespekteer behalwe in sy tuisdorp en in sy eie familiekring.”
MAT 13:58   As gevolg van hulle ongeloof het Hy daar maar min wonderwerke gedoen.

Daarom praat ek ook nie meer met daardie geliefdes in my eie lewe oor hulle wyse van lewe nie, maar daar is twee dinge wat ek wel doen en met die genade van ons Here nie sal ophou nie en wat ek jou wil aanmoedig om ook te doen en nooit op te hou nie en hierin is die bekeerde misdadiger aan die kruis se lewe en sterwe vir my ‘n heerlike aansporing:

• Laat ons nooit ophou om deur ons wyse van lewe vir ons geliefdes wat nie na ons woorde wil luister nie te preek en
• Laat ons nooit ophou om vir hulle te bid nie.

Hoe van toepassing is daardie gesegde nie:
“Waar lewe is, is hoop.”

Kyk na hierdie misdadiger –
Hoe laat was dit nie in sy lewe nie.
Hy was nie net tot die dood veroordeel nie.
Die doodsvonnis was al klaar letterlik voltrek.
Daar is ‘n Engelse gesegde wat so gaan:
“He is a dead man walking.”
Hierdie man was, jy kan maar sê:
“A dead man hanging.”

Alles wat gedoen moes word om hom met sy lewe te laat betaal is klaar gedoen.

Ons sal nie in hierdie lewe weet wat daar alles tussen die misdadigers en Jesus plaasgevind het in die ure wat hulle daar gehang het nie maar die Woord sê vir ons dat die een eers vir Jesus beledig het en toe, soos ek jou gewys het, Jesus aangeneem het as sy Verlosser en Saligmaker en kon toe in sy sterwensuur hierdie wonderlike woorde hoor:

LUK 23:43 Jesus se antwoord was: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.”

So,hou aan met preek vir jou geliefdes wat nie na jou woorde wil luister nie maar doen dit deur jou lewe.
As voorbeeld van wat ek sê kwoteer ek 1PET 2:21 maar uit ‘n ouer vertaling, omdat dit in hierdie geval, so dink ek,  beter sê wat ek bedoel:

1PET 2:21  Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg;

Hou ook aan om in geloof vir hulle te bid.  Want daar is mos vir ons geskryf:

KOL 4:2  Volhard in die gebed. Bid terwyl julle geestelik waaksaam en dankbaar is.

Terwyl ons wat ons eie lewe aanbetref, waardeer ons vir die mense om ons preek, ons oë al die tyd op Jesus ons Here hou:

HEB 12:2  ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!

Groete,
Sakkie