WAAR PAS ONS IN GOD SE WIL VIR SY KONINKRYK IN?

WAAR PAS ONS IN GOD SE WIL VIR SY KONINKRYK IN?

Sakkie Parsons

Iemand wat ‘n paar probleme met die kerk het, skryf en stel onder andere die volgende aan my: “Verantwoordelik aan die Koninkryk en God se visie vir die Kerk van Jesus Christus, moet voorkeur bo die van die kerk geniet.“

Die persoon het nog ‘n paar ander stellings ook teenoor my gemaak en ek deel graag met jou my antwoord aan hom.

Ek wil graag met jou eerste stelling aan my begin maar dit net so effe wysig, soos ek dit sou stel.
“Verantwoordelik aan: Eerstens God se visie vir die koninkryk, moet voorkeur kry bo die van, dan eers, in die tweede plek, die denominasies in die kerk van Christus.”

Ek onthou dan ook, dat in alles wat ek verkondig, God eerste bo almal en alles behoort te kom.

Oor jou vraag aan my: “Waar pas ons in God se wil vir Sy Koninkryk in?“ deel ek met jou die volgende:
Lees eers hier:

MAT 28:18-20 
18 En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.
19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

Heel eerste is jy en ek ‘n dissipel van Jesus:

MAT 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, …

Daar was eendag iemand wat deur ons Here gelei na jou gekom het en deur ons Here se liefdevolle genade, jou ‘n dissipels van Jesus gemaak het.

Nadat jy jou bekeer het, het jy jou laat doop, as jy die regte volgorde gevolg het van hoe ons dit in die Woord vind:

HAN 2:37-39 
37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?
38  En Petrus sê vir hulle: (eerstens) Bekeer julle, en (tweedens) laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en (derdens, het jy dan hierdie versekering) julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
39  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

Nou nadat ek my bekeer het en my laat doop het en ek die – dit is ‘n belofte – Heilige Gees ontvang het, as ek dit alles in volle opregtheid gedoen het, is ek nou ‘n dissipels van Jesus en dit beteken natuurlik: Ek is kind en deel van die goddelike familie en erfgenaam saam met Jesus van die hemel:

ROM 8:16  Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;
ROM 8:17  en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, (terwyl ons onthou, dat vir so lank ons hier op aarde gaan wees, dit nie maanskyn en rose gaan wees nie) as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

Nou moet ek net deur my lewe in hoofsaak my te beywer om twee dinge te doen:
Om God te verheerlik:

MAT 5:16  Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.

JHN 15:8  Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.

1KOR 6:20  Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

1KOR 10:31  Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.
1KOR 10:32  Wees geen oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van God nie;

So, as jy dit afsny tot op die been, moet my strewe in die verheerliking van my God wees:

1KOR 10:31  Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.

1PET 4:11  As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid. Amen.

As ek dit alles doen en nié myself in die naam van die evangelie uitwys, asof ek iets in hierdie wêreld is nie – volg ek te heerlik vir Jesus wat die voorbeeld vir my gestel het”

HEB 5:5  So het Christus ook (wie God self in ‘n mens se gedaante gewees het) Homself nie verheerlik om Hoëpriester te word nie, maar Hy het Hom verheerlik wat vir Hom gesê het: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer. 

Ek het genoem, dat ons eerstens God deur ons lewe moet verheerlik en dan tweedens: Ons moet ons naaste lief hê soos onsself.

Ek het ‘n ‘Gedagte uit die Woord’ geskryf van hoe hierdie liefde vir my naaste moet lyk, wat ek ook met jou sal deel as jy dit wil lees – maar kom ons kyk net gou in baie kort wat die Woord op ‘n paar plekke van hierdie liefde vir my naaste sê:

MAT 5:43-45 
43 Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat.
44  Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg;
45  sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; …

MAT 22:36-40 
36 Meester, wat is die groot gebod in die wet?
37  En Jesus antwoord hom: Jy moet (dit is ‘n opdrag, nie ‘n opsie nie) die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38  Dit is die eerste en groot gebod.
39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet (dit is ‘n opdrag nie ‘n opsie nie) jou naaste liefhê soos jouself.
40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

Lees gou hoe som Paulus hierdie liefdesgebod op:

ROM 13:9  Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
ROM 13:10  Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.

Ten slotte nog dit:
Ek help mense om deel van die Bruid van Christus te word en ek los die Bruid – dit is die kerk – in die veilige hande van die Bruidegom.

Want ek weet uiteindelik hierdie een ding verseker:
Jesus gaan kom wanneer Sy Bruid heeltemal gereed is vir Sy koms en almal wat deel van die Bruid moet wees, sal daar wees.

In die tussentyd help ek en almal wat so geroepe voel, om dit so gou moontlik te laat gebeur.
Met ander woorde:
Ek bring, ondersteun, en leer mense tot by Jesus en help hulle om Hom aan te neem as hulle Verlosser en Saligmaker en Hy sal verder sorg, soos gesorg moet word, soos wat Hy dit ook vir my doen.

Anders gestel:  Ek voer die opdrag uit soos wat ek dit van Jesus ontvang het:

MAT 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
MAT 28:20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

Groete,
Sakkie