WANNEER CHRISTENE HAND OM DIE LYF MET SATAN STAAN

WANNEER CHRISTENE HAND OM DIE LYF MET SATAN STAAN

Sakkie Parsons

Dit het ‘n hele ruk gelede gebeur maar ek wil jou wys hoe maklik satan ‘n kind van God met ‘n slap riem kan vang en dit omdat Sy kind, na my mening ‘n kompromie met die wêreld wil aangaan, of dan en weer is dit na my mening, om dit lig uit te druk, net meer tegemoetkomend met die wêreld te wees.

In hierdie geval was dit nie net een van ons Here se kinders nie.  Nee, dit was baie.
Dit was ook nie om dit so te stel, sommer gewone kinders van God nie.  Nee, Hulle was almal in een of ander leiersposisie in die kerk van Christus.

Ek het destyds dit eers oor die radio gehoor en toe skakel iemand my en vra my, my opinie oor die feit dat die betrokke kerk – en ek noem maar daardie denominasie in hierdie skrywe die x-kerk omdat ek groot respek vir baie van hulle predikante het.

In elk geval, iemand vra my toe om my opinie oor die x- kerk wat nou ‘n komitee of iets wil saamstel om ondersoek in te stel of satan wel bestaan.

Omdat die meeste dominees van die x-kerk wat ek al ontmoet het, pragtige kinders van God is, gaan ek nie verder oor hierdie belaglike optrede van die x-kerk skryf nie.

Hier is dan hoe ek hierdie saak; ‘of daar ‘n satan is,’ sien:

Eers moet ons verstaan en glo, dat ons Here in Sy Woord vir ons sê:

2TIM 3:16  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
2TIM 3:17  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

As jy nie glo dit wat jy nou net gelees het nie, is dit vir jou sinneloos om hierdie skrywe verder te lees.
Nou goed.
Enige mens wat sê dat daar dalk nié ‘n satan is nie, maak hom/haar na my mening skuldig aan godslastering.  Want, jy sê dat Jesus, wat volgens die Woord ook God is, by meer as een geleentheid gelieg het.
Hier is twee voorbeelde en in albei gevalle het die skrywers dit nie saam met Jesus beleef nie maar het hulle geskryf wat Hy hulle moes vertel het, anders kon hulle dit nie geweet het nie.

Die eerste geval:

MAT 4:1  Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel.

Sien jy, wat jy lees?
Jesus en Jesus alleen was deur die Gees die woestyn ingelei.
Dan lees ons:

MAT 4:2-10 
2  En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword.
3  En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.
4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
5  Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan
6  en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.
7  Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.
8  Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid,
9  en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.
10  Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.

Mattheus kon van hierdie gebeurtenis net geweet het, as Jesus hom daarvan vertel het en as jy wonder of daar ‘n satan is, wonder jy ook of Jesus nie – en ek skryf dit met die grootste huiwering maar ons Here weet ook waarom ek dit skryf – dan wonder jy ook of Jesus nie gelieg het oor wat met Hom gebeur het nie.

Die tweede geval:

LUK 10:16-18 
16 Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.
17  En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam.
18  Toe sê Hy vir hulle: Ek het die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val.

Het jy gesien wat die groot teoloë wat wonder of daar ‘n satan is ook al baie moes gelees het?

LUK 10:18  Toe sê Hy vir hulle: Ek het die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val.

As jy dit lees en jy wonder of daar ‘n satan is, spreek dit tog vanself, dat jy ook moet dink dat Jesus hier gelieg het oor wat Hy gesien het.
Ek kan so ‘n teologie niks anders as diabolies noem nie.
Onthou jy wat jy ook net nou gelees het?

2TIM 3:16  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, …

Lees dan nou ook die volgende:

OPG 12:7-9 
7 En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer;
8  en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie.
9  En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.

Onthou, dit is ons Here se Woord wat jy nou gelees het en kan jy nou ook die rimpel-effek sien wat nou plaasvind:

‘As jy wonder of daar ‘n satan is, is dit tog net logies, dat jy ook gaan wonder of daar engele is.  Want, volgens die Woord, wat jy nie heeltemal glo nie, was satan ‘n engel van God en soos hulle in Engels sê:
“The plot thickens.”
Ek bedoel, die “plot” oor satan se bestaan “thickens.”
As daar nie ‘n engel is wat satan geword het nie, wat mense laat sondig nie, dan is daar ook nie sonde nie.
Daar mag dinge wees wat ek doen waarvan jy en ander mense nie hou nie maar dit is dan nie sonde nie, dit is dan net dinge wat volgens jou nie lekker of reg is nie.  So is daar dan ook dinge wat jy doen wat ek en ander mense nie van hou nie maar dit is dan nie sonde nie – dit is dan nie vir ons aanvaarbaar nie, maar wel vir jou.
So, as daar nie ‘n satan is wat mense verlei om sonde te doen nie, was daar ook nie ‘n Verlosser nodig om ons sonde weg te neem nie.  Want daar is dan mos nie sonde om weg te neem nie.’

JHN 1:29  Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

JHN 15:22  As Ek (dit is Jesus ook God self) nie gekom (ook daar van die begin van die skepping af) en met hulle gespreek het nie, sou hulle geen sonde hê nie; maar nou het hulle geen verskoning vir hul sonde nie.

Dus, as daar nie ‘n satan met sy meegaande sonde is nie, dan het jy nou net nog ‘n leuen gelees.
“The plot thickens” nog meer, die sataniese “plot.”

Met ander woorde, die logiese volgende stap, so lyk dit vir my, is dat sommige Christene gaan wonder oor Christus die Verlosser en dan is dit nie lank voordat die kerk, of dan sommige denominasies begin wonder oor die bestaan van God Almagtig nie.  Want onthou Jesus die Verlosser wat die sonde van die wêreld wegneem en vir ons van sy persoonlike ondervinding met satan vertel het, is ook God.  Hy is God wat vlees geword het.

JHN 1:1  In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.

KOL 1:15  Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping;

Hoe ontsettend tragies en hartseer is dit nie, dat daar groepe en selfs denominasies in die kerk van Christus is, wat predikante op hulle preekstoele toelaat, wat weer vir ‘n hele klompie jare onder hulle eie professors gestudeer het wat in hierdie laaste dae, hand om die lyf met satan staan en deur hul optrede, suggereer dat Jesus sowel as God in Sy Woord nie altyd heeltemal eerlik met ons is en gewees het nie!
Geen wonder dat ons Here in Sy Woord aan ons laat skryf het:

2TIM 4:3  want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
2TIM 4:4  en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

So kind van God, terwyl daar mense is wat, so lyk dit vir my,  hand om die lyf met satan staan wanneer hulle die Woord lees, kom ek en jy lees die Woord soos Jesus sê dat ons die Woord moet lees.

MRK 10:15  Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.

MAT 11:25-27 
25 In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.
26  Ja, Vader, want so was dit u welbehae.
27  Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar.

As ons die Woord só lees, sal ons nie die bose leuen glo, dat daar nie ‘n satan is nie en sal ons nie deur satan oorrompel word en hel toe gesleep word nie.

Kom ek en jy onthou wat ons Here in Sy Woord aan ons laat skryf het:

1PET 5:8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

Asook:

JAK 4:7  Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

Groete,
Sakkie