WANNEER DINGE SKEEFLOOP EN JY VERSTAAN NIKS DAARVAN NIE

WANNEER DINGE SKEEFLOOP EN JY VERSTAAN NIKS DAARVAN NIE

Sakkie Parsons

Ek deel vandag met jou onder andere hierdie storie en dan die praktiese voorbeeld van Josef se lewe om te wys dat soms, wanneer ons niks verstaan wat met ons gebeur nie, ons net ons oë op JESUS ons HERE en Verlosser moet hou en Hom vertrou:

DIE KOEK WAT GOD BAK

Soms wonder ons: “Wat het ek gedoen om dit te verdien?” of “Hoekom moes God dit aan my doen?”

Hier is ’n wonderlike verduideliking!

’n Dogter het vir haar ma vertel hoe alles verkeerd loop…

Sy druip algebra, haar kêrel het met haar uitgemaak en haar beste vriendin trek weg.

Intussen was haar ma besig om ’n koek te bak en vra vir haar dogter of sy iets wil eet. Die dogter sê: “Beslis, Ma, ek is mal oor jou koek.”

“Hier, vat ’n bietjie kookolie,” bied haar ma aan.

“Ag, sies!” antwoord haar dogter.

“Wat van ’n paar rou eiers?”

“Dis aaklig, Ma!”

“Wil jy dalk ’n bietjie meel hê? Of miskien koeksoda?”

“Ma, dit is alles walglik!”

Waarop die ma antwoord:

“Ja, al daardie dinge lyk sleg op hul eie. Maar wanneer dit op die regte manier saamgevoeg word, maak dit ’n heerlike koek! God werk op dieselfde manier.

Baie keer wonder ons hoekom Hy ons deur sulke slegte en moeilike tye laat gaan. Maar God weet dat wanneer Hy hierdie dinge volgens sy plan saamvoeg, dit altyd ten goede uitwerk! Ons moet Hom net vertrou en uiteindelik sal alles iets wonderliks word!”

Kom ek wys jou gou  “Die koek wat God bak” in Josef se lewe:

Eers besluit sy broers om hom dood te maak maar gooi hom toe in ‘n put.  Waarskynlik om van honger en dors te sterf.

GEN 37:23  En toe Josef by sy broers kom, trek hulle Josef se rok uit, die rok met lang moue wat hy aangehad het,

GEN 37:24  en hulle neem hom en gooi hom in die put. Maar die put was leeg; daar was geen water in nie.

Hou nou in gedagte, dat toe Josef in daardie put gelê het, het hy nie geweet, dat hy weer daaruit gaan kom nie.  As iemand met ‘n normale verstand, het hy verseker gedink, dat dit die wrede einde van sy lewe is.

Toe begin die volgende groot krisis in Josef se lewe –

Sy broers sien Midianitiese koopmans op pad na Egipte en besluit om hom aan hulle te verkoop.

GEN 37:28  En toe die Midianitiese koopmans verbykom, het hulle Josef uit die put uit opgetrek en uitgehaal en Josef aan die Ismaeliete verkoop vir twintig sikkels silwer. En húlle het Josef na Egipte gebring.

Nou reeds deur twee groot krisisse, word Josef aan Pótifar verkoop.  Om soos Josef met die kennis wat hy gehad het, heel waarskynlik geredeneer het, nooit weer sy familie te sien nie.

GEN 37:36  En die Midianiete het hom na Egipte verkoop aan Pótifar, ‘n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag.

Josef het egter nie handdoek ingegooi nie.  Hy het in sy omstandighede, die beste gedoen wat hy van sy kant af kon doen met, om dit so te stel, die kaarte wat vir hom gedeel was.

Soveel so, dat Pótifar hom naderhand so vertrou het, dat Pótifar sy hele huishouding aan Josef oorgelaat het.

Net toe Josef ‘n sukses gemaak het van die groot gemors waarin sy lewe beland het, as gevolg van omstandighede buite sy beheer, beland hy in ‘n volgende groot gemors, ten spyte dat hy dit met al sy mag probeer vermy het:

GEN 39:4-16 

4 .. het Josef guns in sy (Potifar) oë gevind en hom gedien; en hy het hom aangestel oor sy huis, en alles wat in sy besit was, aan hom oorgegee. 5En vandat hy hom aangestel het oor sy huis en oor alles wat in sy besit was, het die HERE die huis van die Egiptenaar geseën ter wille van Josef; ja, die seën van die HERE was by alles wat syne was, in die huis en op die veld.  6En hy het alles wat syne was, aan Josef oorgelaat, sodat hy met sy hulp van niks kennis geneem het nie as net van die brood wat hy geëet het. En Josef was skoon van gestalte en mooi van aansien.

7Ná hierdie dinge het die vrou van sy heer haar oë na Josef opgeslaan en gesê: Kom hou gemeenskap met my. (en hier kom satan se groot poging, om Josef, sy rug op ons Here te draai in die rigting van die hel)

 8Maar hy het geweier en aan die vrou van sy heer gesê: Kyk, deur my is dit dat my heer geen kennis neem van wat in die huis is nie; en alles wat syne is, het hy aan my oorgegee. 9Hy is in hierdie huis nie groter as ek nie en het my niks onthou nie behalwe u, omdat u sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?

10En nadat sy met Josef dag ná dag gespreek het, en hy na haar nie wou luister om by haar te lê om met haar gemeenskap te hou nie,11kom hy eendag in die huis om sy werk te doen terwyl niemand van die huisgenote binne was nie.  12Toe gryp sy hom aan sy kleed en sê: Kom hou gemeenskap met my. Maar hy het sy kleed in haar hand laat agterbly en gevlug en na buite geloop. 13Toe sy dan sien dat hy sy kleed in haar hand laat bly en buitentoe gevlug het, 14roep sy na haar huisgenote en sê aan hulle: Kyk, hy het vir ons ‘n Hebreeuse man hier gebring om met ons gek te skeer; hy het na my gekom om met my gemeenskap te hê, en ek het hard geskreeu;

15en toe hy hoor dat ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat agterbly en gevlug en na buite geloop.  16En sy het sy kleed by haar neergelê (want die wellus was nou vervang met haat) totdat sy heer tuisgekom het.

Toe beland hy weer in die tronk en dit om dat hy die regte ding gedoen het.  Nou is hy ‘n slawe bandiet, volgens sy wete, waarskynlik tot sy dood toe – maar die Faro laat hom kom om sy, die Farao se droom uit te lê en die uiteinde?

GEN 41:39-41 

39 En Farao sê vir Josef: Aangesien God dit alles aan jou bekend gemaak het, is daar niemand verstandig en wys soos jy nie.

40  Jy moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik; alleen deur die troon sal ek groter wees as jy. (nou is Josef die tweede magtigste persoon in Egipte)

41  Verder het Farao vir Josef gesê: Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipteland.

Ongeveer 22 jaar nadat hulle hom as slaaf verkoop het, toe Josef met sy broers praat en terug kyk oor sy lewe, kon hy omdat hy ‘n kind van ons Here was en omdat hy geweet het, dat ons Here miljoene mense se lewens deur hom, Josef, gered het, vir sy broers sê:

GEN 45:4  Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het.

GEN 45:5  Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur.

Na Jakob se afsterwe was Josef se broers nou baie bang.  Want hulle, wat hom so sleg behandel het, is nou heeltemal in sy mag, want hy is die tweede magtigste man in Egipte.

Maar Josef stel sy broers weer gerus en wys vir hulle uit dat GOD selfs die bose onreg wat hulle hom aangedoen het, ten goede laat meewerk het:

GEN 50:20-21

20 Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.

21 Wees dan nou nie bevrees nie: ék sal julle en julle kinders onderhou. So het hy hulle dan getroos en na hulle hart gespreek.

Dink net –

As Josef toegegee het aan sy versoeking, sou een van die volgende waarskynlik verder met hom in sy tydelike lewe hier op aarde gebeur het:

Hy sou dalk of as ‘n slaaf van ouderdom gesterf het.  Of die vrou sou moeg geword het vir hom en die een of ander plan gemaak het, om van hom ontslae te raak.  Want dit was nie liefde nie, dit was gewoon net wellus.  Daarom wou sy hê, hy moes met haar gemeenskap hê.

Wat sou nié gebeur het nie?

Hy sou nie die bakker en die skinker se drome kon uitlê nie en as gevolg daarvan, ook nie die Farao se droom kon uitlê nie – en so nie geword het, wat hy toe uiteindelik geword het nie – en die wêreld in ‘n hongersnood kon help nie.

As ek so na Josef se lewe kyk, wil ek na aanleiding van die storie wat jy hierbo gelees het, uitroep:  “Wat ‘n Wonderlike koek het GOD gebak!”

Groete,

Sakkie