WANNEER DIT NIE BAIE MAKLIK GAAN NIE

WANNEER DIT NIE BAIE MAKLIK GAAN NIE

Sakkie Parsons

Iemand, van wie ek kan getuig dat sy en haar man pragtige kinders van ons Here is, skryf by geleentheid  aan my oor dinge in haar man se besigheid, wat ten tye van haar skrywe aan my, nie baie rooskleurig was nie.

Sy skryf onder andere:

“Ons is kinders van ons Here, maar die harde werklik is dat dit op die oomblik nie baie goed gaan nie.”

Ek deel graag, met ‘n paar veranderings,  my antwoord aan haar ook met jou – en wie weet, miskien weet jy van iemand vir wie jy hierdie skrywe wil stuur.

Ek wil graag vir julle met hierdie woorde bemoedig. Kyk, as daar nou een ding is waarmee jy ‘n kind van ons Here kan vertrou, omdat jy weet dat hy/sy dit sal kan hanteer, en hier praat ek nie van iemand wat noodwendig menslik gesproke, psigies sterk is nie, maar van iemand wat sy/haar oë werklik op Jesus hou, en dit is dat jy die persoon met die “harde werklikheid” kan vertrou.

Hoe weet ek dit verseker? Wel, dit is eintlik so absoluut eenvoudig.

Ons, Sy kinders,  ken mos ons Here en ons weet dat Hy vir ons laat skryf het:

NUM 23:19  “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?”

Wel, hierdie God, ons liefdevolle Vader, wat dit vir ons laat skryf het, het ook vir jou en my laat skryf, eintlik moet ek sê, Hy het dit spesiaal vir jou en my, Sy kinders van Sy Nuwe Testament laat skryf:

1 KOR 10:13  “Onthou, die versoekings (en beproewings) wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking (en beproewing) te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking ( en beproewing) sal Hy vir 'n uitweg sorg sodat julle dit kan verduur.”

Glo my ook as ek vir jou sê, en ek praat nie van hoorsê nie, dat satan vir ‘n kind van ons Here, die lewe so moeilik gaan maak as wat hy kan, maar hoe absoluut heerlik om hierdie sekere wete te hê:

HEB 4:14-16
14  “Ons het dan nou 'n groot Hoofpriester wat deur die hemele beweeg het, Jesus die Seun van God. Laat ons voortdurend aan ons geloofsbelydenis aangaande hierdie Jesus vashou.
15 Hierdie Hoofpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede (versoekings en beproewings) saamvoel, want Hy is in elke opsig op dieselfde manier as ons versoek, maar Hy het nie voor die sonde geswig nie.
16 Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons Sy ontferming en genade bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word.”

Ek is ook seker, dat ons, die kinders van die ware God, wat bogenoemde gedeelte in tye van beproewinge in ons harte oproep, juis die mense is in wie se lewens die volgende gesegde in die oë van die mense om ons gestalte kry:

“When the going gets tough, the tough gets going.”

“When the going gets tough” is wanneer satan ons met mening, eintlik wil ek sê, met mag en mening aanval, om ons liewer te laat afsien van ons beginsels en ander oplossings te soek.  Ja, om ons sommer van ons geloof te laat afsien en ‘n goeie voorbeeld is my groot held Paulus se lewe:

2KOR 11:24-28 
24 Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na.
25  Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ‘n nag en ‘n dag het ek op die diepwater deurgebring—
26  dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders;
27  in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid.
28  Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes.

Kyk!  Dit is nou “tough going,” vir dit waarin jy glo en nog steeds aan die “go” te bly.

Die Woord is vol daarvan.

My groot held Paulus noem by geleentheid so ‘n paar van jou en my voorgangers op. Ek bedoel eintlik dat ek dink dit was my groot held Paulus wat die brief aan die Hebreërs geskryf het. In elk geval, hy begin eers deur te sê:

HEB 11:1  “Wat is geloof dan? Dit is 'n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak.
HEB 11:2  Juis op grond van hierdie geloof word daar so positief oor die mense van vroeër getuig.”

Dan noem hy so ‘n lysie van ons voorgangers op wat jy kan gaan lees.

Kom ons wees nou eerlik –

Watter tipe mens ken jy, anders as ‘n wáre Christen, van wie die volgende getuig kan word en onthou nou dat hierdie getuienis omtrent ‘n wáre kind van ons Here, uit Sy Woord kom en ons weet mos, dat God nie kan lieg nie.

Dan met daardie uitsig in my,  kom my geestelike volwassenheid in beweging. 
Met ander woorde, “the tough gets going” 

En ek, terwyl ek onthou, dat ek in die Hand van ‘n lewende God is, kyk ek na my omstandighede en ek jubel dit saam met my groot held Paulus uit:

2KOR 4:6  “God het gesê: "Laat daar lig skyn uit die duisternis." So het Hy ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God wat uit die gesig van Jesus Christus straal.
2KOR 4:7 Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte (ons stoflike brose liggame) – die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie.”

Ek kry soms baie, baie swaar. My Jesus het ook baie, baie swaar gekry en ek was al so hartseer en het al so gehuil, vanweë die hoë steil berg wat ek by geleentheid in my lewe moes klim, dat my keel toegetrek het.  My Jesus het ook baie gehuil. Om die waarheid te sê, van geen ander persoon in die Nuwe testament is daar so baie voorbeelde van dat Hy gehuil het, soos van my Jesus nie, maar ek het hierdie skat, hierdie sekere wete wat jy vandag hier gelees het, in my breekbare kleipot binne-in my en ek staan dan weer op want:

Ons lees hierdie wonderlike woorde wat op ons, as kinders van ons Here van toepassing is:

2KOR 4:8 “Op elke manier word ons onder druk geplaas,
maar ons is nie verpletter nie;
ons is verward,
maar nie wanhopig nie;
2KOR 4:9 ons word vervolg,
maar nie in die steek gelaat nie;
platgeslaan,
maar nie vernietig nie.”

HEB 12:2 “Ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!

HEB 12:3 Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie.”

Groete,
Sakkie