WANNEER EK OPREG BELY, VERGEWE GOD MY

WANNEER EK OPREG BELY, VERGEWE GOD MY

Sakkie Parsons

Iemand deel met my die volgende:

Sy ken hierdie Pastoor en hy klink en vertoon altyd so vroom – maar die dame ken die man se verlede en sy kan nou nie verstaan hoe hierdie man nou so vroom altyd in die gemeente kan optree nie.  Sy beweer dat dit verkeerd is en hy eintlik nie toegelaat moet word om as ‘n Pastoor in die gemeente op te tree nie.

Ek wil nou nie verder oor die dame se gesprek met my uitwei nie maar ek wil jou vra wie hier lees en kom ons begin nou maar by die leraars/dominees wat in sommige denominasies elke Sondag die opsomming van die mosaïese wet in Eksodus 20 vir hulle gemeente voorhou.
Hoeveel van daardie dominees en of leraars dink jy sal vir jou sê, dat hulle daardie opsomming van die mosaïese wet vir hulle gemeente kan voorhou, omdat hulle nie skuldig in hulle lewe aan die oortreding van een van daardie wette, net uit die opsomming van die mosaïese wet was nie?
Ek persoonlik weet nie van een nie.

Kom ons trek dit nog ‘n bietjie nouer:
Wie van ons, dink aan jouself my liewe leser, kan Jesus se Liefdeswet vir iemand voorhou, omdat ons lewens onkreukbaar is en ons nooit oortree wat hierdie saak aanbetref nie?

Ek wil nou met jou deel hoe ons na hierdie soort omstandighede behoort te kyk en as jy klaar gelees het, besluit jy dan maar self of die dame hierbo se diskoers met my meriete het en soos my gewoonte is, neem ek twee voorbeelde uit die kosbare Woord van ons Here.

Die eerste man se verlede wat ek jou wil voorhou is koning Dawid en jy kan die hele gebeurtenis gaan lees beginnende in 2 Samuel 11:1.

Eers stuur Dawid sy leer uit maar gaan nie saam nie (groot fout) maar lê eerder ledig in sy paleis rond en nou weet ons mos ledigheid is die duiwel se oorkussing:

2SAM 11:1-4
1  En ná verloop van die jaar, teen die tyd dat die konings uittrek, (dit was die strategiese tyd van die jaar om jou vyande te troef) stuur Dawid Joab en sy dienaars saam met hom uit en die hele Israel. En hulle het die land van die kinders van Ammon verniel en Rabba beleër, terwyl Dawid in Jerusalem gebly het. (terwyl hy sy leer moes gelei het)
2  En teen die aand, toe Dawid van sy bed opgestaan het en op die dak van die paleis wandel, sien hy van die dak af ‘n vrou wat besig was om ‘n bad te neem; en die vrou was baie mooi van aansien.
3  En Dawid het ondersoek laat doen na die vrou, en hulle het gesê: Is dit nie Bátseba, die dogter van Elíam, die vrou van Uría die Hetiet nie?
4  Daarop stuur Dawid boodskappers en laat haar haal. (en misbruik so sy mag) En toe sy by hom inkom, het hy met haar gemeenskap gehad, terwyl sy haar juis van haar onreinheid gereinig het. Daarna het sy na haar huis teruggegaan.

Nou kan jy die verdere geskiedenis daar in 2 Samuel gaan lees.
Van hoe die koning sy koninklike mag misbruik en ‘n met ‘n getroude man se vrou gemeenskap gehad het en hoe sy verwagtend geraak het.
Hoe Dawid toe later, toe hy nie meer dit kon wegsteek dat dit hy was wie die getroude vrou swanger gemaak het nie, haar man laat vermoor het.
Dan kan jy verder gaan lees, hoe hy werklik groot berou gehad het en ons Here in Sy groot liefde en genade hom volkome vergewe het – en ons Here laat Dawid toe om al daardie Psalms, of as jy wil al daardie preke skryf wat vir God goed genoeg was om almal in Sy Woord te laat opteken.

Dink net ‘n bietjie:
Dawid het ongeveer 1,000 jaar voor Jesus geleef.
So, nou al vir meer as 3,000 jaar gebruik ons Here nog steeds Dawid se psalms / preke / gedagtes uit Sy kosbare Woord om jou en my te troos, inspireer en leer.

Dit is hoe God ‘n man en vir jou en vir my kan gebruik, as ons net wérklik in volle opregtheid die verkeerd in ons lewens bely en daar aan werk om dit nie meer te doen nie.

Verder lees ons dat daar in die Woord die volgende geskryf staan oor hoe ons Here oor Dawid gevoel het:

HAN 13:22  En nadat Hy hom afgesit het, het Hy Dawid vir hulle verhef as koning, van wie Hy ook gesê en getuig het: Ek het Dawid, die seun van Isai, gevind, ‘n man na my hart, wat al my welbehae sal doen.
HAN 13:23  Uit die nageslag van hierdie man (dit is Dawid) het God vir Israel, volgens die belofte, Jesus as Verlosser verwek,

Want jy sien –
Dawid het wérklik berou gehad en met sy berou wat ons Here in sy hart kon sien, het Dawid sy sonde bely en om vergifnis gevra en ons Here is ‘n waarmaker van Sy Woord.  Ook as Hy sê:

1JHN 1:9  As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.

Wat Dawid nié weer gedoen het nie en wat ons ook nié moet doen, as ons ‘n sekere sonde bely het nie, Ons moet daardie sonde dan nie weer moedswillig gaan doen nie.

Onthou jy wat Jesus vir die owerspelige vrou gesê het?

JHN 8:10  En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie?
JHN 8:11  En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.

Onthou jy ook wat Jesus vir die vrou se aanklaers gesê het en as jy dit nou lees, onthou dan ook, dat Jesus God is wie mens geword het en dat Hy oppad Golgota toe was om vir hulle en die vrou en hierdie Pastoor en ook vir my en jou sonde aan die kruis te gaan hang het, toe Hy dit vir hulle gesê het:

JHN 8:7  … Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi.

Saulus van Tarsus – wie Christene vervolg en medepligtig aan die moord op baie Christene gewees het, skryf onder die leiding van die Heilige Gees nadat hy Paulus van Christus geword het – en ons Here hom met die grootste gedeelte van die Nuwe Testament toevertrou het:

FIL 3:12-14 
12 Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.
13  Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie.
14  Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.

Hoe wonderlik!
As ek my sonde in oprégtheid by ons Here bely het, te weet:

ROM 4:7  Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is.
ROM 4:8  Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie.

Ons Here het my ook ‘n lied gegee wat oor vergifnis van sonde handel en wat op my Webtuiste onder ‘Liedere’ beskikbaar is om na te luister en die getuienis daaromtrent te lees.  Die lied se naam is:  “GOD hou geen kwitansies”

Groete,
Sakkie