WANNEER MAG EK SKEI EN WANNEER NIE? DEEL 1

WANNEER MAG EK SKEI EN WANNEER NIE – DEEL 1

Sakkie Parsons

Na aanleiding van iets wat ek geskryf het, stuur iemand aan my die volgende vraag:
“Dis baie waar, hierdie stuk oor die huwelik met 'n ongelowige. Ek wonder nou net: daar staan duidelik dat as die ongelowige wil skei, moet jy hom nie verhinder nie, wat dan as die gelowige vrou of man van die ongelowige man of vrou wil skei?

Hier dan is hoe ek na hierdie saak kyk. Die persoon wat aan my geskryf het,skryf onder andere, met groot waarheid natuurlik:
“…daar staan duidelik dat as die ongelowige wil skei, moet jy hom nie verhinder nie, …”

Kom ons kyk gou na my groot held Paulus se stelling wat hy gemaak het maar dan kyk ons ook sommer, hoekom hy hierdie, om dit so te stel, toegewing aan ‘n Christen maak sodat ons ook sommer kan sien of Paulus nie hier ‘n bietjie uit lyn met Jesus beweeg nie. Want ons weet mos dat ons Here nie wil dat ‘n Christen, behalwe weens egbreek/hoereer, moet of mag skei nie.

Kyk nou na hierdie groot wysheid wat Paulus onder leiding van die Heilige Gees met ons deel en hier gebruik ek die NLV waarvoor ek so baie lief is en ek het gelukkig hierdie gedeelte uit daardie vertaling op my rekenaar gehad:

1KOR 7:15 “Maar as die ongelowige huweliksmaat daarop aandring om te skei, laat dit dan so wees.  In sulke gevalle is die Christenbroer of -suster nie verplig om met die huwelik voort te gaan nie.  God wil immers hê dat sy kinders mense van vrede moet wees.”

Sien jy waarom jy die ongelowige moet laat gaan?

1KOR 7:15  “… God wil immers hê dat sy kinders mense van vrede moet wees.”

‘n Engelse vertaling wat ek op my rekenaar het, stel dit so:

1COR 7:15  “But if the unbelieving partner separates, let it be so. In such cases the brother or sister is not enslaved. God has called you to peace.”

Pragtig staan dit daar: “…God has called you to peace.”

Om mee te begin, die ongelowige is nie ‘n dissipel van Jesus nie en gaan haar/hom daarom, in elk geval, nie steur aan jou geloof, met ander woorde ook nie aan jou siening wat die geloof aanbetref nie en al sou dit vir jou moontlik wees vanweë die een of ander rede om die ongelowige in die huwelik te hou, gaan dit, om dit so te stel, vir julle albei hel met ‘n gedurige baklei wees en onthou wat ons Here van jou en my verwag, waar dit by ander mense kom:

ROM 12:18  Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense.

Nou by die eintlike vraag van die persoon wat aan my geskryf het. Die persoon skryf:

“… daar staan duidelik dat as die ongelowige wil skei, moet jy hom nie verhinder nie, wat dan as die gelowige vrou of man van die ongelowige man of vrou wil skei?”

Weet jy, daar staan net so duidelik, dat as die ongelowige nié wil skei nie, die gelowige nie behoort of dan, mag skei nie en saam daarmee staan daar nog ‘n groot heerlikheid, wat net weer wys hoe heilig jy en ek in die oë van ons Here is:

1KOR 7:12-14  Nou gaan ek met die res van julle praat alhoewel ek nie ‘n direkte opdrag van die Here het nie.  As ‘n Christenman ‘n ongelowige vrou het en sy vind dit goed om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie.  13En as ‘n Christenvrou ‘n ongelowige man het en hy vind dit goed om by haar te bly, moet sy nie van hom skei nie.  14Want die Christenvrou bring ‘n atmosfeer van gewydheid (heiligheid) oor haar ongelowige man en die Christenman bring ‘n atmosfeer van gewydheid oor sy vrou.  Anders sou julle kinders nie aan God toegewyd wees nie, maar nou is hulle.

Sien jy dit?

As gevolg van jou dissipel van Jesus se teenwoordigheid in daardie persoon se huwelik en daarom natuurlik in haar/sy lewe is jou lewensmaat heilig in die oë van ons Here en so ook is jou en die ongelowige se kinders ook heilig in die oë van ons Here.

Nou wil jou lewensmaat by jou bly. Daar kan mos net goed uit so ‘n huwelik kom, waar almal in die gesin heilig in die oë van ons Here is en waar albei partye in die huwelik nie wil hê dat die huwelik in ‘n egskeiding eindig nie.

Nou moet jy ook net baie duidelik verstaan – Paulus het hier in Korintiërs geëvangeliseer onder mense wat nog nooit van ons Here se Evangelie gehoor het nie. Toe hy die Evangelie daar verkondig het, het nie albei, die man en die vrou, noodwendig tot geloof gekom nie. Dit het baie gebeur dat net een van die twee in die huwelik tot bekering gekom het en hy praat nou onder andere met die gelowiges in sulke huishoudings.

Dit is ‘n huishouding waar die ongelowige te lief vir haar/sy lewensmaat was om haar/hom te los, al moes sy/hy die ongelowige nou saam met ‘n heel ander mens lewe.

Hy praat dan hier met mense wat getroud was en die een toe tot die geloof gekom het.

1KOR 7:17 Elkeen van julle moet voortgaan in die lewensituasie wat die Here vir julle gegee het toe julle God se roepstem gehoor het. ..

Hy praat verseker nie van gelowige mense wat reg teen die bevel van ons Here ingegaan het en met ‘n ongelowige gaan trou het nie. Ek sê reg teen die bevel van ons Here in. Lees hier:

2KOR 6:14-18  Moenie saamspan met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg?  Of watter gemeenskap kan daar wees tussen lig en duisternis? 15Watter ooreenkoms kan daar wees tussen Christus en Belial? Of watter gemeenskaplikheid kan daar wees tussen ‘n gelowige en ‘n ongelowige? 16Watter ooreenkoms het die tempel van God met afgode?  Ons is mos die tempel van die lewende God.  Dit is soos God gesê het:  “Ek sal onder hulle woon en rondbeweeg, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”  17Daarom:  “Gaan van hulle af weg en hou julle eenkant, sê die Here, en moenie vat aan wat onrein is nie;  dan sal Ek julle ontvang.” 18 En ook:  “Ek sal vir julle ‘n Vader wees en julle sal vir My seuns en dogters wees, sê die Here die Almagtige.”

Vir die gelowige wat in absolute ongehoorsaamheid met ‘n ongelowige reg teen die Woord van ons Here in gaan trou het, kan ek maar net sê, dat jy moet onthou:  “Two wrongs don’t make a right.”

Jy kan nie een ongehoorsame daad, met ander woorde, waar jy met ‘n ongelowige gaan trou het,  met ‘n ander ongehoorsame daad, met ander woorde deur te skei, wil reg maak nie:

MAL 2:16  Die HERE, die God van Israel sê:  “Ek haat egskeiding!…”

So – as jou ongelowige lewensmaat nie wil skei nie, moet jy by haar/hom bly.

Iemand vra dalk: Waarom mag die ongelowige altyd die reg hê om die besluit om, wat verseker gewoonlik ‘n ongelukkige toedrag van sake is, te beëindig of nie?
Wel, soos ek dit sien, het die gelowige in die een geval waar die gelowige in ongehoorsaamheid in ‘n huwelik ingegaan het, haar/hom in ‘n situasie in begewe, waar jy net deur nog ‘n uiters ongehoorsame stap daaruit kan kom en wat meer is – jy sal dan weer moedswillig iets doen wat jy weet wat ons Here haat en so sal jou tweede dwaling willens en wetens, saam met die eerste, in die geheel ‘n groter vergryp teen ons Here wees as die eerste.

Nou wil ek net iets meer sê oor hoekom ‘n Christen met vrede in haar/sy hart die ongelowige uit die huwelik kan laat gaan, as dié nie wil voortgaan met die huwelik nie.
Ek sien dit so: Eerstens natuurlik, soos ek reeds gewys het, omdat die Woord sê dat jy dit onder daardie omstandighede mag doen.

Dan, in die huwelik waar een van die twee lewensmaats tot bekering gekom het, het die ongelowige se lewensmaat soos die ongelowige haar/hom geken het, gesterf.  Die persoon met wie die ongelowige getrou het, is in werklikheid nie meer daar nie. Voor die ongelowige staan daar in nou iemand anders, en dit kan nou vir die ongelowige persoon in die huwelik ‘n probleem wees wat sy/hy, om dit so te stel, nie kan of wil aanvaar of hanteer nie en natuurlik het die ongelowige ook nie daarvoor gevra nie.

ROM 6:3-8  Of het julle vergeet dat ons met ons doop een geword het met Christus Jesus en so saam met Hom gesterf het? 4Deur die doop is ons saam met Hom begrawe as mense wat deel in sy dood.  En nou kan ons, net soos Christus wat der ‘n heerlike magsdaad van die Vader opgewek is, ook ‘n totaal nuwe lewe leef. 5Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons ook saam met Hom opgewek word tot ‘n nuwe lewe.
6Ons weet dat ons ou sondige self saam met Christus gekruisig is sodat die sonde se mag oor ons verbreek kan word en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie. 7Want as iemand sterf, word hy vry van die mag van die sonde. 8Aangesien ons saam met Christus gesterf het, weet ons dat ons ook deel sal hê aan sy lewe.

Die ongelowige sien nou voor haar/hom ‘n nuwe mens wat die ongelowige nie kan of wil aanvaar en mee saam wil lewe nie. Want wat sien die ongelowige voor haar/hom?
‘n Nuwe of dan, ander mens.

KOL 3:9-10  Moenie vir mekaar lieg nie.  Julle het mos die vorige mens en sy leefstyl soos klere uitgetrek 10en die nuwe mens aangetrek.  Hierdie mens kry voortdurend nuwe insig en word só verander en nuut gemaak om al meer soos die Skepper te lyk.

Die ongelowige het nou te doen met iemand met wie se karakter die ongelowige haar/homself net nie mee kan vereenselwig nie en ook vir die gelowige is dit nie maklik nie, maar gelukkig, om dit so te stel,  het die gelowige die Heilige Gees inwonend in haar/hom, sodat die gelowige dit kan hanteer, maar die ongelowige het net haar/homself, met ander woorde, wat satan aanbetref, is die ongelowige eintlik weerloos.

2KOR 6:14  “… want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg?  Of watter gemeenskap kan daar wees tussen lig en duisternis?”

Dit dan wat die gelowige aanbetref wat met ‘n ongelowige getroud is en hoe ons moet optree as die ongelowige wil skei of nie wil skei nie.

Ek kan net nie hierdie skrywe afsluit as ek nie nog iets oor die gelowige wat willens en wetens met ‘n ongelowige gaan trou het, sê nie. As jy (gelowige) daardie baie ongehoorsame stap geneem het om met ‘n ongelowige persoon te trou en daardie persoon het nie owerspel gepleeg en wil jou nie verlaat nie, behoort jy nie te skei nie.
Terwyl jy ook onthou dat die Woord sê dat dit moontlik is om jou ongelowige lewensmaat vir ons Here te wen deur jou gedurige preek deur jou lewe, let wel, nie gedurig deur jou mond nie, maar gedurig vir haar/hom preek deur jou lewe.

1PET 2:12 Handhaaf ‘n voorbeeldige leefstyl onder die nie-Christene, selfs al kla hulle julle aan van wangedrag.  Hulle sal dan julle goeie gedrag sien en God die eer daarvoor gee wanneer Hy kom rekenskap vra.

Met ander woorde, dra die vrugte van die Heilige Gees wat in jou is en wen jou lewensmaat vir Christus:

GAL 5:22-23  Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg:  liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, 23sagmoedigheid en selfbeheersing…

Dit kan, met ander woorde, alles regkom as jy werklik besef dat jy gesondig het en jy vra ons Here om vergifnis vir die sondige toestand waarin jy jou begewe het. Want, sê ons Here:

1JHN 1:9  As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede.

Daar is egter nog iets oor hierdie onderwerp van die huwelik wat ek met jou moet deel, naamlik fisiese en emosionele mishandeling, maar ek doen dit in my volgende skrywe – deel 2 – aan jou.

Groete,
Sakkie