WANNEER MAG EK SKEI EN WANNEER NIE? DEEL 2

WANNEER MAG EK SKEI EN WANNEER NIE – DEEL 2

Sakkie Parsons

Hierdie is my tweede en laaste skrywe in hierdie kort reeks oor: Wanneer mag ek skei en wanneer nie.

Ek gaan nou iets sê – en daar gaan baie wees wat my sou wou kruisig – want ek het nie skrif daarvoor nie. Ek sal hier maar sê, soos wat my groot held Paulus by geleentheid gesê het. Hy maak ‘n stelling en dan om te onderstreep dat hy onder leiding van ons Here se Heilige Gees praat, sê hy:

1KOR 7:40  “… volgens my gevoele. En ek meen dat ek ook die Gees van God het.”

So – ek gaan dan nou die volgende raad uitdeel, want dit is verseker hoe ek dit sien volgens my gevoele. En ek meen dat ek ook die Gees van God het. Ek gebruik die vrou as my voorbeeld want by verre, volgens die pos wat ek ontvang, is die vrou die mees lydende party.

As ‘n vrou vir my sê dat sy deur haar man fisies en/of emosioneel mishandel word, sal ek vir haar vra, nee – ek sal haar smeek om haar man te verlaat.

Let op –

Ek het nié gesê dat ek haar sou smeek om hom te skei nie, maar sy moet verseker hom so gou as moontlik verlaat en terwille van haar fisiese en emosionele veiligheid nie na hom teruggaan voordat hy vir berading gegaan het en die berader, of dit ‘n sielkundige, pastoor, dominee of wie hy of sy ook al is, aan haar die versekering kan gee dat haar man werklik van sy abnormale gedrag genees is nie.

Selfs as dit sou beteken dat jy nooit weer na hom teruggaan nie, maar moet nie teruggaan voordat jy absoluut seker is dat hy van daardie abnormale gedrag genees is nie.

As jy sou besluit om tog terug te gaan na ‘n mens waarvan jy nie verseker is dat hy vir berading gegaan het nie, en indien hy gegaan het, dat hy volgens dié wat hom gehelp het, wel verander het nie, is die kanse na my mening, omtrent 100% dat jy weer ‘n pynlike fisiese en emosionele toekoms instap wat selfs, want dit het al baie in die verlede met ander vroue gebeur, tot permanente skending en/of die dood kan lei.

By elke Christen wat nog, of weer, op soek is na ‘n lewensmaat wil ek dan afsluit met hierdie twee stukke raad:

Moet dit nooit eens amper oorweeg om jou hart vir iemand te gee as jy nie die absolute sekerheid het dat daardie persoon reeds haar/sy hart werklik aan Jesus gegee het nie. Want as jy dit doen, gaan òf jou geloof, met ander woorde jou verhouding met ons Here, òf jou psige, òf jou liggaam afgetakel word en dalk heeltemal vernietig word.

Juis oor die vernietigende uitwerking wat so iets op ‘n gelowige kan hê, verbied ons Here ons om met ongelowiges te trou.

Die tweede baie belangrike stuk raad wat ek, veral vir dames wil gee is dit, en as jy enige van hierdie gedragspatrone by die man by wie jy betrokke wil raak, of  reeds by betrokke is, sien, maak onmiddelik ‘n einde aan daardie verhouding, anders stap jy na my mening, soos ek reeds ook jou probeer laat verstaan het, ‘n toekoms vol hartseer en pynlike trane tegemoet wat vir jou selfs tot permanente skade en selfs die dood kan lei.

So – ek smeek jou om nie by dit verby te probeer kyk nie en onmiddellik daarop te reageer soos ek hier bo voorgestel het.

Vlug as jy een of meer van die volgende in sy gedrag agterkom, of reeds gesien en ervaar het:

*Iemand wat sy humeur nie in toom kan hou nie.
*Iemand met onredelike redelose jaloesie.
*Iemand wat probeer om jou van jou vriende en/of familie te isoleer.
*Iemand wat aan drank of verdowingsmiddels verslaaf is en nie vir behandeling wil
gaan nie, of al gegaan het, maar nie genees is nie. Want ek is van mening dat indien
jy vir behandeling gegaan het en dit is werklik jou erns, jy nie meer daarmee
deurmekaar sal raak nie.
*Iemand wat altyd in beheer wil wees. Jy mag hierdie of daardie slegs doen indien dit
sy goedkeuring wegdra, of as jy hom presies vertel wat jou doen en late behels of
gaan wees en dan mag jy dit doen, ook net as dit sy goedkeuring wegdra.
*Laastens, iemand wat nie jou, of jou beginsels respekteer nie.

Na my mening is dit selfvernietigend om by so iemand betrokke te raak.
Hou in gedagte dat julle nog nie getroud is nie, en dit wat jy nou sien, is hy wat probeer om sy beste voetjie voor te sit.
Dit wat jy nou sien, gaan tienvoudig en meer vererger, as julle eers getroud is en hy jou nou gekry het.
Om dit so te stel –
Dit wat jy nou sien, is eintlik net die ore van die seekoei wat bo die water uitsteek.

As iemand hier lees en jy sien ek het jou beskryf – daar is goeie behandeling vir al hierdie toestande en die beginpunt is JESUS.

Neem Jesus Christus werklik aan as jou Verlosser en Saligmaker en gaan dan ook vir behandeling. Jy kan ‘n pragtige kind van ons Here word.

Vir almal wat sê dat hulle Christene is en hulle lewensmaats misbruik of mishandel, wil ek vra – kyk weer eerlik in die spieël na jouself en luister hoe ons Here in Sy Woord aan jou sê:

EFE 4:31 “ Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid.”

Groete,
Sakkie