WANNEER MENSE DIE WOORD VERDRAAI

WANNEER MENSE DIE WOORD VERDRAAI

“My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.” JOH 10:27

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en oor iets in die Woord met my verskil en toe die volgende stelling gemaak.  Ek gebruik my eie woorde:

“In die oorspronklike tale van die Bybel lees dit wat jy gebruik só … en nie soos jy dit nou lees in die huidige Vertaling nie.”

Laat ek verduidelik hoe ek persoonlik hierdie saak in my lewe verwerk.

Eerstens lees ek die Woord tot my beskikking soos ons Here sê dat ons Sy Woord moet lees –  Ek haal dit vir jou aan uit Die Bybel – Die Nuwe Lewende Vertaling:

MAT 18:1-3 
1 In daardie tyd het die dissipels na Jesus toe gekom met die vraag:  “Wie van ons sal die belangrikste wees in God se koninkryk?”
2  Jesus roep toe ‘n klein kindjie nader en laat dié tussen hulle staan.
3  Toe sê Hy:  “As julle nie wegdraai van julle sondige lewe en soos die kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van God ingaan nie.

MRK 10:15  Ek verseker julle, wie God se koninkryk nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.”

MAT 11:25  Toe het Jesus hierdie gebed gebid:
“Vader, Here van die hemel en die aarde,
Ek sê vir U dankie dat U die insig in hierdie dinge
van die slimmes en intelligentes weerhou het
en dit oopgemaak het vir hulle wat soos kinders (in die geloof) geword het.

Ek is verseker nie naastenby ‘n kenner van die oorspronklike tale nie maar vir my is dit hoegenaamd nie ‘n probleem nie.
Ons het na my mening in Afrikaans en by name in veral die, wat die drie susterskerke genoem word, van die beste Bybel vertalers in die wêreld.
Ek behoort ook nie aan een van hierdie drie denominasies nie, so ek kan nie beskuldig word dat ek bevooroordeeld is nie.
Die heerlikste vir my egter, is die feit dat ek behoort aan ons Here en so lank as wat ek op Hom vertrou en my deur Sy Gees laat lei is daar nie ‘n manier dat ek my deur ‘n verkeerde vertaling sal laat beïnvloed nie.  Ons Here sal dit net eenvoudig nie toelaat nie.

JHN 10:27  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.
JHN 10:28  En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

Hoor hoe mooi stel die NLV die volgende vers:

JHN 10:29  My Vader, wat hulle aan My gegee het, is magtiger as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader steel nie.

Daar was na my mening ‘n tyd in die verlede toe byvoorbeeld ‘n sekere kerk die Woord verdraaid aan die mense oorgebring het maar omdat ons Here nooit sal toelaat dat iemand met so ‘n boosheid wegkom nie, het ons Here destyds ‘n man soos Martin Luther gebruik om die saak reg te stel.

Ek wil ook mense maan om baie versigtig te wees as iemand na jou kom en sê, dat in die oorspronklike taal staan iets so of so.  Daar was in die verlede en daar sal verseker weer mense in die toekoms wees wat iets uit hulle duime sal suig net om hulle verdraaide sienswyse van die Woord oor te bring.

Ek gee jou ‘n voorbeeld van iemand wat dalk die woord wil verdraai en die oorspronklike taal verkeerd daarvoor wil gebruik om sy vals standpunt te stel. Hierdie persoon sê byvoorbeeld aan jou dat Romeine 1:26 verkeerd vertaal is van die oorspronklike tale en dat, om dieselfde geslag leefwyse te regverdig, daar eintlik bedoel word dat mense so gebore word, en nie so geword het nie.  Nou ken ek nie die oorspronklike tale nie, so ek kan nie vir hom sê dat die woorde wat hy as die oorspronklike taal gebruik, sommer ‘n gebrabbel van sy verbeelding is en dat hy met ander woorde nou hier lieg nie.
Gelukkig het ek die Woord wat ons Here in my hand gesit het, so ek kan vir hom sê:
“Dis ‘n leuen!”
Terloops ROM 1:26 en verder lees so uit die NLV – die woord ‘oorgegee’ kom ook voor in die 1953 Vertaling:

ROM 1:26-28 
26 Dit is daarom dat God hulle oorgegee het aan hulle eie skandelike drifte.  Selfs die vroue het die natuurlike seksuele verkeer verrul vir wat teen die natuur is, naamlik dié met ander vroue.
27  Op dieselfde manier het die mans die natuurlike manier om seksueel te verkeer prysgegee en ‘n brandende begeerte na mekaar begin koester.  Mans het skandelike dade met mekaar bedryf.  Gevolglik moes hulle in hulle eie persoon die duur prys vir hulle perversiteit betaal.
28  Inderdaad, omdat hulle geweier het om aan God die erkenning te gee wat Hy verdien, het Hy hulle oorgegee aan hulle skewe ingesteldheid.  Gevolglik doen hulle allerlei onbehoorlike dinge.

Wat my voorbeeld hierbo aanbetref, daar het werklik iets soortgelyks al in die verlede gebeur.

So wees baie, baie versigtig vir iemand wat vir jou sê dat hier of daar moet dit eintlik só geskryf staan.
Ekself het met die 33 en 53 vertaling tot bekering gekom maar ek is baie lief vir Die Nuwe Lewende Vertaling, sowel as die 83 Vertaling.
Daar is noodwendig verskille in byvoorbeeld bewoording vanweë die verskillende tydperke waarin die Bybel vertaal was en hoe die taal toe gebruik was – maar die Evangelie was nie verdraai nie, want ons Here sal nie toelaat dat Sy woord verdraaid by iemand uitkom, wat opreg na Hom soek nie.
Daar was al destyds in die totstandkoming van die Nuwe Testament sulke verskille maar nie een wat die Evangelie verdraai het nie.

Ek deel met jou een so ‘n geval waar my groot held Paulus betrokke was.
Onthou nou as jy dit lees – Lukas, die skrywer van Handelinge, kon, en het sekerlik ook soos ek en ander, dit wat hy geskryf het, oorgegaan om séker te maak dat dit presies was wat hy wou skryf.
Terloops, ons Here het soveel vertroue in Lukas gehad, dat ons Here, naas Paulus, Lukas die meeste van die Nuwe Testament laat skryf het.
Met dit als in gedagte lees nou die volgende:

HAN 9:3-7 
3 En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ‘n lig van die hemel af;
4  en hy val op die grond en hoor ‘n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My?
5  En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.
6  En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen.
7  En die manne wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan terwyl hulle wel die stem hoor, maar niemand sien nie.

HAN 22:6-9 
6 Maar terwyl ek op reis was en naby Damaskus kom, het daar op die middag skielik ‘n groot lig uit die hemel my omstraal,
7  en ek het op die grond geval en ‘n stem vir my hoor sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My?
8  En ek het geantwoord: Wie is U, Here? En Hy het vir my gesê: Ek is Jesus, die Nasaréner, wat jy vervolg.
9  En die wat saam met my was, het wel die lig gesien en bang geword, maar die stem van Hom wat met my gespreek het, nie gehoor nie.

Het jy die verskil tussen die twee weergawes van die gebeure op die pad na  Damaskus gesien?
Lees gou weer hier:

HAN 9:7  En die manne wat saam met hom op pad was, het sprakeloos gestaan terwyl hulle wel die stem hoor, maar niemand sien nie.

HAN 22:9  En die wat saam met my was, het wel die lig gesien en bang geword, maar die stem van Hom wat met my gespreek het, nie gehoor nie.

In Handelinge 9 hoor die mense saam met Paulus die stem maar as Paulus in Handelinge 22 vertel, het hulle net die lig gesien.

Hier is ‘n mediese dokter, gewoonlik baie presiese mense in dit wat hulle doen en hierdie dokter skryf self by geleentheid, dat hy noukeurig navorsing gedoen het oor dit wat hy geskryf het en wat Paulus aanbetref, was hy vir ‘n lang tyd saam met Paulus.
So, om ‘n ou geykte Afrikaanse gesegde te gebruik, hy het die gebeure wat op die pad na Damaskus plaasgevind het:
“So uit die perd se bek gekry. “

Nou hoekom het hy nie die twee vertellings van dieselfde gebeure op dieselfde manier neergeskryf nie?
Die antwoord is natuurlik eenvoudig, omdat dit wat hy in Han 22:9 geskryf het, presies dit was wat Paulus gesê het.
As dokter het hy geweet dat in Handelinge 22:9 praat ‘n man wat nou net deur ‘n skare byna doodgeslaan is en op die oomblik onder geweldige fisiese en psigiese trauma verkeer maar nie die geleentheid wil laat verby gaan om Jesus se Evangelie te verkondig nie.
So, dit is wat Paulus by daardie geleentheid gesê het en hy wat dokter Lukas is, sal soos altyd noukeurig neerskryf wat gebeur het, al stem die twee vertellings nou nie op die oog af presies ooreen nie.
Gelukkig verander nie die een of die ander vertelling van wat op die pad na Damaskus gebeur het, die feit, dat Paulus Jesus op die pad na Damaskus ontmoet het en die gevolge van daardie ontmoeting nie.
Gelukkig verander die verskille in woorde van die Bybel se vertalings van die 33, 53, 83 en Die Nuwe Lewende Vertaling ook niks aan die Evangelie van Jesus Christus ons Verlosser en Saligmaker nie.

Ten slotte dan vir wat dit vir jou mag werd wees:

Ek dink jy sal baie goed doen as jy óf die 83 vertaling, of Die Nuwe Lewende Vertaling (wat ek hoog aanbeveel) of sommer albei in jou stiltetyd gebruik.  Ek gebruik hoofsaaklik hierdie twee vertalings in my lewe en ek groei daagliks.
Vir my ook ‘n heerlike Engelse vertaling, is: ‘The Amplified Bible’ en ‘The Living Bible’.

Dan – wees tog maar baie versigtig vir elke Dick, Tom en Harry, wat vir jou met ‘n kwotering uit die oorspronklike taal wil vertel dat hier of daar is die Woord verkeerd vertaal.
Vertrou ons Here.
Dit maak nie saak hoe verdraaid mense die Woord wil oorbring nie.   Die oorspronklike geskrifte sal gelukkig altyd daar wees om op terug te val.

JHN 14:1  Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.

JHN 10:27  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.

Die NLV stel dit so pragtig:
JHN 10:28  Ek sal ook die ewige lewe aan hulle gee, en hulle sal so nimmer as te nooit verlore gaan.  Niemand sal hulle uit my hand steel nie.

Terloops, want amper vergeet ek –

Die NLV is as jy gaan kyk, deur altesaam 25 Hooggeleerde vertalers, teoloë, kenners van die antieke tale en Afrikaans, soos ons dit vandag praat, uit ‘n groot aantal denominasies in Suid-Afrikaans  vertaal en ek glo nie een van hulle sou toegelaat het, dat daar enige valshede deur glip nie.

Groete,
Sakkie