WANNEER ONS LIEFDEVOLLE VADER ONS TOT ORDE ROEP – ‘N PERSOONLIKE GETUIENIS

WANNEER ONS LIEFDEVOLLE VADER ONS TOT ORDE ROEP –
‘N PERSOONLIKE GETUIENIS

Sakkie Parsons

Ek wil met jou ‘n groot les deel wat ek geleer het maar eintlik is dit ook ‘n groot getuienis, want dit is hoe ek dit in nabetragting beskou.

Ek wil dan begin met ‘n gedeelte uit die Woord wat ons Here heel eerste midde in die opknappingskursus wat ons Here my deurgestuur het, weer in my hart laat opkom het, om my net weer te laat besef, wat ek altyd in gedagte moet hou in die posisie wat Hy my geplaas het.
Die gedeelte lees as volg:

1KOR10:12-13
12  Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ’n val kom nie.
13  Onthou, die versoekings (beproewings) wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking (beproewing) te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking (beproewing) sal Hy vir ’n uitweg sorg sodat julle dit kan verduur.

‘n Ander gedeelte uit ons Here se Woord wat in my omstandighede, wat hierdie skrywe aanbetref hierby aansluit, wat ook weer baie duidelik tot my gekom het en waaroor ek later in die skrywe meer sê, van hoe dit in my persoonlike omstandighede weer tot my gekom het is die volgende:

MAT 26:40-41
40 Hy kom toe terug by die dissipels en kry hulle aan die slaap.
Hy sê vir Petrus: “So, kon julle dan nie eers een uur saam met My wakker bly nie?
41 Wees waaksaam en bid sodat julle nie in die versoeking kom nie. ’n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.”

Omdat dit gaan lyk of ek nou gaan spog, wil ek hê jy moet my net verdra, want dit, soos jy sal sien, is juis waarteen ek waarsku.

So, terwyl jy nou die volgende gaan lees, onthou dan al die tyd die eerste gedeelte van die Woord wat ek heel eerste in hierdie skrywe met jou gedeel het naamlik:

1KOR 10:12  Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ’n val kom nie.

Ek deel dan nou met jou die volgende:
Ek het toe ek 70 jaar oud geword het en my vrou wie nou by Jesus is as gevolg van dementia niks meer vir haarself kon doen nie en ek dink, my ook nie meer kon herken as ek na haar gegaan het nie en ek op ‘n baie laagtepunt in my lewe was, vir myself gesê:
Ek kan nou maar handdoek in gooi en besluit my lewe is nou niks meer werd nie en om beeldspraak te gebruik “in ‘n hoekie gaan sit.”  Of, ek kan besluit om die lewe met nuwe vuur aan te pak.

Ek het toe besluit om die lewe met nuwe vuur aan te pak en as aansporing vir myself, het ek besluit dat ek elke jaar, tot ek ten minste 80 jaar oud is en ons Here wil en ek lewe, die Wally Hayward 10 kilometer wedloop, gaan hardloop.  Wat ek toe ook elke jaar gedoen het, buiten vir een midde in die Covid pandemie wat ons beleef het.

Hierdie jaar, 2022, met my 75ste verjaarsdag, het ek besluit dat ek die half maraton, naamlik die 21.1 kilometer gaan doen.
Hierdie wedloop is gewoonlik net na my verjaarsdag op een of twee Mei.

Die 23ste April hardloop ek toe vir my gereedmaak vir die wedloop 20 kilometer. 
Die 25ste April hardloop ek toe weer 20 kilometer en die Woensdag die 27ste April hardloop ek die oggend 16 kilometer in my voorlaaste oefensessie, so het ek gedink.

So twee ure nadat ek die 16 kilometer gehardloop het, terwyl ek heerlik ontspan, dink ek so by myself – en dit is ook so glo ek waarom ek so ‘n groot les moes leer.

Ek dink toe :

“Ek is seker nou loshande die fiksste 75 jarige gesig-gestremde atleet ten minste in die hele Pretoria”

En as ek nou reg onthou was dit tussen 10 en 30 minute later, kry ek ‘n pyn in my maag wat ek net as verskriklik kan beskryf.
Die pyn word net erger en erger.
Ek sweet van die pyn.
Ek gooi op van die pyn.
Ek kan later nie ens meer op my voete staan nie vanweë hierdie skrikwekkende pyn.
Ek beland in noodgevalle in die hospitaal en  ek word die volgende dag geopereer vir ‘n obstruksie in my dermstelsel.  Dit wat die ou mense sommer ‘n knoop in die derm genoem het.

Terwyl ek Donderdag die 28ste April, ‘n dag nadat ek te heerlik 16 kilometer gehardloop het, daar lê en wag om die teater ingestoot te word, dink ek so by myself, hoe vinnig dinge in ‘n mens se lewe kan verander:
‘Gister kon ek meer as 20 kilometer gehardloop het as ek wou, en vandag lê ek in groot pyn en wag om geopereer te word.’

Toe vertel ons Here ook in my hart vir my hoekom ek hierdie pad nou stap en dit is wat ons Here in my hart vir my gesê het en ek deel met jou soos ek min of meer kan onthou, hoe dit in my hart opgekom het en ek dit beleef en verstaan het.

“Jy word deur mense Pastoor genoem.
Jy word deur mense as Evangelis genoem.
Jy word deur mense hulle Pastoor in hulle e-kerk genoem.
Jy word deur mense vertel dat jy met groot wysheid aan hulle iets eenvoudig volgens die Woord verduidelik.
Dit is ook hoe Ek jou bediening in 2004 vir jou gegee het om vir My te doen.
Jy behoort van beter te weet.
Hoe verkondig jy, dat mense Jesus se voorbeeld moet volg en jy neem jou God se eer op jou, dat jy so fiks en gesond is?
Dit help nie jy verkondig aan mense van hoe hulle Jesus in nederigheid moet volg en jy wat ‘n leermeester is, begin ‘n dunk van jou self kry en vergeet dat dit My liefde en My genade is wat jou in jou fiksheid gebring het tot waar jy is.
Jy werk vir my en jy moet dit in gees en in waarheid doen.
Jy moet nie een ding verkondig en selfs vir die mense voorgee nie en in jou hart, het jy ‘n dunk van jouself nie.”

Ek het ook toe weer ons Here se woorde onthou en ek deel met jou hoe het dit toe wat my persoonlike omstandighede toe gestalte gekry:

MAT 26:40-41
40 Hy kom toe terug by die dissipels en kry hulle aan die slaap.
Hy sê vir Petrus (Sakkie): “So, kon julle (jy) dan nie eers een uur (in jou lewe vandag) saam met My wakker bly nie? (nou dat ek jou so geweldig seën)
41 Wees (altyd) waaksaam en bid sodat julle (jy) nie in die versoeking kom (wat jou bediening aanbetref) nie. ’n Mens (baie mense, soos ook jy wat vir my werk) se gees is wel gewillig, maar jou liggaam (in jou geval nou, jou mensheid) hou nie altyd by nie.”

Toe dink ek weer aan wonderlike werkers van ons Here.  Mense, om Johannes die doper se woorde te gebruik, wie se skoene ek nie eens werd is om vas te maak nie, het al hulleself wat hulle bediening aan betref te pletter geval, omdat hulle in menslike swakheid, hulle oë, soos ek, net vir ‘n oomblik van Jesus afgehaal het en soos ek, na hulleself in die spieël gekyk het en baie gehou het van wat hulle gesien het – en nagelaat het om te onthou dat dit is alles genade, louter liefdevolle genade.

Ek wil graag vir jou en ander mense wie vir ons Here in die een of ander hoedanigheid werk, dan net die volgende deel, wat ons altyd terdeë bewus van moet wees en wat ek weer baie mooi geleer het:

Onthou, dat ons Here het nie een eienskap wat groter, beter of sterker, of hoe jy dit ook al wil beskryf, as die ander is nie.
Byvoorbeeld, wat hierdie spesifieke skrywe aanbetref.
God se liefde en genade, is nie groter as Sy regverdige oordeel nie.
Daar is mense wat maklik onthou en verkondig, dat God se liefde is oneindig groot en natuurlik is dit so – maar ons moet nie vergeet om ook dit duidelik onder dieselfde mense se aandag te bring, dat ons liefdevolle Here se regverdige oordeel en haat van die sonde in ons lewens, veral wanneer ons moedswillig in ons sondige lewe is, net so oneindig groot is.
Hy sê dan ook self van Sy kind, dit is jy en ek:

HEB 12:5-7 NLV
5  Julle het ook vergeet van die woord van aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word:
“My kind, jy moet dit nie geringskat as die Here jou dissiplineer nie.  Moenie ontmoedig word as Hy jou aanspreek nie. 
6 Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is; (wat willens en wetend ongehoorsaam is en nie hulle sonde in opregte berou bely nie)
Hy tug elkeen wat Hy as Sy kind aanneem.”
7 Wanneer God julle as sy kinders dissiplineer, verduur dit dan as deel van sy opvoedingsprogram.  Watter kind word nie gedissiplineer nie?

Ek moes weer opnuut leer, dat ek, wie van beter behoort te weet, moet weet dat my liefdevolle Vader my tot orde sal roep as ek in dit wat hy my gegee het om te doen, om dit so te stel, uit lyn uit beweeg.

Ek sluit dan hierdie groot les, wat ek weer opnuut moes leer, af met die volgende uit die Woord – wat jy en ek as kinders van ons Here met heerlike vrede in ons harte kan onthou wanneer ons struikel en wat ons Here dan van ons verwag:

1THS 5:6  Laat ons daarom nie soos die ander mense aan die slaap gevang word nie (soos wat ek myself laat vang het nie.)

HEB 4:16 Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid (soos wat ek te wonderlik, ook weer kon doen) na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy ontferming en genade bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word. (soos wat ek deur Hom gehelp was.)

Want hoe absoluut wonderlik van ons liefdevolle genadige en regverdige God en Verlosser, teenoor ons – Sy kinders vir wie Hy aan die kruis gaan hang het!

1JOH 1:9  As ons egter ons sondes (in alle opregtheid) bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe (want Hy het met Sy bloed en Sy lewe daarvoor betaal) en ons skoon te maak van alles wat verkeerd is.

Groete,
Sakkie