WANNEER ONTVANG ‘N MENS DIE HEILIGE GEES?

WANNEER ONTVANG MENS DIE HEILIGE GEES?

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra my of ek dalk kan help:

“Wanneer ontvang ‘n mens die Heilige Gees?”

Hier dan is hoe ek dit uit die Woord verstaan:
Ek praat in my skrywe oor iemand wat Jesus aangeneem het as haar/sy Verlosser en Saligmaker en wat daarom met absolute oortuiging kan sê dat Jesus Christus ons HERE is.

1 KOR 12:3 Daarom wil ek nou hê julle moet weet dat iemand wat sê: "Vervloek is Jesus," definitief nie onder die invloed van die Gees van God praat nie.
Aan die ander kant is dit net die Heilige Gees wat dit vir iemand moontlik maak om te verklaar: "Jesus is die Here."

So, wanneer ontvang iemand die Heilige Gees?

Die antwoord volgens wat ek die Woord verstaan is: Die oomblik wanneer iemand Jesus wérklik, met ander woorde nie net met lippetaal nie, aanneem as haar/sy Verlosser en Saligmaker, het so iemand die Heilige Gees inwonend in haar/hom.

My groot held Paulus verduidelik dit by geleentheid so:

EFE 1:13 Deur wat Christus gedoen het, het ook julle die waarheid gehoor, die Goeie Nuus waardeur julle gered word. Deur wat Christus gedoen het, is julle, toe julle tot geloof gekom het, tot God se eiendom gemerk.  Hierdie eiendomsteken is die Heilige Gees wat God belowe het.
EFE 1:14 Die Heilige Gees is ‘n deposito wat ons volle erfenis waarborg (wat ons onmiddellik ontvang) totdat almal wat aan God behoort, volkome verlos sal wees.  Daarom moet ons God se grootheid prys!

Sommige mense verwar na my mening die werking van die gawes van die Heilige Gees met die inwoning van die Heilige Gees.

Ek gee ‘n voorbeeld uit die Woord om te wys dat almal wat hulle bekeer en Jesus aanneem as Verlosser en Saligmaker, die Heilige Gees ontvang, soos jy reeds gelees het en dit sonder, om dit so te stel, ‘n sigbare uiterlike teken.

Eers net die volgende:
Jesus sê:

JOH 14:6 Jesus sê vir hom: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.

Met ander woorde, níémand kan die Hemel ingaan sonder Jesus se Heilige Gees nie en nou lees ons:

LUK 23:39 Een van die misdadigers wat daar gehang is, het Jesus aanhou beledig deur te sê: "Is jy dan nie die Messias nie? Red jouself en ook vir ons!"
LUK 23:40 Die ander een het hom egter bestraf en gesê: "Het jy óók nie respek vir God nie, alhoewel jy dieselfde straf as hierdie man ondergaan!
LUK 23:41 Ons het dit terdeë verdien, want ons verdien die straf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie."

Die man neem toe Jesus aan as sy Verlosser en Saligmaker.  Sonder enige uiterlike teken, net volgens die getuienis van sy woorde:

LUK 23:42 Hy het verder gesê: "Jesus,onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom."

Toe sê Jesus – en dit is die bewys vir my, dat die man die Heilige Gees ontvang het en gereed is om die Hemel in te gaan:

LUK 23:43 Jesus se antwoord was: "Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees."

Jy sien –
Iemand kan selfs op haar/sy sterfbed lê en Jesus Christus aanneem as Verlosser en Saligmaker en jy het die Heilige Gees inwonend in jou.

Ongelukkig is dit ook so dat baie Christene die Heilige Gees inwonend in hulle het maar nie die Heilige Gees die beheer van hulle lewe gee nie.

Dan is daar ook ‘n ander groep wat groot klem op emosie in hulle godsdiens lê en in baie gevalle buit satan hulle emosie tot sy eie voordeel uit.
Ek het al mense in my lewe geleer ken wat byvoorbeeld baie in ‘n taal praat maar geen vrugte van die Heilige Gees dra nie.  Inteendeel hulle lewe was in ‘n groot mate presies die teenoorgestelde van wat ‘n Christen sin behoort te wees.
Ekself is dankbaar vir die emosie in my aanbidding maar ek sal nooit, om dit so te stel, my godsdiens op emosie bou nie.

Jy en ek wat Christus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker, ons het die Heilige Gees inwonend in ons.
Nou moet ons die Heilige Gees toelaat om beheer van ons lewens te neem, sodat ons die vrugte van die Heilige Gees kan dra.

Van watter “vrugte van die Heilige Gees” praat ek?

GAL 5:22 Maar die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid,
GAL 5:23 sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie 'n wet nie.

Dan, wie weet watter van die volgende gawes van die Heilige Gees gee ons Here ons dan ook nog.
Van die gawes van die Heilige Gees is daar op drie plekke in die Woord ‘n lys van gawes van die Heilige Gees en as jy al drie lees het jy ‘n volledige lys van gawes van die Heilige Gees soos ons dit in die woord vind en ek deel dit met jou:

Die eerste lys kry ons in ROM 12:6-8.

ROM 12:6-8
6 Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik. As God aan jou die gawe gegee het om te profeteer, moet jy dit aanwend in ooreenstemming met ons geloofsoortuigings.
7 As dit is om ander te dien, doen dit met oorgawe. As jy onderrig gee, gee dan kwaliteit onderrig.
8 As dit is om ander op te beur, lê jou daarop toe. As jy materiële ondersteuning kan gee, doen dit sonder bymotiewe. As God aan jou leierseienskappe gegee het, hanteer dit met toewyding. En as jy die gawe het om ander in hulle nood by te staan, doen dit met 'n vrolike hart.

Die tweede lys kry ons in 1KOR 12:8-10 maar ek kwoteer
1KOR 12:7-11
7 Elkeen van ons ontvang 'n manifestasie van die Gees om die gemeente te bevoordeel.
8 Aan die een gee die Gees die bekwaamheid om wyse raad te gee, aan 'n ander gee Hy die gawe van spesiale kennis.
9 Aan iemand anders gee hierdie selfde Gees 'n heel besondere geloof, aan nog een gee Hy gawes van genesing,
10 aan 'n volgende een die vermoë om wonders te verrig, aan 'n ander die gawe van profesie, aan nog een die vermoë om te onderskei tussen God se Gees en ander geeste, aan iemand anders die gawe van praat in tale, aan nog een die bekwaamheid om die tale uit te lê.
11 Dit is een en dieselfde Gees wat al hierdie gawes bewerk en wat aan elkeen uitdeel soos Hy dit goedvind.

Die derde lys, soos ek dit sien, kry jy net ‘n bietjie verder in dieselfde hoofstuk:

1 KOR 12:28 Hier volg nou 'n lys van sommige van die "liggaamsdele" wat God aan sy gemeente gegee het: eerstens die apostels, tweedens die profete, derdens dié wat onderrig gee, dan dié wat wonders doen, dié met gawes van genesing, dié wat ander ondersteun, dié wat leiding gee, dié wat in tale praat.

Sommer vir die interessantheid daarvan en as ek dit noem, wil ek net dat jy weet, dat ek ook in tale praat.  So, ek is nie onkundig met die spreek in tale nie maar die mense wat die spreek in tale soms so effe bo die ander gawes wil plaas en aan dit ‘n status wil gee, wat die Woord nie so verkondig nie, kan gerus daarvan kennis neem dat in die twee lyste waar tale genoem word, dit heel onder aan my groot held Paulus se prioriteitslys is.
Hy skryf dan ook by geleentheid:

1 KOR 14:18-20
18 Ek dank God dat ek meer in tale praat as julle almal.
19 Maar in 'n byeenkoms van die gemeente sal ek liewer vyf verstaanbare woorde praat waaruit ander iets kan leer as tienduisend in 'n onbekende taal.
20 Liewe broers en susters, julle moenie soos naïewe kindertjies wees in julle denke oor hierdie dinge nie. Wees liewer babatjies wat die kwaad aanbetref, maar volwassenes in julle denke.

Om dan op te som soos ek die antwoord op hierdie vraag aan my sien:

*Ek het die Heilige Gees ontvang toe ek Jesus Christus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker.

*Nou moet ek my lewe ook oorgee, dat die Heilige Gees my beheer.

*Ek moet nou daarna strewe om die vrugte van die Heilige Gees te dra en ons Here sal aan my een of selfs meer van die gawes van die Heilige Gees gee, soos Hy wil.

Groete,
Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za
Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za
Sel:                         083 457 6669
       
Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”
Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za
Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.
Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.