WANNEER PRAAT ONS EN WANNEER NIE?

WANNEER PRAAT ONS EN WANNEER NIE?

Sakkie Parsons

Ek deel die volgende gedagte met jou wat by my opgekom het na aanleiding van iets wat ek gelees het.

Ek praat in dit waarvan ek nou gaan skryf beslis nie van iemand wat ’n verstandelike probleem het, of wat ongeletterd is nie.

Moet nooit met ‘n dwaas redeneer nie;  want, hy sal jou deur julle gesprek aftrek na sy vlak toe en dan sal hy die redenasie wen, omdat hy op daardie vlak baie meer ondervinding as jy het:

SPR 26:4  „Antwoord ‘n dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy ook nie net soos hy word nie.”

So, my vriend/vriendin, as jy met ‘n dwaas redeneer, soos hulle in Engels sê: “You are cruising for a bruising.”

SPR 10:14  Die wyse lê kennis weg, maar die mond van die dwaas is ‘n ondergang wat naby is.

Kyk net hoe gevaarlik beskou ons Here redenasie met ‘n dwaas”

SPR 17:12  „Laat ‘n beer wat van kleintjies beroof is, ‘n mens ontmoet, maar nie ‘n dwaas in sy sotheid nie.”

Soos ek by geleentheid gesê het, sê ek nou maar weer. Die rede waarom ‘n berin wat jou met haar kleintjie betrap minder gevaarlik is as ‘n dwaas, is na my mening die volgende. ‘n Berin kan en sal jou liggaam verskeur, maar ‘n sot/dwaas kan en sal jou gees knak.

So, wees vriendelik en verkondig die Evangelie aan almal maar kies jou vriende met groot omsigtigheid.

Sommer so vir die interessantheid: Die HAT Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, sê van die woord “dwaas” die volgende.
Dwaas:  Sonder verstand, baie dom, asook:  bespotlik, gek, sot.
Van “sot,” sê dieselfde bron die volgende:
Sot: Persoon sonder veel oordeel of verstand.

Dus my vriend/vriendin, gaan oordink wat jy nou gelees het terwyl jy ook Jesus se raad aan ons onthou:

MAT 7:6  „Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie.“

Kom jy en ek verkondig die evangelie van Jesus Christus soos wat Hy ons die opdrag gegee het:

MAT 28:18-20:
18 Jesus kom toe nader en sê vir sy dissipels: “God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou.
19  Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Dan as iemand oor iets met ons redeneer wat hy/sy dalk anders verstaan, vertel en vertel hulle hoe dit uit die Woord verstaan moet word.
As hulle dan met jou ‘n argument of ‘n stryery begin, verskoon jouself.
Want:

1 KOR 11:16 Maar as iemand hieroor wil argumenteer – ons het in elk geval nie so ’n gebruik nie en ook nie die ander gemeentes van God nie.

Teenoor mense wat twisgierig is moet ons, sonder om te redeneer en argumenteer en sodoende mense wat wil stry en van die Evangelie ‘n bespotting wil maak te wil oortuig, kan ons eerder aan mense getuig en vertel oor hoe ons tot bekering gekom het en al die eer aan JESUS gee. 
Ons kan mense bemoedig, ons swaarkry met hulle deel en vertel hoe ons Here ons daarmee help deur Sy goedheid en troue liefde.
Ons moet JESUS se liefde leef.

Onthou jy die geval van die man wat vol bose geeste was en toe deur Jesus genees was, net soos ek en jy deur Jesus gered is en daar ook mense was wat nie werklik Jesus in hulle lewe wou hê nie?
Let op as jy dit lees, as jy by vers 17 kom en hiermee sluit ek af:

MRK 5:15-20:
15 Toe hulle by Jesus kom en die man wat die menigte bose geeste gehad het daar sien sit, behoorlik aangetrek en by sy volle positiewe, was hulle verskrik.
16 Die mense wat dit gesien het, vertel toe vir hulle wat met die besetene en die varke gebeur het.
17 Hulle het vir Jesus gesoebat om uit hulle omgewing weg te gaan.
18 Toe Jesus weer terug was in die skuit, het die man wat voorheen besete was, Hom gesmeek om saam met Hom te mag gaan. 
19 Jesus het egter vir hom gesê: “Nee, gaan huis toe na jou mense toe. Vertel vir hulle wat die Here vir jou gedoen het, en hoe goed Hy vir jou was.”
20 Hy het wyd en syd in die Tien Stede-gebied gaan vertel wat Jesus vir hom gedoen het. En almal was verwonderd oor wat hy aan hulle vertel het.

Groete,
Sakkie