WANT AAN SULKES BEHOORT DIE KONINKRYK VAN DIE HEMELE

WANT AAN SULKES BEHOORT DIE KONINKRYK VAN DIE HEMELE.

Skrywer:  Sakkie Parsons

Laat ek hierdie skrywe begin deur dit duidelik te stel: Soos ek die Woord verstaan, kan ek geen werke doen om die Hemel te verdien, of anders gestel, om die Hemel te beërwe nie.

Jesus het álles gedoen wat gedoen moet word. Hierdie kant en aan die anderkant van die graf, is alles genade, louter genade.

ROM 3:23  “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,
ROM 3:24  en hulle word deur Sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”

 

Wanneer ek hier van ‘stappe’ gaan praat, dan bedoel ek dat dit werk soos wanneer ek jou ‘n geskenk aanbied. Ek hou ‘n geskenk uit na jou.

Nou moet jy stappe doen om die geskenk in ontvangs te neem.

Jy moet besluit of jy die geskenk wil hê, of nie.

Indien jy besluit dat jy die geskenk wil hê, dan moet jy na my toe kom, jou hand oplig, uitsteek en die geskenk by my neem.

Nou goed.

Na aanleiding van ‘n redenasie oor of diere soos mense Hemel toe gaan, waaraan ek ook deelgeneem het en waarin ek daarop gewys het, dat jy, om dit so te stel, sekere stappe moet neem om in die Hemel te kom, wat ‘n dier nie kan doen nie, het iemand toe aan my geskryf, met die volgende vraag wat min of meer so gelei het. Die stappe waarvan jy praat, kan ook nie deur ‘n baba geneem word nie. Gaan babas dan nie Hemel toe nie?

Laat ek nou eers weer in kort noem, wat ek as vereistes beskou, waaraan jy moet voldoen om in die Hemel te kom, waaraan diere nie kan voldoen nie. Ek gaan telkens as ek die Woord gebruik om te staaf wat ek sê, probeer om net twee, hoogstens drie aanhalings te gebruik, omdat hierdie skrywe al klaar ‘n bietjie lank gaan wees.

Jesus Cristus is die Pad na die Vader.

Álles begin met die verstaan en aanvaarding van hiérdie groot waarheid.

Dan neem jy Jesus Christus aan as jou Verlosser en Saligmaker.
Jy bekeer jou, en laat jou doop tot vergifnis van jou sondes.

Dit, na my mening, is hoe jy ‘n Geesvervulde lewe Hemel toe begin:

JHN 14:6  “Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”

HAN 2:37  “Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?
HAN 2:38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
HAN 2:39  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.”

Ek het in daardie skrywe gesê dat diere dit nie kan doen nie.  So, hulle kan nie Hemel toe gaan nie. Toe sê die persoon, dat babas dit dan ook nie kan doen nie.

My antwoord, om mee te begin op hierdie stelling is dat álle kinders, en ek meen élke kind in watter kultuur of geloof hulle ouers ookal is, soos ek die Woord verstaan, aan ons Here behoort en hoe wonderlik, heerlik om te weet, nie net behoort hulle almal, gebore of ongebore aan ons Here nie, maar die Hemel behoort aan hulle:

MAT 19:14  “Maar Jesus sê: Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.”

Is dit nie wonderlik om te weet nie? As jy in die teenwoordigheid van ‘n kind is, maak nie saak van watter kultuur of geloof daardie kind se ouers is nie, jy kan verseker weet, dat in jou onmiddellike omgewing is daar buiten daardie kind , ook ‘n engel van ons Here:

MAT 18:10  “Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van My Vader wat in die hemele is.”

Ons is na God se beeld geskape en deel van ons beeldskap is dat ons, soos ons Here, ‘n wil van ons eie het. Iewers tussen die wieg en volwassenheid, word die mens toerekenbaar en dit is natuurlik nie by almal dieselfde nie; en wanneer jy toerekenbaar word, kies jy.  Jy kies óf die pad hel toe óf die pad Hemel toe en as jy nie kies nie, dan kies jy eintlik die pad hel toe, maar neutraal kan jy nie wees nie:

MAT 12:30  “Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.”

Soos ek die Woord verstaan – van die dag af wanneer jy toerekenbaar word, is jy voor ons Here verantwoordelik vir jou doen en late in hierdie lewe, maar tot daardie dag is jy Sy Hemelse besitting:

MAT 19:14  “Maar Jesus sê: Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie om na My te kom nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.”

Iemand vra: “Wat maak die mens soveel beter in die skepping? Waarom het ‘n onskuldige kind meer reg voor ons Here as ‘n stomme dier?”

Die antwoord kry jy wanneer jy die Skeppingsverhaal lees:

GEN 1:20  “En God het gesê: Laat die waters wemel met ‘n gewemel van lewende wesens, en laat die voëls oor die aarde vlieg langs die uitspansel van die hemel.
GEN 1:21  En God het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.
GEN 1:22  En God het hulle geseën en gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die waters in die see, en laat die voëls op die aarde vermeerder.
GEN 1:23  En dit was aand en dit was môre, die vyfde dag.
GEN 1:24  En God het gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle soorte: vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte. En dit was so.
GEN 1:25  En God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.”

Ons Here het die diere ens geskape volgens hulle soorte maar ons Here het die mens na Sy beeld geskape. Of, en ek sê dit met groot respek, volgens Sy soort:

GEN 1:26  “En God het gesê: Laat Ons mense maak na Ons beeld, na Ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.
GEN 1:27  En God het die mens geskape na Sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.
GEN 1:28  En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.”

Omdat jy na ons Here se beeld geskape is, het jy onder andere die volgende eienskappe wat diere nie het nie:

Jy is na ons Here se beeld geskape, jy het soos Hy, ‘n wil van jou eie.
Jy is na ons Here se beeld geskape, jy kan soos Hy, skep.
Jy is na ons Here se beeld geskape, jy kan soos Hy, nooit maar nooit,
doodgaan nie.

Wanneer jy jou liggaam verlaat, gaan jy vir éwig in die Hemel of in die hel
verder lewe.

By geleentheid sê Jesus van die ewige lewe die volgende:

MAT 25:46  “En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.”

Vir iemand wat nou hierdie skrywe lees en wat nog nie werklik daardie stap geneem het om Jesus Christus aan te neem as Verlosser en Saligmaker nie, met ander woorde, as jy in jou hart weet jy het nog nie ‘n liefdesverhouding met Jesus nie – vandag hoor jy weer in jou hart:

DEU 30:19   “… die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe …”

Doen die stap. Neem die Geskenk wat ons Here na jou uithou:

JHN 3:16  “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
JHN 3:17  Want God het Sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.”

Ander dagstukkies wat ek deur die genade van ons Here geskryf het, waarin jy dalk sou belangstel en wat ek met die grootste liefde aan jou op aanvraag sal stuur, is:

• Die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.
• Het diere siele en kan hulle Hemel toe gaan?
• Maak vir julle skatte bymekaar in die Hemel.
• Oor die derde Hemel en ons loon.
• Sal ons in die Hemel mekaar herken?
                 
Groete,
Sakkie