WANT BAIE VALSE PROFETE HET IN DIE WÊRELD UITGEGAAN

WANT BAIE VALSE PROFETE HET IN DIE WÊRELD UITGEGAAN.

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en gevra, wat hier op neergekom het:

Hoe kan ‘n mens weet watter van vandag se profete en of sieners word deur ons Here geïnspireer en watter word deur satan geïnspireer.

Hier is dan hoe ek na hierdie saak kyk.
Die eerste wat ek verseker moet weet, is, dat daar baie, baie valse profete/sieners of wat hulle hulleself ook wil noem  sal wees voordat ons Here terugkom.
Jesus sê vir ons in hierdie verband.

MAT 24:24  Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.
MAT 24:25  Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê.

Die heel eerste wat ek sal aanbeveel dat mense moet doen om hierdie vals en bose profete/sieners te kan herken, is om self naby ons Here te lewe en ‘n baie goeie kennis van die Woord op te bou, deur gereeld, soos in daagliks, as dit moontlik is, die Woord te bestudeer.  Want, dan het jy die regte bril op as jy na hulle kyk.

Jesus sê in hierdie verband die volgende:
Eers waarsku Jesus ons, hoe hulle optrede is en hoe hulle voorkoms lyk:

MAT 7:15  Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.

Dan sê Jesus vir ons, waaraan ons hulle sal uitken.  Wat ons natuurlik net sal kan doen as ons die behoorlike kennis uit die Woord daartoe het.

MAT 7:16  Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!
MAT 7:17  So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.
MAT 7:18  ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.

Dan sê Jesus dat ons, ons nie om die bos moet laat lei deur hulle godsdienstige en soos ek dit sien, veral Christelike aanslag nie.

MAT 7:20  So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.
MAT 7:21  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

Ek deel met jou ‘n voorbeeld wat my padlangs gekom het, om te demonstreer wat ek bedoel met die kennis wat jy van die Woord moet hê om jou te help om die vals profete/sieners en of waarsêers uit te ken vir wat hulle is:

Iemand skryf eendag aan my oor een van hierdie vals profete/sieners wat hom ook met afgestorwenes in aanraking kan bring.

“Op sy webtuiste sê hy dan ook dat hy 'n Christen is en sy gawe kom van die Here af – en voor en na elke sessie doen hy 'n gebed aan die Here en vra Hom Sy leiding.”

Hoekom weet ek die sogenaamd profeet siener of sommer in my oë gewoon net waarsêer is vals?
Want ek weet daar staan geskryf:

LEV 19:31  Begeef julle nie tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê nie. Soek hulle nie om julle deur hulle te verontreinig nie. Ek is die HERE julle God.

DEU 18:10  Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan—wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie,
DEU 18:11  of wat met besweringe omgaan, of wat ‘n gees van ‘n afgestorwene vra of ‘n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie.
DEU 18:12  Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ‘n gruwel; …

LEV 20:27  En as daar in ‘n man of vrou ‘n gees van ‘n afgestorwene is of ‘n gees wat waarsê, moet hulle sekerlik gedood word. Hulle moet gestenig word. Hulle bloedskuld is op hulle.

Dan is daar ook nog ‘n ander valsheid wat in sommige kerkdienste gebeur waar die wil van die mens afgedwing wil word.

‘n Dame skryf aan my as volg:
“Is dit van ons Here?
Ek was Sondag by ‘n diens en na die diens het die man vir ons gebid.  Van die mense vir wie hy gebid het, het omgeval toe hy vir hulle gebid het.  Toe hy vir my gebid het, gebeur niks en toe probeer hy my ongemerk omstoot.  Toe ek nie wil omval nie, toe los hy my.”

Onthou jy wat Jesus gesê het?

MAT 7:20  So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.
MAT 7:21  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

Terwyl ons nou van hierdie dinge praat, is daar na my mening ook ‘n ander gruwel waaroor ek iets wil sê.
Persoonlik gaan ek ook nie na ‘n diens waar die sogenaamde wat hy homself ook al noem wat vooruit die ‘wonders wat ons Here deur hom gaan doen’ adverteer nie.
Byvoorbeeld:
“Kom Sondag na die … kerk en bring julle siekes en julle … kom kyk hoe God werk.”
Nêrens lees ek waar Jesus of Sy dissipels wonderwerke vooruit geadverteer het om skares te trek nie.
Jesus en sy dissipels, het die Evangelie verkondig en as daar dan ook wonders ens. plaasgevind het, het dit plaasgevind en as daar nie wonders ens. gewees het nie, wel dan was daar nie wonders ens. nie.  Hulle het net voortgegaan en die Evangelie verkondig.

Om dan op te som wat ek probeer oorbring:
Omdat dit soms baie, baie moeilik is om hierdie vervalsings van satan uit te ken, is dit lewensbelangrik, ewige lewensbelangrikheid dat jy en ek sorg dat ons, ons oog op pad na die Hemel, stip op Jesus hou.

HEB 12:1  Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,
HEB 12:2  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.

Terwyl ons sorg dat ons so vertroud as moontlik met ons wapen naamlik die Woord wat ons Here ons gegee het is.

EFE 6:17  En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God—

As ek van my kant af sorg dat my liefdesverhouding met Jesus altyd deur meer en meer verdiep en sorg dat ek deeglike kennis van die Woord het – Wel dan sal ek sonder moeite op die volgende raad uit die Woord kan reageer en vir myself en baie om my tot groot hulp wees.

1JHN 4:1  Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.

Vra jouself die vraag af:  Is die lewenswyse van hierdie leraar/profeet/gelowige en sy/haar boodskap en fokus suiwer en eerste op Jesus Christus as énigste Redder en Verlosser gerig?  Of is dit selfgesentreerd op die mens gerig met sy eie agenda?
 

2 PET 2:1-3
Wees gereed vir die vals leraars met hulle eie agendas
Maar daar was ook vals profete onder die volk Israel, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom.  Hulle sal dwaalleer oor God insmokkel, en selfs draai teen hulle Eienaar wat hulle gekoop het.  Hulle hoop om met hulle dwaalleer alles te vernietig maar só bring hulle ‘n skielike vernietiging oor hulleself.  2 Baie mense sal agter hulle aanloop op hulle wilde paaie, en hulle sal veroorsaak dat mense sleg praat van die enigste ware Pad.  3 En hulle najaag na rykdom sal hulle julle uitbuit met stories wat hulle uit die duim suig.  Maar hulle vonnis waarop God lankal besluit het, wag om uitgevoer te word.  Ja, hulle vernietiging wag.

Groete,
Sakkie