WANT UIT GENADE IS JULLE GERED, DEUR DIE GELOOF

WANT UIT GENADE IS JULLE GERED, DEUR DIE GELOOF

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my:

“Kan jy asb vir my iets oor wedergeboorte stuur sodat ek dit aan my man kan verduidelik dat dit niks met die doop te doen het nie.“

Hier is dan hoe ek na hierdie saak kyk, dit verstaan, glo en in my eie lewe na die beste van my vermoë probeer uitlewe.

Eerstens, daar is niks, heeltemal niks, wat ek fisies kan doen om die ewige lewe te verdien nie en dit sluit, om my te laat doop in.  Die naaste wat ek aan iets doen, om dit so te stel, kan kom om die ewige lewe deelagtig te word, is om my hart se deur oop te maak en Jesus in te nooi as Hy daaraan klop.

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

Met ander woorde ek moet Jesus Christus aanneem as my Verlosser en Saligmaker.

JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

JHN 3:36  Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.

JHN 5:24  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

Ons Here het klaar alles gedoen wat gedoen moes word om ons te red sodat ons nie verlore hoef te gaan nie.

Die slotsom waartoe ek kom:
Geen daad en weer sluit ek die doop in, wat ek kan doen, kan my red van die hel nie.
Dit is alles genade.  Loutere vol Goddelike liefde genade.

EFE 2:4  Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het,

EFE 2:5-8 
5  ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered—
6  en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus,
7  sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.
8  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;

Nou wat is, om dit so te stel, die belangrikheid of dan ook die waarde van die doop?

Eers net wat dit beslis nié is nie.

Dit is nie ‘n middel wat ek kan gebruik om te roem, dat ek nou op my pad Hemel toe is nie.

Na my mening is een van die groot tragedies wat die kerk van Christus ingekom het, die baba besprinkeling doop.
Dit het die verskriklike groot tragiese persepsie onder baie mens laat ontstaan:
“Omdat ek gedoop is, is ek gered.”

Daar is mense vandag wat net eenkeer in hulle lewe in ‘n kerk gewees het en dit was toe hulle as ‘n baba in die kerk besprinkel was en op grond daarvan is hulle, volgens hulle getuienis, op pad Hemel toe.

Moet ek gedoop wees voordat ek kan sê, dat ek gered is?
Ek kan gered wees, sonder dat ek gedoop is – maar ek kan nie gered wees, alleen net omdat ek gedoop is nie.

Ek deel met jou twee gevalle uit die Woord waar mense gered was, wat nie gedoop gewees het nie.

Die een is van die rower langs Jesus aan die kruis.  Ek gaan niks verder oor hierdie geval sê nie, want hierdie skrywe gaan al klaar ‘n bietjie lank wees.  Jy kan dit gaan lees in Lukas 23:39-43.

Die een geval waaroor ek iets wil sê, is die geval van Cornelius, die hoofman oor honderd. Jy kan sy verhaal gaan lees in Handelinge 10:1 en verder.

Lees net gou hier, want ek wil jou iets wys:

HAN 10:44-48 
44  En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het.
45  En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is.
46  Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak. Toe het Petrus begin spreek:
47  Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie?
48  En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here.

Het jy gesien?
Hulle is gedoop omdat hulle geglo het. 
Hulle is nie gedoop sodat hulle moes of kon glo nie.

Die Bybelse se manier van doop soos ek dit sien, is dat ek my laat doop omdat ek in Jesus glo
Dit is ‘n belydenis in die openbaar, vir die hele wêreld en dit sluit die geesteswêreld in, dat ek ‘n totale oorgawe aan Jesus gemaak het.

ROM 6:3  Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?
ROM 6:4  Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.

GAL 3:27  want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.

KOL 2:12  omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.

Vir my was my doop die eerste stap van gehoorsaamheid en die begin van die uitlewing van my getuienis vir Jesus.

Vir my is die doop ‘n mededeling/verklaring/stelling in die openbaar aan alle mense en geeste en magte:
“In hierdie voorstelling van die begrafnis van my ou mens en die opstanding van die nuwe mens, getuig ek:

Ek glo, dat Jesus vir my sondes aan die kruis gesterf het.
Ek glo dat Hy begrawe is.
Ek glo, dat Hy uit die dood opgestaan het.
Ek het hierdie Jesus, God wat mens geword het,  aangeneem as my Verlosser en Saligmaker. 
Die ou Sakkie is nou dood.  Ek is nou ‘n nuwe bloedgewaste kind van God, ‘n dissipel van Jesus.”

Om dan op te som:
Die doop red my nie.
As ek getuig, dat ek my laat doop het, getuig ek dat ek my tot ons Here bekeer het
om Jesus Christus aan te neem as my Verlosser en Saligmaker.
Dit is wat my van die hel red.

Dan – soos die Woord sê – moet ek vrugte dra wat by die bekering pas.
Met ander woorde, soos die Engelse gesegde sê waarvoor ek so lief is:
“If that is the talk that I talk.  It must also be the walk that I walk. “

Groete
Sakkie