WAT BETEKEN DIT IEMAND SAL SKADE LY MAAR TOG GERED WORD?

WAT BETEKEN DIT DAT IEMAND SAL SKADE LY MAAR TOG GERED SAL WORD?

Sakkie Parsons

Omrede ek heelwat vrae rondom hierdie gedeelte in ons HERE se Woord kry, deel ek dit graag met jou.  Iemand vra my omtrent:

1KOR 3:15  as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Vir nou net die volgende voorbeeld wat ek met jou deel – Ek het ook nog ‘n ander ‘gedagte uit die Woord’ hieroor geskryf wat ek op aanvraag graag aan jou stuur wat ek glo jou ook hierdie gedeelte beter sal laat verstaan naamlik:  “Die Derde Hemel en ons Loon.”

Die Nuwe Lewende Vertaling lees:

1KOR 3:13-15
13 Daar kom egter ‘n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak.  Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou.
14 Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word.
15 Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word.  Hulle sal egter wees soos mense wat op die laaste oomblik uit ‘n brand gered sal word.

Stel jou voor ‘n geweldige groot, sê nou maar staal oppervlakte.
Op hierdie geweldige groot staal oppervlakte staan daar der duisende kruike.
Almal lyk presies eenders, buiten dat hulle verskillende grotes is.
Daar is kleintjies, so groot soos ‘n vingerhoed en party is 10 tot honderde verdiepings groot maar hulle het almal presies dieselfde vorm.
Met ander woorde party se openinge bo is baie, baie klein, soos die vingerhoed grote kruike en party is baie, baie groot, soos die 10 verdieping tot honderde hoog grotes.
Al hierdie kruike is tot hulle rante toe bo gevul met olie
Almal besit die wonderlike eienskap, dat hulle altyd tot bo vol sal bly, al gebeur wat ook al.
Nou is daar ‘n reuse domkrag onder die een kant van hierdie reuse groot oppervlakte en iemand druk ‘n knoppie en die domkrag lig die een kant van hierdie reuse oppervlakte, net genoeg, dat al die kruike begin oorloop.
Nou val die olie uit die grootste kruike amper soos watervalle uit maar die kruike bly vol en so gebeur dit met al die kruike, volgens hulle groot en hulle openinge bo.  Tot by selfs die kleinste wat vingerhoed grote een kleiner is maar party van hulle is so klein, dat daar ‘n stroompie, die dikte van ‘n haar uit hulle vloei.  So, nou loop almal oor maar party loop net meer oor as ander maar almal loop oor.
Kom ons noem hierdie olie “tot oorlopens toe vol blydskap, geluk en vrede”  olie.

Kom ons sê nou al daardie kruike stel mense in die hemel voor.
Almal is nou tot oorlopens toe vol blydskap geluk en vrede maar party is net meer tot oorlopens toe aan die oorloop van blydskap, geluk en vrede maar omdat almal oorloop van blydskap geluk en vrede, kom niemand agter, dat sommige meer oorloop van blydskap geluk en vrede, buiten ons Here wat verheerlik word deur almal se olie.
Want almal is te besig om oor te loop van blydskap geluk en vrede.

Dit is nou seker nie die beste verduideliking nie maar dit is wat ek het en met jou deel,
as ek by die Skrif wat jy genoem het, ook onthou:

OPG 22:12-14 
12 En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.
13  Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste.
14  Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.

Sommige mense het hulle harte aan ons Here gegee maar verder doen hulle niks vir Hom in hierdie lewe nie. 
Wel, Hy het ook vir hulle op Golgota gesterf en solank hulle nie hulle rug op Hom draai nie, sal Hy sorg dat hulle in die hemel beland, al is dit soos deur vuur heen en hulle sal oorloop van die “tot oorlopens toe vol blydskap, geluk en vrede olie,” al sal party se straaltjie so dun wees, dat dit dalk net ‘n straaltjie so dun soos die van ‘n baie dun haartjie sal wees.

Ander, uit liefde en nie om loon te ontvang nie, werk hulle hele lewe by elke geleentheid wat hulle kry om Sy koninkryk te bevorder.  Wel, hulle sal oorloop soos reuse watervalle, want Hy het ook vir hulle op Golgota gesterf.

Een saak is baie duidelik:
Ons almal sal gelyk in die hemel wees maar sommige sal net meer gelyk as ander wees.  Want ons sal beloon word volgens ons werke.

OPG 22:12  En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.

Ons moet net een ding baie mooi verstaan.
Ons gaan nie in die hemel wees as gevolg van ons werke nie.

Dit is genade.  Louter liefdevolle genade, wat ons ontvang het as gevolg van die offer wat Jesus Christus op Golgota vir ons gebring het.

Ons moet net daardie grootse liefdevolle offer wat vir ons gebring is, op onsself van toepassing maak, deur Jesus Christus aan te neem as ons Verlosser en Saligmaker.

Groete,
Sakkie