WAT BETEKEN ‘LAAT U WIL GESKIED’ IN MY LEWE?

WAT BETEKEN ‘LAAT U WIL GESKIED’ IN MY LEWE?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Ek wil jou vannag vra om iets aan my te verduidelik:  Wat beteken dit as mens bid en vra; Here laat U wil geskied in ons lewe. En wat beteken dit gaan die Here doen?”

Eers –
Waar het dit ontstaan  dat Christene bid: “Laat U wil geskied”?
Dan is die antwoord natuurlik by Jesus toe Hy ons die ‘Onse Vader’ gebed gegee het.
Ons lees:

MAT 6:9  Bid dan soos volg:
Ons Vader in die hemel,
laat u Naam geheilig word.
MAT 6:10  Laat u koninkryk kom.
Laat u wil hier op aarde
uitgevoer word soos in die hemel.

Wat beteken dit as ek dit in my gebed bid?
As ek dit in alle opregtheid bid, beteken dit dat ek – nadat ek my begeertes en my probleem met my Here bespreek het –  ek wetende, dat Hy die heel beste weet wat vir my Sy kind moet gebeur – my oorhoofse begeerte is, dat Sy wil sal gebeur en dat ek wil dat dit is wat asseblief in my lewe moet gebeur.

Natuurlik gaan dit nie altyd nie, ek wil amper sê in die meeste gevalle nie, gebeur soos ons wil dat dit moet gebeur nie – gewoon omdat ons nie soos ons Here die hele prentjie sien nie.

Ek gaan nou meer hieroor sê maar voor ek verder gaan, deel ek gou met jou hoe Jesus self dit wat Hy ons geleer het, hoe ons moet bid, in Sy eie lewe hier op aarde uitgeleef het:

Jesus weet dat Sy vyande en Sy verraaier oppad en amper by Hom is om Hom te gaan kruisig en dan lees ons:

MARKUS 14:35-36
35 Hy het toe ’n entjie verder gegaan en op die grond neergeval en gebid dat, as dit moontlik was, die verskriklike uur wat aan die kom was, by Hom sou
verbygaan.
36 “Abba”– dit beteken Vader – het Hy gebid, “vir U is alles moontlik. Neem tog hierdie beker van lyding van My weg. Maar doen nogtans nie wat Ék wil nie, maar wat Ú wil.”

In ‘n ouer Vertaling lees hierdie gedeelte as volg:

MAK 14:35  En toe Hy ‘n bietjie verder gegaan het, val Hy op die grond en bid dat, as dit moontlik was, dié uur by Hom sou verbygaan.
MRK 14:36  En Hy sê: Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil.

Ek het gesê ek gaan terug kom na wat ek gesê het naamlik:
Natuurlik gaan dit nie altyd nie, ek wil amper sê in die meeste gevalle nie gebeur soos ons wil dat dit moet gebeur nie, gewoon omdat ons nie soos ons Here die hele prentjie sien nie.

Ons in ons mensheid, met ons klein verstandjie, kan nie die hele prentjie sien soos ons Here dit sien nie en omdat Hy weet wat die beste vir ons is, al lyk dit soms vir ons of Hy nie in beheer is nie, sal Hy altyd vir ons antwoord volgens Sy wil, omdat Sy wil die beste vir ons is:

1 JOH 5:14  Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister.
1 JOH 5:15 As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, toestaan.

• As ons iets van Hom vra en Hy antwoord nie dadelik nie, wel dan is dit volgens Sy wil nog nie die regte tyd nie
• As ons iets van Hom vra en ons kry dit nie volgens wat ons gevra het nie.  Wel dan is dit omdat soos ons dit wil hê, nie die beste vir ons is nie.
• Onthou ook, dat selfs as ons Here wat vir my lyk nie antwoord nie, weet ek ook dat dit dan natuurlik ook ‘n antwoord is en die antwoord is, dat dit nie nou vir my die beste is om te ontvang wat ek vra nie.

Ten slotte nog net die volgende:
Onthou –

HEB 11:6  As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, beloon.

Dan gaan die skrywer van die boek Hebreërs aan en gee ‘n paar voorbeelde van hoe geloof lyk en ek deel net die eerste een met jou en onthou, dat dit wat hierdie man gedoen het, hy ver van die see of meer of enige watermassa af gebou het:

HEB 11:7 Omdat hy geglo het, het Noag, toe God hom gewaarsku het oor wat nog nie gesien kon word nie, gehoorsaam die ark gebou. Daardeur is sy huisgesin gered en die wêreld veroordeel. So het hy dan ’n erfgenaam geword van die vryspraak wat ’n mens deur die geloof ontvang.

As ek in die geloof bid:

“Laat U wil geskied soos in die Hemel, net so ook op die aarde” Sal, omdat ek dit in die geloof doen, net die heel beste vir my wat in hierdie lewe, met die oog op die ewigheid, met my moet gebeur verseker gebeur en omdat ek weet:

JES 55:8  “My gedagtes is anders
as julle s’n,
en julle paaie is nie my paaie nie,”
sê die Here.
JES 55:9  “Want soos die hemel
hoër is as die aarde,
so is wat Ek doen,
hoër as wat julle doen,
en my gedagtes
hoër as julle gedagtes.

Daarom kyk ons na ons God se antwoord op welke wyse Hy ook antwoord en ons berus ons met vrede in ons hart daarby.

Groete,
Sakkie