WAT IS DIE KONINKRYK VAN GOD EN HOE MOET EK DIT SOEK?

WAT IS DIE KONINKRYK VAN GOD EN HOE MOET EK DIT SOEK?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my kort en bondig:
“Wat is die koninkryk en hoekom moet ons dit soek;  Matt. 6:33?”

Kom ons lees dan eers die gedeelte uit Mattheus 6:33.

MAT 6:33  “Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge byvoeg.

Ek antwoord jou dan soos ek dit uit die Woord verstaan en glo en dan na die beste van my vermoë probeer uitlewe.

Eerstens moet ons verstaan; ons Here is almagtig, alwetend, alsiende en alomteenwoordig en in daardie sin, heers Hý die enigste Alleenwyse God oor die heelal.

So, in die breedste sin van die woord is die hele skepping die gebied waaroor Hy as Koning heers en is dit Sy koninkryk:

PSM 103:19  Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.

Jesus praat hier egter met jou en my, sy kinders, en alhoewel die mens nou al na die buitenste ruim beweeg, het Hy Sy koninkryk, wat ons aanbetref, vir ons vir nou hier op aarde kom stig en dit is daardie koninkryk wat ek moet soek.

So, wat en waar is hierdie koninkryk wat ek moet soek waarvan ons in MAT 6:33 lees?

Wel, dit is ‘n geestelike koninkryk.
Onthou, dat álles in die skepping, ook jy en ek uiteindelik in ‘n ander dimensie, ‘n geestelike dimensie in gaan beweeg.
Jesus sê dan ook by geleentheid van hierdie koninkryk van Hom die volgende:

JOH 18:36  Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.

Almal wat, om dit so te stel, ‘n onderdaan van ons Here is, of dan wil wees, sal Hom dan ook moet dien, soos wat Hy in Sy koninkryk gedien wil wees:

JOH 4:23  Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.
JOH 4:24  God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

Vervolgens is die vraag dan:
Wie is die onderdane van God almagtig in hierdie koninkryk en hoe kry ‘n mens burgerskap van hierdie koninkryk?
Kan ‘n sondige, sommer slegte mens soos ek hoegenaamd burgerskap van hierdie koninkryk kry, waar die Koning, die almagtige heilig God, Skepper van die heelal die Heerser is?

Dan is die antwoord:
Prys die naam van die Here!  Ja! Ek kan!
Want jy sien, daar was ‘n dag:

GAL 4:4  Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, …

JOH 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

JOH 3:17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

Hoe kry ek reeds hier op aarde in hierdie lewe burgerskap van hierdie koninkryk, waar ek dan in die hiernamaals vir ewig en altyd nie net gaan woon nie, maar saam met my Koning gaan heers?

OPB 3:21  Die een wat aanhou oorwin, hom sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.
OPB 3:22 Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

Weer wil ek in ekstase uitroep:
Prys die Naam van ons Here!
Hoe heerlik maklik en eenvoudig het Sy Seun se groot offer op Golgota dit nie vir ons gemaak nie:

HAN 2:37-39 
37 Petrus se woorde het hulle diep geraak. Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra: “Geagte volksgenote, wat moet ons doen?”
38 Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.
39 Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – (dit is jy en ek) almal wat die Here ons God sal naderroep.”

Dus, wat is die koninkryk waarvan Jesus in MAT 6:33  praat en ek kwoteer weer MAT 6:33 maar hierdie keer uit ‘n ouer Vertaling:

MAT 6:33  Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Die koningryk van God hier op aarde is die geestelike regering van ons Here oor jou en my en alle ander mense se harte en ons lewens, elke mens wie haar/hom tot God bekeer, met ander woorde, haar/hom aan God se gesag onderwerp, en Jesus Christus aanneem as ons Verlosser en Saligmaker.

Wie is hierdie Jesus Christus van wie die Woord praat wie ek moet aanneem as my Verlosser  en Saligmaker?

Ons lees in God se kosbare Woord uit Johannes 1:

JOH 1:1-5 en vers 14 
Die Woord … self God!
1 Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.
Die Woord was by God, en die Woord was self God.
2  Hy was reeds in die begin by God.
3  Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.
4  In Hom was daar lewe, en dié lewe het gedien as die lig vir die mense.
5  Die lig skyn in die duisternis, ja – die duisternis het dit nie uitgedoof nie!
14 En die Woord het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ’n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

Om dan baie kort op te som wat ek nou met jou gedeel het:

Wat die mens, God se hoogste skepping aanbetref, is Sy koninkryk hier op aarde ‘n geestelike koninkryk en vir die mens wat daardie koninkryk soek, vind dit in ‘n liefdesverhouding met Jesus Christus, aan wie hulle hulle harte en hulle lewe oorgee en Jesus Christus is die begin en die einde van alles, sover dit die onderdane van God in Sy koningryk aanbetref.

OPB 1:7  Kyk, Hy kom met die wolke! Elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; al die nasies op aarde sal jammerlik oor Hom huil. Ja, amen!
OPB 1:8  “Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Nou is die vraag aan elkeen wat tot hier gelees het:

Het jy al vir Jesus Christus aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker?

Want sien –
Ek moet eers die geestelike koninkryk van God soek en dit vind voor ek deel daarvan kan word.

Met ander woorde ek moet Jesus Christus aanneem as my Verlosser en Saligmaker en so in ‘n liefdesverhouding met God almagtig lewe.

Dit soos ek gesê het, is die énigste wyse om burgerskap in hierdie koningryk te kry:

HAN 4:12 “Daar is geen verlossing by iemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om verlos te word nie.”

Hoe wonderlik om te weet:

JOH 1:12  Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders (en dus burgers van Sy koningryk) van God te word.
JOH 1:13  Hulle is nie deur ’n natuurlike proses gebore nie, en ook nie na aanleiding van die wilsbesluit van ’n man nie. Hulle is uit God gebore.

As jy nog nie vir Jesus Koning van jou hart en lewe gemaak het nie, kan jy dit nou doen net daar waar jy sit.

Sê net in volle opregtheid in jou hart aan hom:

“Here, ek besef dat ek sonder U, gedoem is om na hierdie lewe die ewigheid in die hel deur te bring.
Ek draai van vandag af my rug op die lewe soos wat ek geleef het.  Ek gee my hart en my lewe oor in U hand”.

Nou soek jy as ‘n saak ban groot dringendheid ‘n christelike gemeente wat Jesus Christus erken as die Alfa en die Omega en wat die hele Bybel as God se onfeilbare woord vir die mens aanvaar.

Gaan na een van hulle dienste en maak kontak met die herder van daardie gemeente.  Vertel hom van jou besluit en vra hom vir verdere leiding.

Groete,
Sakkie