WAT GEBEUR MET MY NA DIE GRAF

WAT GEBEUR MET MY NA DIE GRAF

Sakkie Parsons

Iemand het my, my opinie oor die lewe na die dood gevra en ten eerste moet ek sê dat ek nie al die antwoorde het nie.  Ek glo ook nie daar is ‘n ware kind van God wat so dwaas sal wees, as om te sê dat hy al die antwoorde oor hierdie saak het nie.
Ek sê maar weer soos my groot held Paulus gesê het:

1KOR 13:12  Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ‘n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder duidelik wees.  Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan.

Aangesien ek gevra is gee ek net my opinie en ek weet mense kan nou weer dalk met baie ander redenasies kom en ek wil tog nie in ‘n woordewisseling betrokke raak nie. Ek sê maar net hoe ek glo.

Jy sien my groot held Paulus sê ook:

1KOR 11:16  Maar as iemand hieroor wil argumenteer – ons het in elk geval nie so ‘n gebruik nie en ook nie die ander gemeentes van God nie.

Ek wil ook nie ‘n lang redenasie gee nie, omdat iemand dit dalk vir iemand by die werk wil stuur en dan het mense nie die tyd om baie lang redenasies te lees nie.  So ek gee jou net ‘n paar sleutel verse, wat basies vir hul self spreek.

Ek wil begin deur te sê, dat ek weet dat daar is mense wat byvoorbeeld sê dat ons, sê nou maar in ‘n  soort slaap gaan, of na ‘n soort bewaarplek, of iets.
Ek glo dat ek reguit na Christus toe gaan en dat ek die ewigheid by Hom gaan deurbring:

Hier is die bewyse wat ek op die tafel lê:

Eerstens, hier hang Jesus en twee ander mense elk aan ‘n kruis.
Al drie gaan binnekort uit hierdie lewe uittree.

LUK 23:40-43 
40 Die ander een het hom egter bestraf en gesê:  “Het jy óók nie respek vir God nie, alhoewel jy dieselfde straf as hierdie man ondergaan!
41  Ons het dit terdeë verdien, want ons ontvang straf vir die dinge wat ons gedoen het.  Hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.”
42  Hy het verder gesê:  “Jesus, onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.”
43  Jesus se antwoord was:  “Ek verseker jou, jy sal vandag nog saam met My in die paradys wees.”

Jesus sê nie vir die man aan die kruis langs Hom dat dit eendag gaan gebeur nie.  Hy sê, dat hy vandag nog saam met Hom in die Paradys sal wees.
Soos ek altyd vir die mense sê –
God sê of doen nie iets om sommer iets te sê of doen nie.  As Jesus sê “Vandag nog,” dan kan jy maar weet dit is vandag nog.

MAT 17:2  En daar, terwyl hulle na Jesus kyk, het sy voorkoms verander.  Sy gesig het begin straal soos die son.  Sy klere het skitterwit geword.
MAT 17:3  En, wonderlik, toe verskyn Moses en Elia voor hulle en voer gesprek met Jesus.

Moses en Elía het baie, baie jare gelede uit hierdie lewe uitgetree en hier kom kuier hulle gou vir Jesus voordat Hy kruis toe stap. En hulle was werklike mense, so werklik dat Petrus sommer net daar vir hulle wou blyplek organiseer.
Nou moet ons nie vergeet nie – hierdie was ‘n spesiale geleentheid wat God vir Jesus gereël het, op die berg van Verheerliking.

My groot held Paulus sê die volgende van hierdie saak van waar ons gaan wees  as ons hier uittree:

FIL 1:19-23 
19 want ek weet dat deur julle voorbidding en die hulp van die Gees van Jesus Christus alles op my vrylating sal uitloop.
20  Dit is my strewe en hoop dat ek nooit iets sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie.  Ek wil eerder, soos nog altyd, ook nou in my hele bestaan – of ek bly leef en of ek moet sterf – Christus met volle vrymoedigheid verheerlik.
21  Want vir my is om te lewe, ‘n lewe vir Christus, en om te sterf selfs nog beter!
22  As ek aanhou lewe, kan ek vrugbaar werk.  Ek weet regtig nie wat om te kies nie!
23  Ek is in ‘n tweestryd.  Aan die een kant verlang ek om te vertrek en persoonlik by Christus te wees, want dit is vir my verreweg die beste.

Dan is daar ook iets anders wat ek baie seker weet en dit is die volgende:
Waar die mens heengaan as hy hier uittree, of dit na Christus of na die ander plek is, as jy daar is, is jy daar vir altyd.

Jesus verduidelik dit baie mooi in die “Ryk man en Lasarus.”Jy kan gerus die verhaal gaan lees.  Jy kry die verhaal in Luk 16 vanaf vers 19.  Dit is ‘n verhaal vol lesse maar ek gaan jou net iets wys wat nou ter sake is:

LUK 16:24-31 
24 En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.
25  Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.
26  En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.
27  En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur—
28  want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.
29  Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.
30  Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.
31  Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.

Ek kan baie meer oor hierdie gedeelte sê maar dan gaan dit baie lank word.  So ek sal volstaan met die volgende:

LUK 16:22  Uiteindelik is die bedelaar dood, en hy is deur die engele weggedra om by Abraham te wees. (Op dié manier, wanneer jou aardse lewe verby is, sal jou vriende jou verwelkom in die ewige wonings.) Die ryk man het ook gesterf en is begrawe,
LUK 16:23  en sy siel het na die doderyk gegaan.  Daar, terwyl hy gefolter word, het hy Lasarus in die verte by Abraham gesien.

Toe Lasarus sy oë aan die anderkant van die graf oopmaak was hy waar Abraham ook was en terloops Abraham was by sy volle positiewe.

Toe die ryk man sy oë oop maak was hy in ‘n, wat jy niks anders as hel kan beskrywe nie – en hy was ook by sy volle positiewe.

Onthou wie vir ons hierdie verhaal vertel, dit is Jesus en Jesus is die énigste Persoon wat ooit op hierdie aarde geloop het, wat in diepte kennis van altwee hierdie plekke het.

As ek by Jesus is, gaan ek nêrens anders heen wil gaan nie, veral nie na hierdie aarde toe nie en al sou ek wou ek kan nie.

As ek in die verskriklike tronk sit en wag vir my vonnis kan ek ook nie uit kom nie.

So, moet tog asseblief nie die stories van spoke en mense wat met jou van die anderkant van die graf af kan praat, glo nie.

Hier op die aarde gebruik die satan sy engele om as na-apers deur sy menslik gesante die mense te verlei.

As jy Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker en in Sy weë lewe, is jy op pad na die regte plek.

Die een noem dit dit en die ander een dat.  Ek noem dit Hemel en al wat ek verseker weet is dit, ek gaan by Jesus wees.
Wat ons alles gaan sien, want ek sal dan ook kan sien, en belewe, dit weet ek nie presies nie, maar dit gaan vir ewig wónderlik héérlik wees.

Ek sê maar weer soos my groot held Paulus gesê het – en ek herhaal dit uit die 1933 Vertaling:

1KOR 13:12  Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.

Groete,

Sakkie