WAT GOD BEREI HET VIR DIE WAT HOM LIEFHET

WAT GOD BEREI HET VIR DIE WAT HOM LIEFHET

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my, soos wat so baie al aan my geskryf het, wat oor dieselfde saak gewonder het, naamlik:

Hy wonder waarom dit met hom, wat dan ‘n kind van ons Here is, menslik gesproke soms so vreeslik moeilik gaan.

Ek deel met jou my antwoord aan hom.

Ons Here het nog nooit vir ons gesê dat hierdie lewe maanskyn en rose gaan wees nie.
My kennis van die lewe is, dat hoe groter jou potensiaal vir ons Here is, hoe moeiliker maak satan dit vir jou om daardie potensiaal ten volle uit te leef en soos in Job se geval, spog ons Here dan met ons by satan, nog voordat ons die toets deurstaan het, omdat Hy vooruit geweet het waarmee Hy ons kon vertrou het.

As ons aan ons Here vashou, wag daar vir ons ‘n ewige lewe, met ‘n heerlikheid wat ‘n mens met jou klein verstand net nie kan bedink nie.

JAK 1:2-4 
2  My liewe broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees.
3  Julle weet mos:  Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard.
4  Julle moet egter enduit volhard.  Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees.  Julle sal niks kortkom nie.

Almal wat Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker sal natuurlik die ewige lewe beërwe maar uiteindelik sal ons loon ontvang volgens hoe ná ons aan Jesus deur al die gemors op hierdie aarde gebly het.

Hoe dit presies gaan werk, weet ek nie maar die Woord sê vir my dit is hoe dit gaan werk en dit is goed genoeg vir my:

1KOR 3:11-15 
11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat alreeds gelê is nie, – Jesus Christus.
12  As enigiemand op daardie fondament bou, kan hy goud gebruik, of silwer, of edelstene of hout of hooi of stoppels.
13  Daar kom egter ‘n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak.  Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou. (Dit sal deur God volgens Sy waardebepaling getoets word)
14  Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word.
15  Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, (Nie van waarde deur ons Here bevind word nie) sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word.  Hulle sal egter wees soos mense wat op die laaste oomblik uit ‘n brand gered word. (Presies wat “uit ‘n brand gered word” behels, weet ek nie maar ek weet, dat ek verseker nie die Hemel so wil ingaan nie).

OPG 22:12  “Jesus sê:  “Kyk, Ek kom gou!  My loon kom saam met My om almal te beloon volgens wat hulle gedoen het.”

Ons Here sê aan ons:

JHN 16:33  “Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind.  In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed:  Ek het die wêreld reeds oorwin.”

Wat wag op my as ek goeie moed tot die einde hou?

OPG 3:21  Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op Sy troon sit.

Wat behels hierdie “saam met My te sit op my troon.”?
Ek weet nie wat dit alles behels nie maar wat ek wél weet is dit:

1KOR 2:9  Dit is wat die Skrif bedoel met die woorde:
“Wat geen oog gesien het;
  wat geen oor gehoor het;
  wat in niemand se hart opgekom het nie –
  dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet.”

Ek verstaan uit dit wat jy nou net gelees het, dit maak nie saak hoé wonderlik ek my lewe saam met Jesus probeer indink nie, die werklike wonderlikheid daarvan, sal ek nooit met my menslike verstandjie kan indink nie.

Praat ek maklik oor swaarkry, omdat ek dalk nie weet wat dit is om swaar te kry nie?

Ek kon nou met jou baie uit my lewe gedeel het; van daar, waar die welsyn my boeties en sussies saam met my van ons ouers moes wegneem, maar ek volstaan met net 'n paar gebeurtenisse in my eie lewe:

Ek is met ‘n oog probleem gebore en is as blind gediagnoseer maar ek kon nog goed genoeg sien om met ‘n fiets in die strate te ry.
In die sewentiger jare van die vorige eeu kom ek skielik agter dat my oë nou vinnig agteruit gaan en ek weet, omdat dit met baie van my vriende gebeur het –
Ek gaan binnekort blind wees en ek gaan nooit weer my kinders of my vrou, of enige ander mens se gesigte sien nie en vandag is dit so dat ek nie meer weet hoe my vrou of my kinders se gesigte lyk nie.

In 1997 word ek met melanoom kanker gediagnoseer en op my vraag aan die dokter van hoe lank ek het om te lewe, sê hy dat as hulle dit nie kan keer nie, het ek drie tot ses maande om te lewe.

In 2004, 2005 en 2006, word daar by my huis ingebreek en in twee van die gevalle was ek en my vrou in die huis.

In 2012 word my vrou met dimensie gediagnoseer en op die 27ste April hierdie jaar, 2019, het sy uit hierdie lewe uitgetree, en is nou in ewige heerlikheid by Jesus.

Hierdie tydperk in my lewe is van alles wat ek al beleef het die mees skrikwekkendste van almal.

Natuurlik is daar mense wat al groter probleme en trauma moes hanteer as ek, maar ek noem maar net dat ek ook darem weet wat probleme en trauma is en in die geloof kan ek met ‘n heerlike sekerheid die Woord kwoteer, omdat dit die waarheid is en vir ‘n kind van ons Here wat dit werklik wil uitlewe, werk.  Ek weet, want dit het vir my gewerk en dit werk nog steeds vandag vir my.

ROM 12:12  Wees bly oor die wonderlike toekoms wat God vir julle beplan.  Volhard in tye van swaarkry; moenie verslap in die gebed nie.

Want jy sien, ek weet.

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

So, wat sê ek vir iemand wat deur ‘n moeilike tyd gaan, soos wat ekself gegaan het en waar ek vandag nog steeds deur moeilike tye gaan?

Ek sê alles uit die Woord wat ek nou met jou gedeel het, asook:

HEB 12:1  Met so ‘n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry.  Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê,
HEB 12:2  ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun.  Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur.  Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie.  En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!

Ja, sodat ons ook aan die einde van ons lewens kan terugkyk en dit uit jubel!

2TIM 4:7  Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly.

Om dan by Jesus uit te kom en te ervaar, sien en onthou wat ek altyd in die Woord gelees het:

1KOR 2:9  Dit is wat die Skrif bedoel met die woorde:
“Wat geen oog gesien het;
  wat geen oor gehoor het;
  wat in niemand se hart opgekom het nie –
  dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet.”

Groete,
Sakkie