Sakkie Parsons
Ek het een oggend in my bed gelê en na die radio luister, toe die vraag en antwoord, glo ek, na my gekom het. Wat is werklik wysheid?
Ek gaan nou poog om vir jou te verduidelik soos ek dit sien:
JOB 28:28 “Daarom het Hy vir die mense gesê: ‘Om vir die Here ontsag te hê, is die werklike wysheid en om met die sonde te breek, is die verstandigste ding wat daar is.’ ”
SPR 9:10 “Om vir die Here ontsag te hê, is die belangrikste deel van verstandigheid; jy het werklik insig wanneer jy die Heilige God ken.”
In ‘n onderhoud wat met Billy Graham, een van die grootste evangeliste van ons tyd, na sy 85ste verjaarsdag gevoer was, het hulle vir hom die volgende vraag gevra:
“As jy jou lewe kan oor hê, sou jy iets verander het op jou lewensweg?”
Sy antwoord was die volgende: “I would pray more and I would study more.”
Die studie waarvan hy gepraat het, was die bestudering van God se Woord.
Geen wonder nie, want God leer ons in Sy Woord:
PSALM 19:8-12
8“Die Here se woord is volmaak en gee ’n mens nuwe krag.
Die Here se aanwysings is absoluut seker en hulle maak onverstandige mense verstandig.
9Wat die Here vir ons voorskryf, is reg, en gee ’n mens vreugde.
Die Here se bevele is duidelik, en laat ’n mens begrip kry.
10Die vereistes wat die Here stel vir aanbidding is suiwer en sal vir altyd bly staan.
Die Here se uitsprake is reg en absoluut regverdig.
11U woorde is meer werd as die kosbaarste goud en soeter as heuning.
12U knegte laat hulle daardeur waarsku, want as ’n mens U woorde onderhou, is daar ’n groot beloning.”
Alle mense kan werklik wys wees, maar die meeste mense is met alles wat hulle het, tog dwaas. Gelukkig is dit so maklik om die werklike wysheid te ontvang:
JHN 1:11-13
11“Selfs in Sy eie land het Sy eie mense Hom (Jesus) nie aanvaar nie.
12Maar almal wat Hom (Jesus) aangeneem en in Hom geglo het, aan hulle het Hy die reg gegee om kinders van God te wees.
13Om ’n kind van God te word, is ’n nuwe geboorte wat God aan ’n mens gee. Daarom verskil dit van die natuurlike geboorte wat kom deur ’n menslike vader en ’n menslike besluit.”
Met dit wat jy nou net gelees het in gedagte, herinner ek jou net weer aan die laaste gedeelte van Spreuke 9 vers 10, want as jy Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, dan ken jy Hom.
SPR 9:10 “jy het werklik insig wanneer jy die Heilige God ken.”
Iemand mag dalk vra: “Nou hoe kan ek die HERE leer ken?”
Dan is die antwoord: Om Jesus Christus aan te neem as jou Verlosser en Saligmaker, en dan Sy Woord te lees en te bestudeer en die Heilige Gees vra om jou te lei daarin.
Groete,
Sakkie
E