WAT KIES JY – ‘N LEWE VAN WROEG OF ‘N LEWE VOL VAN JESUS SE VREDE?

WAT KIES JY – ‘N LEWE VAN WROEG OF ‘N LEWE VOL VAN JESUS SE VREDE?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en noem dat hy nutteloos voel omdat hy nie ‘n inkomste van sy eie het nie en van ander se hulp gebruik moet maak om te leef en hoe moet hy dit geestelik verwerk.

Ek moet net noem, dat die persoon van wie ek hier skryf wonderlike kinders het wat hom help en bystaan.

Ek deel graag my antwoord aan die persoon met jou.

Die vraag kom by my op:
Voel jy as kind van ons Here dalk minderwaardig of dat jy nutteloos is, omdat ander jou help?
Dan moet jy werklik daaraan werk.
Dit grens, en ek wil nou nie dit sterk uitdruk nie, so ek sal maar sê, dan is jy net so effe ondankbaar vir wat ons Here vir jou doen.
Ek kan verstaan, dat jy nou wil nutteloos, of dan nikswerd voel, as jy eens voorheen in ‘n ander, byvoorbeeld senior  posisie was – maar hoe seën ons Here jou nie, dat jy kinders het wat jou help.

Ek luister nou so ‘n tyd gelede oor RSG na ‘n vrou in Krugersdorp.
Sy het ‘n kroniese toestand, wat maak dat sy nie lank kan staan nie.
Haar kind is in Australië en haar man het haar gelos en sy weet nie eens waar hy is nie en sy moet nou op ‘n hoek van ‘n straat in Krugersdorp staan en bedel en hoop sy kry deur die maand genoeg geld om vir haar kamer, waar sy woon te betaal, asook die duur medisyne wat sy moet gebruik, anders het sy soveel pyn dat sy nie kan loop nie, wat nog te sê, staan en bedel.  Dan praat ek nie eens van haar kos en ander daaglikse behoeftes nie en tog het ek ‘n dankbaarheid in haar stem gehoor, vir elke aalmoes wat na haar uitgesteek word.

Ek noem nou vir jou so iets van my eie persoonlike omstandighede, gedagtig dat ek fisies blind is.  Net om te sê.  Lees gerus verder, want ek weet waarvan ek praat, ek was daar en wat my oë aanbetref, is ek nog steeds daar.

Toe ek my sig, dit wat ek nog gehad het, vinnig in 1978 begin verloor het, toe ek melanoom kanker in 1997 gekry het, toe my vrou in 2012, nadat ek dit al vir 2 jaar gesien het, met dementia gediagnoseer is, toe sy in 2019 na 7 verskriklike jare daaraan oorlede is, moes ek elke keer ‘n besluit neem:

Ek gaan of tot my eie vernietiging myself oorgee tot ‘n lewe van wroeg – 
Óf ek gaan my GOD vasgryp en Sy vrede neem wat Hy my gee:

Ek het die grootse groot voorreg om in ‘n woonstel te woon wat my dogter en skoonseun vir my gekoop het en by dit alles betaal hulle nog ‘n deel van my elektrisiteit ook en my dogter kom gereeld en bring vir my heerlike verrassings om my omstandighede nog meer gemaklik vir my te maak.

As ek bid, dan bid ek volgens die voorskrif wat ons in die gebed gekry het wat Jesus ons gegee het en as ek by die gedeelte kom van:
“Gee ons vandag ons daaglikse brood.”
Dan doen ek presies dit.
Ek vra ons Here vir daardie dag se daaglikse versorging maar dan dank ek Hom net daarna, dat Hy vir my so oorvloedig deur my kinders seën.
Ek sê dan baie vir Hom:
“Here ek drink uit die piering van my beker, want my beker loop oor.”

Dit sal mos nou verskriklik ondankbaar van my wees, as ek liewer vir Hom iets soos die volgende sou sê:
“Here, ek is Jou kind, waarom help jy my nie dat ek vir myself kan sorg nie -maar nou laat Jy dat my kinders vir my moet sorg.  Dit is mos nie reg nie?”

Nee, ek kyk na my lewe en ek weet, dit is hoe ons Here dinge vir my laat uitdraai het.  Ek het nie ‘n sê in die saak gehad nie.  So, ek aanvaar net met groot dankbaarheid, dit wat ons Here vir my doen en ek onthou:
“Here baie dankie vir my daaglikse versorging.  Ek drink uit my piering, want my beker loop oor.”

Volg as kind van ons Here hierdie raad en die lewe raak weer ‘n fees.

Aanvaar in dankbaarheid dit waarmee ons Here jou seën en maak vrede met hoe jou omstandighede op die oomblik is, waaraan jy nou niks kan doen nie en jy sal vrede in jou  hart hê.

Glo my dit werk – ek weet.  Ek was daar en ek is nou nog steeds wat byvoorbeeld my sig aanbetref, nog steeds daar.

JHN 14:27  Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.

JHN 16:33  Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.

Hier sit ek en terwyl ek aan jou skryf, kan ek van een heerlike groot waarheid getuig:
My lewe is ‘n fees, want ek hou en bewaar hierdie kosbare vrede wat Jesus my gegee het.
Hoe begeer ek, dat jy dit ook in jou gees sal ervaar.

Soms is ons so vasgevang in ons omstandighede en sommige van ons word so vasgedraai in die net van ons omstandighede, dat ons – en dit geld natuurlik vir ons as kinders van ons Here – net nie in die gees kan opkyk en sien, dat Jesus staan by ons met Sy vrede soos ‘n groot doek in Sy hande, gereed om ons in Sy vrede toe te vou, as ons maar net wil  ophou met spook en spartel met ons omstandighede – dat Hy ‘n kans kan kry om ons in daardie doek van goddelike vrede en oorgawe toe te vou.

As jy nou dalk dink, dat dit wat ek hier verkondig nie ‘n Bybelse beginsel is nie, deel ek net gou met jou ‘n gedeelte uit my groot held Paulus se lewe.
Hy was ‘n man van  naam voordat hy Jesus aangeneem het as sy Verlosser en Saligmaker en het in die hoogste godsdienstige kringe beweeg.

HAN 22:2-5 
2 En toe hulle hoor dat hy (dit is Paulus) hulle in die Hebreeuse taal toespreek, was hulle nog stiller. En hy sê:
3  Ek is ‘n Jood, gebore in Tarsus in Cilícië, maar opgevoed in hierdie stad aan die voete van Gamáliël, streng ooreenkomstig die voorvaderlike wet, ‘n yweraar vir God soos julle almal vandag is.
4  Hierdie Weg het ek vervolg tot die dood toe, en manne en ook vroue geboei en in gevangenisse oorgegee,
5  soos ook die hoëpriester en die hele raad van ouderlinge my getuies is. (dit is die kringe waar in hy beweeg het) Van hulle het ek ook briewe ontvang en na die broeders in Damaskus gegaan om ook die wat daar was, geboeid na Jerusalem te bring, sodat hulle gestraf kon word.

Hy het in die hoogste godsdienstige kring beweeg, soos wat jy nou net gelees het en op ‘n ander plek getuig hyself in hierdie verband:

GAL 1:13  Want julle het gehoor van my lewenswandel vroeër in die Jodedom, dat ek die gemeente van God uitermate vervolg en dit verwoes het;
GAL 1:14  en dat ek in die Jodedom vooruitgegaan het bo baie van my leeftyd onder my stamgenote, terwyl ek veral ‘n yweraar was vir die oorleweringe van my voorvaders.

Toe egter, nie deur sy eie toedoen nie, verander hierdie man se omstandighede en hierdie man wie in die hoë godsdienstige kringe uitgestaan het en baie aansien gehad het en soos jy gelees het, selfs vrylik toegang tot die hoogste mense in die godsdienstige opset van daardie tyd gehad het, skryf by geleentheid vol nederige dankbaarheid:

FIL 4:15-18 
15 En julle, Filippense, weet ook dat in die begin van die evangelie, toe ek van Macedónië vertrek het, geen gemeente deel gehad het in my rekening van uitgawe en inkomste nie, behalwe julle alleen.
16  Want ook in Thessaloníka het julle vir my behoefte meer as een maal iets gestuur.
17  Nie dat ek die gawe soek nie, maar ek soek die vrug wat oorvloedig word op julle rekening.
18  Maar ek het alles ontvang, en ek het oorvloed. Ek het dit volop noudat ek van Epafrodítus ontvang het wat deur julle gestuur is, ‘n lieflike geur, ‘n welgevallige offer, welbehaaglik by God.

Miskien verwyt jy jouself oor verkeerde keuses en besluite in die verlede.  Wanneer ons egter alles by die voete van Jesus sit en eerlik met Hom daaroor gesels, verkry ons die Vrede wat alle verstand te bowe gaan. Dan lees ons in Sy Woord dat Hy ons skuld en klagstaat uitgevee en van ons weggevat het :

KOL 2:14 Hy het die dokument met voorskrifte wat as klagstaat teen ons gedien het, uitgevee en dit van ons af weggevat deur dit aan die kruis vas te spyker.

ROM 8:1  Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem.

1 JOH 2:1 .. Ons het ‘n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige.

So, as jy ooit vanweë jou omstandighede minderwaardig of nikswerd voel oor jou omstandighede of wat ook al wat ver buite jou toedoen is en al was dit selfs deur jou eie toedoen –
Onthou dan, dat jy ‘n kind van ons Here is.  Jy,  vir wie hy baie duur op Golgota vir homself gekoop het en dan onthou by dit alles wat jy nou gelees het ook, dat as jy Hom die geleentheid gee:

FIL 4:7  En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Ek laat jou wie tot hier gelees het dan met hierdie wonderlike seënwense uit ons Here se kosbare Woord:

2THS 3:16  En mag Hy, die Here van die vrede, julle altyd vrede gee op allerlei wyse! Mag die Here met julle almal wees! (Spesiaal jy wat vandag hierdie skrywe gelees het.)

Groete,
Sakkie